Friday, January 29, 2010

Die Boer, die Kerrie en die Gatskop blond

So paar maande terug het het hier gal gebraak oor ek nie kon reg kom met Woolies oor Italiaanse visaftreksel nie, toe bel my friend met die skewe blessie en sê my "ag nee man, ek lees jou bleddie blog vir plesier, nie om na 'n gesanik te luister nie", so as die blog begin klink na 'n gesanik, druk deur dit raak beter.

Ek was baie lank terug by Die Boer, Margiet (Dowwe Dola) en haar man se restaurant/teater in Durbanville, die laaste keer seker 'n goeie 4 jaar terug en voor dit so twee keer, een keer het ons Valiant Swart gaan kyk, een keer Koos Kombuis en die ander keer kan ek nie onthou nie, moes maar 'n redelike vergeetlike show gewees het, die ander 2 was great.

Wat ek egter van al drie die vorige shows onthou het was die kos, vir al die verkeerde redes, ek het elke keer daar uitgestap terleurgesteld in die kos, die kos op daai drie geleendhede het gewissel van smaakloos tot baie gemiddeld, so toe my vrou vroeër die week sê ons gaan boer to was ek maar redelik skepties, maar die kulturele hongerte moet ook gestil word, so Boer toe is ons. Ek het "Butter Chicken" bestel, en raai wat? Dit was heerlik!, my enigste klagte is hoekom het 'n plek met die naam Die Boer, 'n gereg "Butter Chicken" noem, maar die heerlike sagte hoender fillette in so rooi Indiese sous saam met Basmati rys was heerlik, dankie tog hulle het uiteindelik 'n shef wat kan kook. Ek plaas onder aan die blog 'n resep wat ek by http://www.proudlyindian.co.za/ "geleen" het, net so in die rooi taal, ek is hopeloos te lui om dit te vertaal vandag, die Boer was seker ook.

Nou die show, dit was 'n jong blond – sy het met 'n Annelie van Rooien nommertjie gedoen wat Janis Joplin met Kris Kristofferson se songs gedoen het, sy het dit gerock, en kan die girl rock. Deur die loop van die aand was sy behalwe haarself ook Laura Branigan, Claire Johnston, Jonny Glegg, Abba en Brenda Fassie, sy is die Gatskop Blond, sy is Andriette Norman. Whow wat 'n show!

Vir die van julle wat nie weet wat Janis met Kris se songs gedoen het nie, luister hier onder.



Hier is die resep soos belowe.

Indian Chicken Recipe : Butter Chicken

Ingredients :
1 whole chicken
2 tomatoes puree in a blender
2 onions, chopped
1 tbsp ginger-garlic paste
15 cashew nuts paste
1 ½ tbsp butter
3 tbsp cream
1 tsp chilli powder
Oil for frying
salt to taste

For the marinade :
1 tbsp tandoori masala
½ tbsp garam masala (cloves, cinnamon and cardamom powdered)
2 tbsp lime juice
½ tsp jeera
5 tbsp yoghurt

Method :
Marinate the chicken in the marinade for 1 whole hour.
Heat oil in a non-stick pan and fry the chicken for 10 minutes.
Remove the chicken and keep aside.
In the remaining oil fry add the chopped onions till golden , then add the
ginger-garlic paste and fry sprinkling little water now and then, till the
oil separates.
Add the cashew paste, chilli powder, tomato paste and cook for 10 mins.
Add the butter and the cream and the chicken.
Mix well and cook till done.
Garnish with coriander.

Submited By SU

Lekker eet

Potjie

Thursday, January 28, 2010

Die manne en vroue op die TV

Nou die aand lê en kyk (ja ok staar) ek vir Nigella terwyl sy gekrummelde varktjops maak, my vriend Karl sê as jy 'n tjop so moer is dit 'n snitchel en nie meer 'n tjop nie, maar in alle geval, sy braai die gekrummelde tjop/schnitchel dat daai krummels sommer lekker swart is. Nie lank daarna nie kyk ek vir Jamie Oliver, en hy braai sosaties of iets, maar daai sosaties is pikswart gebrand, nog lekker rooi binne, maar pikswart buite, en ek dink by myself ja-nee, dis nou tipies soutie, hulle wil braai, maar self die celebrity chefs kan nie braai nie.


Nou dink ek by myself, as ek so bietjie werk aan die maag, en so ligte make-over kry kan ek dalk ook begin kook op die TV, en nou dat ek daaraan dink, hulle steek maar lekker Nigella se heupe weg op die TV (daai botter en suiker moet êrens gaan sit) so as ek haar kamera man kan kry sal ek ok wees, en daai manne met die welige baarde op die bike's is darm self nie oil paintings nie, so pasop Jamie, as ek begin braai op TV gaan ek gatskop, nou met ek nog net met die director slaap vir 'n TV show (dis bietjie van 'n problem). Ek belowe op my ere woord om nie verbrande kos op TV te maak nie.

