Wednesday, September 29, 2010

Ryp en reg om te eet

Terwyl ek so in die middag verkeer sit en sukkel oppad Fruit and Veg toe hoor ek op die radio nuus van 'n man wat in 'n padwoede voorval iemand met 'n sambok geslaan het, net toe ry ek verby 'n straat smous wat sambokke verkoop, en ek dink by myself, ek moet nie so ding koop nie, want so geirriteerd as wat ek nou is kan ek dalk net iemand slaan as ek 'n sambok in my kar het.

By Fruit and Veg loop ek reguit na die "Ripe and ready to eat" avo's toe, tussen vandag en die laaste keer wat ek avos gekoop het, het mense blykbaar begin klipharde groen avo's eet, ek begin toe weer dink aan daai sambok, veral toe die bestuurder my 'n lang slap k_k storie vertel, toe haal ek diep asem, wens weer ek het daai sambok gekoop, en toe gaan koop ek maar 4 ooryp en lankal gereed avos by Checkers net om die hoek.

Om te sien wat ek met daai avo's aangevang het, gaan loer in by What's Cooking.

Lekker eet
Potjie


Tuesday, September 28, 2010

Braai aartappels

Gewoonlik is die oond die eerste ding wat aangesit word as mens braai aartappels maak, maar vir die braai aartappel gaan die oond glad nie aangesit word nie, dit gaan regtig gebraai word.









Kook 'n paar lekker groot aartappel tot net gaar, sny in die helfte deur en laat afkoel en droog af. Spuit olyf olie oor die aartappels (Woolies verkoop so olyf olie spuitjie) en maal Khoisan see sout oor die aartappel en braai dan oor kole, ja soos in regtig braai, tot die aartappel lekker bros is, maar moenie brand nie.

Bedien saam met 'n lekker T-been biefstuk, en 'n glas of twee rooiwyn.

Lekker eet
Potjie

Monday, September 20, 2010

Gebraaide Baba Hoenders (Poussin)

Vandag is ons terug by kos, terwyl ek nog een of twee lesers oor het sal ek maar die politiek en ander diep dinge uitlos, en my by kos en wyn bepaal, so gooi vir jouself 'n wyntjie, steek die vuur op en laat ons begin met daai baba hoendertjies, een per person.

Sny die hoendertjies op die borsbeen (dis die kant tenoorgesteld van waar die stuitjie is) in die middel deur, en maak hom lyk soos die hoenders wat hulle in die winkel spatchcock noem.


Vir die klein hoendertjies gebruik ek geen marinade nie, net sout en peper en 'n bietjie suurlemoen sap, en braai maar hoog bo die kole, en logika behoort jou te vertel dat die outjie net die helfte of minder van 'n groot hoender is, so hy gaan helfte of minder tyd vat om gaar te word.

Aangesien die outjies maar min tyd gehad het om mielies te eet, maak ons sommer mielies gaar om saam met hulle te geniet, en aangesien geen braai 'n braai is sonder 'n braaibroodjie nie, braai ons 'n broodjie. En nee, ons gaan nie vanaand stry oor die beste braai broodjie nie, vanaand laat ons die stryery vir die politici en ander goor mense, kom ons maak liewer nog 'n bottel wyn oop en praat oor rugby, wel miskien dan liewer oor braai broodjies, kans vir baklei is minder.

Lekker eet

Potjie

Sunday, September 19, 2010

Wat praat jy?

Na meer as 'n week is ek terug in blogland, om blog vakansie te vat as jy blog genomineer is as een van die 10 bestes in een of ander kategorie hier kort voor die finale is seker nie die manier om jou lesers aan te moedig om vir jou te stem nie, maar as jy niks te sê het nie, dan sê die meeste mans niks nie, ek ken een of twee wat ongelukkig baie te sê het oor goed wat hulle niks van weet nie, maar kom ons los daai gesprek maar vir 'n ander dag.

