Tuesday, July 28, 2009

Vuurmaak en braai

Gister se onthou van vure het my nou aan iets anders laat dink. Mense gaan deesdae vreeslik ligtelik om met die konsep van vuurmaak en braai. So kom ons lê die reёls neer eerstens van wat tel as vuurmaak en tweedens wat tel as braai.

Vuurmaak se reёls is eenvoudig, vir iets om te tel as 'n vuur, moet daar vlamme wees, en nie net die vlam van die ding wat gebruik is om die storie mee aan te steek nie, die vlamme van blitz en gaspype tel nie as vlamme nie. As jy 'n stuk blitz onder charcoal druk, die spulletjie aansteek en dis hoe jy braai, dan mag jy nie saampraat as mense praat oor vuurmaak nie, enige aap kan blitz aan die brand kry en daai 3 vlammetjies wat charcoal maak tel nie as vlamme nie, uit en gedaan. As jy op 'n plek bly waar jy geen ordentlike hout kan kry nie, maak 'n vuur van enige hout en gooi charcoal later by, dis aanvaarbaar, of maak soos die Vrystaters en maak vuur met droё mieliestronke, maar maak vuur of hou jou bek. As vriend Karl sy sin kry, dan tel 'n vuur net as 'n vuur as jy 'n dop in die hand gehad het toe jy dit aangesteek het, maar ons gaan nie so streng wees vandag nie.


Oor hout word baie gestry, die Transvalers het geen erg aan ons Kaapse rooikrans en wingerd stompies nie, maar dis ten minste "groen" om dit te gebruik, want die rooikrans is onkruid en die wingerd was nie meer goed vir wyn maak nie. Uit Namibië en die bosveld kom verskillende doringhout, dit maak nie sulke groot vlamme soos die sagter rooikrans nie, maar die kole is warm en hou lank. Daar is ook nog Black Wattle en ander goed hier in die Kaap, met die Wattle kan jy braai as jy lekker dik stukke het, maar bloekom en dies meer is vir kaggels. Die Bosvelders en Namibiërs gaan my seker op die vingers tik oor al hulle hout wat ek uit gelaat het, maar in die Kaap is al daai hardehout doringhout. Soos reeds gesê, as jy met mieliestronke moet braai, dan is dit goed so. Watter hout hulle in Natal gebruik vir vuurmaak weet ek nie, die Vrystaters sal seker se mieliestronke, aangesien hulle rugbyspan gewoonlik soos 'n Greys reunie lyk. My persoonlike voorkeur is rooikrans vir skaap en hoender, wingerdstompies vir vis en hardehout vir steak, maar dis net 'n persoonlike voorkeur, solank dit vlamme en kole maak, sal ek op dit braai.

Braai het bietjie meer reёls. Eerstens, om te braai het jy kole nodig, dit sluit dis alle gas en elektriese gedoentes uit. Waar die vertaling van braai restaurant vandaan kom weet ek nie, maar as daar nie kole is nie, dan is dit nie 'n braai nie. Luister nou mooi, die is nie 'n demokrasie nie, dis die reёls, jy braai oor kole, dis dit. Tweedens, die enigste ding tussen jou kole en die vleis/vis/hoender is jou rooster, 'n soliede plaat is nie 'n rooster nie, dis bak op die vuur. As jy tinfoil om jou vis moet sit as jy "braai" dan is dit reg, ons almal moet met ons tekortkomeninge saam leef, as jy nie kan vis braai nie, dan moet jy daarmee ook saamleef, maar vis in tinfoil op die vuur is bak op die kole, dis nie braai nie. Braai sonder 'n kantvuur is soos braai sonder 'n glas wyn, dis moontlik maar heeltemal onnodig. Een tammeletjie is dat jy kan kole hê sonder om vuur gemaak as jy charcoal gebruik het, so moet dit nie 'n vereiste wees om vuur te gemaak het nie, voor jy kan sê jy het gebraai nie. Ek dink is so belangrik dat 'n nasionale referendum hieroor uitgeroep behoort te word, tot dan moet julle charcoalers die woord braai versigtig gebruik.


Vir 'n iewat krasser stel reёls vir 'n boerebraai, gaan na http://www.scribd.com/doc/17652404/Boerebraai


Lekker eet


Potjie



No comments:

Post a Comment