Vriend Karl se variasie op my nie verbrande gekrummelde varktjops is as volg.


"Koop n lekker paar dik choppe (so duim dik) en hou die bene aan. Gaan deur jou proses met eier en goed. Bruin stadig in bietjie avo olie in pan tot goudbruin, plaas dan in oond met deksel teen 160 vir so 35-40 minute.Moet geeet word met mash en baked beans"


Van die ou Johannesburg toe getrek vertel hy skielik waarmee vleis saam geëet word, in plaas van ons te vertel wat hy daarmee saam drink! Ag nee man, dan drink ons maar wat ons het.


Lekker eet


Potjie





Wednesday, January 27, 2010

‘n Rekkie vir die braai

Daar is twee goed waarvan my swaer Marius nooit beskuldig sal word nie. Die eerste ding is dat hy sy gaste te vroeg laat eet, en die ander is dat hy hulle honger gaan laat slaap nie, dis nou behalwe die wat moed opgegee het dat hy wel gaan braai. Kyk die man hou van vuurmaak, ek glo nie hy was al ooit in 'n panarie met te min kole hê nie, ons moes al lank wag om koel genoeg kole te he waarop ons vis kon braai, maar te min kole aikona.

Vrouens het hierdie aaklike gewoonte om mans aan te jaag wat vleisbraai, en dis mans wat sleg beplan wat vrouens die idée gegee het dat 'n braai gouer kan gaan. Wanneer vrouens sien dat daar wel gebraai word, is hulle nog soort van gelukkig om laat te eet, maar mans wat nie tot braai kom nie, daaraan het hulle 'n afsku.

Nou sien die geheim lê daarin om vroeg te begin braai, maar 'n verskeidenheid van vleise te hê om te braai, sodat jy 'n verskoning kan hê hoekom jy so lank braai, want geen man wat resepek het vir kos sal vark en skaap en hoender en wors op een rooster braai nie, nee elkeen het individuele aandag nodig. Dan is daar die bak wat eenkant staan, die rekkie (soos in ons rek die braai langer uit) dit is die vleis wat jy opsit as vroulief jou uitvang dat daar niks meer op die kole is nie, maar jy bring nie die kos in nie, wanneer dit gebeur sit jy die vleis in die "rekkie" bakkie op die kole, en dan maak jy klaar, wanneer jy dit tot hier uitgerek het, dan is die ys dun. Swaer Marius het die rekkie metode na hy dit ontwerp het ook vervolmaak.

Nou kyk, as jy nie kan braai nie, moet dan nie die rekkie metode gebruik nie, dit kos fyn beplanning, jy wil nie die mense droë kos gee nie, so as jy so voor jou geestesoog gesien het hoe jy begin met steak, en dan die hoender gebruik vir 'n rekkie, dan is die metode nie vir jou nie, jy gaan verseker die kos opmors, jy laat nie steak in 'n bak vir ure lê na jy dit gebraai het nie, 'n paar minute sê rus is al, jy maak so met steak.

Smeer met olyfolie, maal growwe peper mildelik oor albei kante van die steak en braai oor warm kole tot die gaarheid wat jy dit wil hê, maar na medium kom verbrand. Elkeen kan sy eie vars sout op die steak gooi, die braaier het niks uit te waai met ander se sout gewoontes nie, maar dit geld net vir steak. Daar by die universiteit se Afrikaanse fakulteit noem hulle steak biefstuk, as julle dalk gewonder het.

Ek het nog net die rekkie metode by ander mense aanskou, ekself sal nooit my vrou deur sulke foltering sit nie.

Lekker eet

Potjie



Tuesday, January 26, 2010

Harders braai die Weskus manier

Mense sal jou baie goed vertel, jy sal selfs mense kry wat jou vertel om harders op te stop met uie en allerande vreemde goed, moenie sulke mense vertrou nie, hulle sal jou ander leuens ook vertel.

Vir harder braai het jy net 3 nee 4 goed nodig, hout,growwe sout, harders en soetwyn, dis dit, niks meer is nodig nie, so gebraaide harder is so lip lek lekker, dat jy nie eers vriende nodig het om dit mee te deel nie, maar as jy nou wel 'n paar vriende daar rondom die vuur het, sal dit ook nie skade doen nie.