Ek is al gekritiseer as ek oor ander goed as kos hier skryf, maar die idée was nooit dat die 'n Afrikaanse resepte boek sou wees nie, oor die meeste van my gedagtes oor kos en drank gaan, skryf ek die meeste van die tyd oor kos, maar die blog gaan meer oor dinge wat ons rondom die etenstafel oor praat, my Calvinistiese opvoeding behoort my te verhoed om oor godsdiens of politiek te praat rondom die etenstafel, o ja en oor seks, wel oor seks word eintlik rondom geen tafel gepraat nie, oor godsdiens word gepraat, maar nooit geredeneer nie, wat in die bybel staan is nie oop vir interpetasie nie, jy glo of jy gaan hel toe, so eenvoudig soos dit, ek praat nou van glo woord vir woord, en om eerlik te wees, daar is 'n paar goed wat nogal lekker gestry oor kan word, maar dis hier waar ek nou eers godsdiens langs die tafel gaan laat.


Politiek is 'n ander tameletjie, deesdae kan jy niemand vind wat vir die Nasionale Party gestem het nie, toe ek op skool was, was almal wat nie vir hulle gestem het nie idiote of kommuniste, ek onthou die storm wat dit ontketen het in die familie toe ek die voorganger van die DA die Onafhanklike Party of kanidate ondersteun het, landsverraaier was ek, kommunis, rebel en vele meer, maar nie 'n trotse Afrikaner seun nie, ek het alles verraai wat dierbaar is, en nog sonder 'n das in die kerk ook opgedaag, tot verlorenheid verdoem. Deesdae voel dit vir my as jy die ANC kritiseer dan is jy 'n rasis, dis nou as jy wit is, as jy swart is is jy seker soos in die ou dae 'n landsverraaier, in die land van ons kan jy nie wen as jy nie vir die regerende party stem nie, nie voor of na demokrasie nie.


Maar miskien moet ek my maar by kos bepaal, ek weet in elk geval meer daarvan as van politiek of godsdiens, wat nogal 'n vreeslike gedagte is, want ek weet maar redelik min van kos ook af, wat ek wel weet is dat eek meer van chefs as politici hou.


Lekker eet


Potjie



Thursday, September 9, 2010

Lei SA of Ly SA

WAARSKUWING: Wat hier volg het niks met kos te maak nie, as jy van die mening is dat godsdiens en politiek nie om die etenstafel hoort nie, is die volgende waarskynlik ook nie 'n gesprek vir rondom die etenstafel nie.


By hiedie tyd het die meeste mense in SA nou al van die Lei SA veldtog gehoor, en miskien is jy van die mening dat dit soos in die film Pay It Forward hierdie groot ding is wat hierdie groot verskil in SA gaan maak, en in die begin het ek ook gedink dis 'n cool idée, maar by die dag raak ek meer geirriteerd met mense wat radio stasies bel met die goedjies wat hulle vandag gedoen het om SA te help "lei", luister nou mooi, die feit dat jy vanoggend by die stopstraat gestop het wat jy elke oggend "skip" maak nie die wêreld 'n beter plek nie, dis wat jy veronderstel is om te doen, om die waarheid te sê, behoort jy al lankal jou lisensie te verloor het omdat jy elke dag die wet oortree, jy is 'n gewoonte misdadiger, gaan bieg by jou sielkundige of priester, ek stel nie belang nie!


So ok, jy het vandag agter iemand gestaan wat 50c te min gehad het vir wat hulle gekoop het, great toe gee jy vir hulle 'n rand en jy wil nie die kleingeld hê nie, raai wat? die meeste mense wat dit enigsins kan bekostig het dit al gedoen, die feit dat jy dink jy het die wêreld 'n beter plek gemaak, en die wêreld daarvan wil vertel is 'n vreesaanjaande gedagte.


