Sunday, July 26, 2009

Rondom die Vuur

Vrydag 24 Julie 2009 stuur my vriend daar uit Gauteng vir my 'n artikel wat in die beeld gepubliseer is. Lees die artikel hieronder. Vuur was die begin van kos kook, voor dit kon mense dalk kos maak, maar nie kook nie, want jy het hitte nodig om te kook. Hier by ons word daagliks nog kos gekook of gebraai met behulp van vuur, sommige doen dit omdat dit die enigste bron van energie tot hulle beskikking is, ander omdat bloot ons 'n nasie van braaiers is. Onthou nou net, om blitz onder 'n klomp charcoal te druk is nie vuurmaak nie, ek besluit nog of dit braai genoem mag word, braai op 'n gasbraai is nie braai nie, as jy nie hout het nie, maak soos die Vrystaters en kry droё mieliestronke, ten minste brand die goed, dit smeul nie net nie. Maar ons sal 'n ander dag praat hieroor, die artikel het my laat dink aan vure wat ek in my lewe kan onthou.

My vroegste herhinnering aan vuur is Desember by Swartvlei langs die see saam met my pa, ek was nog 'n klein laaitie, maar saam gaan visvang deur die nag wou ek met alle mag. Ek onthou hoe ons allerande hout opgetel het langs die see en in die duine om vuur te maak, onderandere 'n stuk hout dik van die teer, dit het gestink maar het heelnag gesorg dat die vuur brand, laataand of miskien vroeg oggend na ek 2 of 3 kolstertjies gevang het, het ek myself langs die vuur op gekrul en salig aan die slaap geword, teerpaal en al. Op die einste Swartvlei sou ek gedurende 'n ander vakansie my liederlik verbrand, toe ek petrol gebruik het om 'n vuur te probeer aan die brand kry, om allikreukels op gaar te maak, al wat gaar was, was my kuit en my nefies se agterstewe wat gehelp het, ek moes inderhaas dokter toe, so ek het daai pak slae gemis, maar glo my, dit was die enigste een wat ek ooit gemis het.

Kort na ek in die Transvaal aangekom het, het ek saam met 'n paar manne van die werk gaan visvang by Bronkhorstspruit, ek het gelag vir die manne wat wegloop van hulle visstokke af, en die nag en in tente gaan slaap. Ek het by die vuur geslaap, ek moet bieg ek het my bietjie misgis met die Hoёveld se koue, ek het in die vroeё oggend ure wakker geword, spierwit geryp, die sonnetjie het net begin kop uitsteek. Ek het die vuur weer aan die gang gekry en vir my 'n beker koffie gemaak, en daar op my eie die sonsopkoms gesit en kyk, en vir die eerste keer was die Hoёveld vir my mooi.

Die eerste jaar wat ek terug was in die Kaap na 10 jaar in die Transvaal, het ek en vriende die Desember vakansie die Outeniqua staproete gedoen. By elke oornat hut, was hope vuur maak hout en die oornag hutte is ou bosbou huise, vir iemand wie beide se ouers van die wêreld af kom en beide hulle pa's het vir bosbou gewerk, was elke aand langs daai vure gevul met vrolike geeste van my voorouers.


Vure saam met my vriend Karl is te veel om te noem, maar een wat uitstaan is 'n vuur in die weskus mis reёn in die Weskus Nasionale Park een September. Ons het die twee dae Postberg staproete gedoen wat net gedurende die blomme seisoen oop is, die heeldag het die son hard probeer om kop uit te steek, maar hier by 5 uur moed opgegee en die reёn het saggies begin val, maar dit kon ons nie weerhou om 'n vuur te maak en heerlik te braai nie, en elke man het 'n spesiale bottel rooiwyn uit sy sak gehaal, spesiaal gebêre vir die aand.


Ek onthou van 'n groot vuur in 'n klein rondawel wat ek heelnag gestook het, bottels rooiwyn en liefde en daai vuur....


Dankie Annemarie Marais, dat jy my laat onthou het.

'n Vuur Teen Die Koue Verlange





Lekker eet

Potjie

No comments:

Post a Comment