Gooi die harders (verkieslik skoon pens harders, jy hoef nie hulle pensies oop te sny nie) dik van die growwe sout, maak vuur (in die volgorde, moet nou nie begin jaag nie) krap vir jou kole een kan toe, gooi vir jou 'n glas soetwyn, en wag tot die kole genoegsaam afgekoel het vir visbraai. Pak jou harders op 'n toeknyp rooster en braai stadig oor die koel kole. Pieter Pieterse het gesê as jy nou op jou senuwees raak dat die kole nie die vis gaan gaar kry nie, gooi vir jou nog 'n dop om jou senuwees te kalmeer. As jou kole koel genoeg is gaan jy waarskynlik so 20 minute braai, vinniger as dit en jy het gejaag, man jaag nie met Weskus kos nie. Vye konfyt op 'n potbroodjie pas soos Piet op Griet by harders, korrel konfyt werk ook (sommige oningeligdes noem dit druiwe konfyt). As jy die harders klaar geëet het behoort jou mond rondom te blink van die vet, en jou oë te glinster van die lekkerte. Die soetwyn drinkery is omdat ons besig is met ontbyt hier, harders kan ook vir middag en aandete gebraai word, drink dan maar wat jy wil, maar 'n hanepootjie sal dan ook werk


Net om alle onduidelikheid uit die weg te ruim. Bokkems word (gewoonlik) van harders gemaak, hulle word gesout en winddroog gemaak, ander vis kan ook gebruik word, soos steentjie byvoorbeeld, maar harders is wat gewoonlik gebruik word, maar let wel, 'n bokkem is nie 'n klein harder soos sommige mense beweer nie, maak nie saak of hy groot of klein is nie, as hy gesout en gedroog is, is hy 'n bokkem, mense wat jou vertel 'n bokkem is noodwendig 'n klein harder, kan harders met uie stop. En laaste ding, ek het niks teen uie in vis nie, maar los maar die harders, sommige dinge moet immers bly soos dit altyd was, al is dit net ter wille van soetwyn drink saam met harders.


Lekker eet


Potjie



Monday, January 25, 2010

Om te braai by jou vrou se vriende

Daar is my vriende, dan is daar haar vriende, en daar is ons vriende, by my en ons vriende kan ons gaan braai, maar wanneer dit by haar vriende kom, dan sak my moed in my skoene. Jy sien as die mans gedeelte of die vrouens vir daai matter kon braai, dan sou dit al ons vriende geword het, maar heelaas braai kan hulle nie.

As die wat nie kan braai nie, dit besef en dan ander mense laat braai, dan sou dit ook al ons vriende geword het, maar die bliks..... dring daarop aan om self te braai. Die eerste tekens dat die nie jou vriende gaan word nie, is wanneer hulle jou nooi vir 'n braai, en jy sien hulle vleis en wonder hoe jy dan nie verstaan het dat julle gaan potjie kos maak nie, maar dan word die vleis wel gebraai. Die tweede teken is die pak wors met 'n groot rooi stieker wat se "Budget", jy kan maar weet, nooit as te nimmer gaan jy met die mense oor die weg kom nie. Wat soveel erger is, is dat erens deur die loop van die aand gaan jy vertel word van die lekker wors wat hulle vir 18.99 erens gekoop het – hardloop my ou maat, hardloop.

As die boonste scenario hom afgespeel het, en jy het jou eie vleis en wors gebring moet jy versigtig wees, die mense het 'n gewoonte om eerste te skep, en hulle skep nie hulle potjiekos vleis en budget wors nie, aikona jou tjops en wors gaan in hulle borde beland.

Die volgende ding wat jy voor moet uitkyk is mense wat gaan sit en eet met 'n glas brandewyn en coke (hulle drink nie wyn nie). Jy kan coke drink met takeaways, maar met kos drink jy wyn, dalk nog bier saam met Kerrie, maar brandewyn en coke, nee,nee,nee. Wees verseker, jy kan nie mense vertrou wat nie wyn drink nie, en ook nie mense wat nie kaas eet nie – dis 'n feit soos 'n koei.

Die hartseerste van als, is waneer die aand heel goed begin, die vleis en wors lyk ok, daars 'n bottle rooiwyn wat asemhaal, die vuur brand en almal lag en gesels. Nou gaan vrou se beste vriendin se man braai, jy sien hier kom moeilikheid, selfs as hy alles "rare" braai, ingesluit die braaibroodjies, gaan die kole dit nie maak nie, en die man het nog nooit gehoor van 'n kant vuur nie, moelikheid is om die draai, ons gaan vleis in die oond gaarmaak vanaand. Dan is daar die ander kant, daar is oorgenoeg kole, maar die man braai tot die kole op is, die wors is droër as die hout, jy het die steak gesien van medium, na well, na over done na heeltemal opgef..., en die man braai nog steeds aan die steak, en dan se hy, hy gaan nou jou medium rare steak afhaal, gewoonlik is dit hier waar jy verlos word, want hulle moet jou dokter toe neem om die glas wat jy nou net heel ingesluk het te verwyder.

Mag jy die jaar gespaar wees van sulke ondervindings

Lekker eet

Potjie



Friday, January 22, 2010

Waar het die pakkie sous vandaan gekom?