Kom ons wees nou bietjie sinies oor die veldtog, jy doen iets goed, of anders as wat jy elke dag doen, dan SMS jy jou goeie daad teen R3.00 of wat ook al aan een of ander nommer, gewoonlik kos 'n SMS kom ons se 60c, waar gaan die ander R2.40 heen? Na die veldtog se spesiale bankrekening om armoede te verlig? Nee? Ek het nie so gedink nie.


As jy moreoggend voel jy moet die wêreld vertel dat jy die ou tannie oorkant die straat gegroet het dink weer, dis die tipe ding wat normale mense doen, as jy voel dis spesiaal het jy 'n probleem, sorteer jou probleme uit, maar asseblief nie op die radio nie, dis erg genoeg om elke oggend wakker te word met die gedagte dat die Sprinbokke deur 'n nar afgerig word, ek sien nie kans vir jou persoonlike probleme ook nie.


Lekker eet


Potjie

Wednesday, September 8, 2010

Die geheim van ‘n goeie roerbraai.

Vir die wat nie weet nie, roerbraai is wat ons stir-fry noem in die soetste taal, en die geheim van 'n goeie roerbraai het ek een Saterdag oggend by 'n Thaiwanese chef geleer, die geheim is gas. Ja gas, jy gaan nooit die hitte uit jou elektriese stoof kry wat jy nodig het om 'n roerbraai gereg te kry soos hulle dit in die Chinese restaurant maak nie, en dan moet jy ook sommer die gas, gas gee, hitte is wat jy soek, en neem daai roer ernstig op, daar moet beweging wees.










Wanneer jy jou vleis gemarineer het, maak seker dat jy die vleis droog kry voor jy dit in die wok sit, anders gaan jy te veel vog hê, en dan gaan die affere begin kook in plaas van braai.

Laaste maar nie die minste nie, kyk maar daar op BBC food of in die Chinese restaurant, die wok het nie 'n plat bodem nie, dis rond onder, (dit behoort jou klaar te sê, dit hoort nie op 'n elektriese stoof nie.) en dis belangrik, want die vorm sorg dat jy kan roer sonder dat alles terug val na die middel van die wok toe, en vergeet maar van die elektriese wok, daai goed wat aan en afsit soos hulle wil ala 'n braaipan is nie wat jy wat jy wil he as jy 'n ordentlike roerbraai gereg wil hê nie.


So steek aan daai gas brander, haal uit die soya sous en vis olie, skil uie en sny groenrissies in repe, en roer.


Lekker eet

Potjie

Tuesday, September 7, 2010

So Kaap’s soos snoek

Van Constansia to Mitchelsplein, van Houtbaai tot Kraaifontein en orals tussen in is daar een ding wat een of ander tyd op ons almal se tafel beland, ongeag van taal, geloof of ras, as jy in die Kaap woon gaan jy jou een of ander tyd in 'n snoek vasloop.

Die Maleiers het vir ons smoorsnoek gegee, op die Kaapse vlakte is gebakte snoek gewilder as die hake en chips elders, en dan is daar die snoek braai, om te konfyt of nie te konfyt nie is die groot vraag, as jy my vra gaan snoek en appelkoos konfyt saam soos Piet en Griet, soos Kerrie en rys, soos biltong saam met rugby, julle kry die idée…

Dan is daar natuurlik nog gerookte snoek, eet hom net so, of bak viskoekies, of nog beter wat van 'n gerookte snoek pate. Moenie sout snoek vergeet nie, of snoek biltong, maar sorg dat jy iets te drinke het as jy daaraan gaan peusel, daai sout maak dors.

As jy die vrye mark stelsel in al sy glorie wil sien werk, hou die snoek bote en bakkies dop, baie snoek = goedkoop snoek, min snoek = duur snoek, as die snoek begin skaars word kan jy maar baklei soos jy wil, maar betaal gaan jy betaal, hulle weet daai paar snoeke sal verkoop, maar as die snoek bakkies sulke rye langs die pad staan kan jy maar begin onderhandel oor die prys, en kyk na die kiewe, as dit soos ou bloed lyk is dit hoekal gister se snoek, druk jou vinger in die vleis van die snoek as hy klaar gevlek is, as jou vingermerk soos 'n groot gat daar bly sit, sê hulle maar wat hulle kan doen met daai snoek, hy's pap my ou maat, hoe hy pap gekom het weet ek nie, en niemand is blykbaar seker hieroor nie, maar sleg so pap snoek, dit kan ek jou vertel.

Vir 'n paar idees met gerookte snoek sien my Engelse blog, en onthou om te stem vir die blog as die beste "indigenous language blog"



Lekker eet
Potjie

Monday, September 6, 2010

Die somer kom aangewaai

Dit mag dalk nie so voel in die Kaap nie, maar vandag het die somer sy koms aangekondig, die temperatuur mag dalk nog effens onder 20 wees, die snoek bakkies bring nog groot snoek in, sondag nag het daar selfs 'n paar druppel reen geval, maar wanneer die sedoos, of ook bekend as die suid oos waai soos hy vandag gewaai het is die somer net om die draai.





Wanneer die koue jou dus in die volgende week of twee oorval, kook maar daai bredie of kerrie, dis dalk jou laaste kans, want die suidoos is besig om die somer aan te jaag, nie te ver in die toekoms le daar 30 grade dae, dae vol koue witwyn en visbraai, sonsondergange na ag en rose wyn.


Lekker eet
Potjie

Sunday, September 5, 2010

Dis 'n wok Wilemina dis 'n wok, is dit nie 'n wok nie

As 'n man wil kosmaak vir 'n klomp mense moet jy sorg dat jy die gereedskap het vir die tiepe van ding, braai vir 'n spul mense is maklik, sit nog roosters by, maar Chinese is 'n ander tiepe van ding, jy kan nie 3 of 4 woks gelyktydig bemeester nie, al probeer jy hoe hard, erens gaan die paw-paw die fan strike, so kry nuwe speel goed, 'n groot wok, en sommer 'n gas brander spesiaal vir daai wok

Die ding van so groot wok is dat 'n man bietjie belaglik kan lyk as jy daarin kook vir 4 of 5 mense, maar man moet sy nuwe speelgoed uit toets, so selfs al het ek net 5 eters bymekaar gekry, het ek die soya en gemmer laat meng met die knoffel en chilies.


Lekker eet

Potjie

Thursday, September 2, 2010

Bees Carpaccio

Carpaccio is een van daai geregte wat ons gewoonlik in 'n restaurant bestel maar nooit self maak nie, en hoekom nie, dis eintlik tog net rou vleis, die groot probleem is die dun sny, maar nou die aand hou ek die ten volle geklede naked shef dop, en hy maak toe min of meer so.


Soos met enige vleis, eintlik enige kos, koop die beste kwaliteit wat jy kan kry, vir die bees carpaccio 'n stukkie fillet, met 300g kan jy 'n voorgereg vir 4 mense maak.


Maal growwe swart peper op 'n blad, en dan sout, rol die fillet in die sout en peper mengsel tot dit die hele fillet bedek het.


Maak 'n pan (hierdie teflon pannetjies werk goed) lekker warm, spuit met spray-and-cook en braai die fillet tot lekker bruin in al die kante, haal uit die pan, laat rus vir so 5 minute. Bedek die fillet met "clingwrap" en sit in die frieskas vir so uur om die vleis lekker ferm te kry. Sny die fillet met 'n skerp mes so dun as moontlik, maar dis nie nodig om 'n elektriese snyer te gebruik nie, dit is mons nou eintlik net 'n medium tot rou steak. Pak in 'n bord en sprinkel 'n goeie kwaliteit olyf olie en balsamiese asyn bo oor, maal bietjie swart peper en sout bo oor, bedien met roket blare.


Lekker eet
Potjie.

Wednesday, September 1, 2010

En die wenner is

Robin van Graan




Geluk aan Robin van Graan wat die naweek by die Cascades @ Club Mykonos gewen het.


Potjie