Soms beland daar goed in my koskas wat ek geen idée het hoe dit daar gekom het nie, ek vermoed vroulief kry 'n bevlieging om kos te maak, dan koop sy goed, en wanneer sy by die huis kom het haar inspirasie soos mis voor die son verdwyn.

Die ander ding wat vroulief in die kombuis aanvang is om die vrieskas se deur half oop te los, dan vries die hele vrieskas toe, wat ons dan noodsaak om alles te ontvries, gewoonlik sorg ons dan dat ons niks koop wat gevries moet wordn ie, tot dat ons alles in die vrieskas opgeeët het, wat my dan dwing om te kook wat in die vrieskas is.

So sit ek toe ander aand met 'n pakkie kaas varkworsies wat ontvries is om die vrieskas skoon te maak, en ek kom op 'n pakkie knor vegetable hot pot af, komplimente van vroulief se kos koop eskapade.

Verder vind ek aartappels, wortels,uie en "baby marrows" (het hulle 'n afrikaanse naam?) tussen die yskas en die groenterak. Toe maak ek so:

Kap die uie grof,

Skil is sny die wortel in ringe

Sny die baby marrows" in ringe

Sny worsie in byt grote stukkies

Skil aartappels

Gooi 400ml koue water in 'n beker, en hou pakkie knor sous in nabyheid.

Braai uie in bietjie olyfolie tot deurskynend, voeg worsies by en braai tot dit bietjie kleur kry, voeg wortels en "baby marrows by" en roer deur, voeg die 400ml water in die pot, gooi die pakkie knor by, en kook vir 25 min (dis die pakkie se instruksies, dit behoort sout genoeg te wees, maar voeg bietjie swart peper by.

Terwyl die pot lekker prut, kook die aartappels en maak kapok aartappels (ook genoem mash)


Skep mash in bord en die varkworsie/groente konkoksie bo op, lekker vinnig en maklik vir 'n weeksaand, jy gaan nou wel geen beurs na 'n fensie hotelskool wen met die een nie, maar dis lekker en maklik.

Lekker eet

Potjie.


Thursday, January 21, 2010

Brood knie is vir die voëls















Ek het nog altyd gedink daar is iets spesiaals aan brood maak soos my ma, en haar ma dit gedoen het, behalwe miskien vir kits suurdeeg. Meng die meel, suurdeeg, water en sout, knie jou arms lam, tot die deeg nie meer aan jou hande vas sit nie, laat rys tot 2 keer die oorspronklike grote, knie af, sit in panne, laat weer rys, en bak.


Toe verander my hele lewe met die resep!


7 koppies meel (Dis prisies 1Kg)


4 Koppies Water


2 teelepels sout


1 Pakkie suurdeeg.


Meng alles goed deur, gooi in panne, laat rys, bak vir omtrent 1 uur tot gaar by 180˚C


Dis dit, niks knie, af afknie nie, net meng goed deut, laat rys en bak.


Toe ek die brood die eerste keer probeer het, het ek heimlik gehoop dit is aaklik, brood bak kan tog nie so maklik wees nie, maar die brood is baie lekkerder as al die brood waaraan ek my arms af geknie het!


Ek is lekker gatvol vir al daai onnodige geknie van my brood bak verlede.


Vir vlakvark pasta lees my Engelse blog by http://blogs.food24.com/potjie


Lekker eet


Potjie



>

Wednesday, January 20, 2010

Anchovy,capers,olywe en chillie pasta

Dis het vir my maar lank gevat om oortuig te raak dat mens kos kan eet sonder vleis, maar eendag in 'n restaurant in De Waterkant in die Kaap is my hele persepsie rondom die sakie verander. Ek kan ongelukkig nie die restaurant se naam onthou nie, ook het ek nie die resep van die pasta sous gekry nie, maar ek het my eie weergawe geskep, en dit bly een van my gunsteling pasta souse.

Jy benodig

2 uie fyn gekap

5 Huisies knoffel fyn gekap

3 tot 4 chillies groen chillies fyn gekap

Twee teelepels capers

Een pakkie onpitte swart olywe in ringe gesny

5 Anchovy fillette

Olyf olie

2 blikkies geskilde italiaanse tamaties

1 blikkie/pakkie tamatie puree

Braai die uie, knoffel,chillie en anchovy fillette in die olyf olie todat die uie deurskynend is, en die anchovy heeltemal gedisintegreer het, voeg die olywe en capers by, roer deur, en voeg dan die blikkies tamaties en tamatie puree by, geur met sout en peper, pasop net, die anchovy fillette is reeds baie sout. Kook tot die sous 'n donker rooi kleur het, besluit dan of jy die sous gaan puree tot 'n gladde sous, of net so gaan bedien, altwee is goed, ek verkies om dit glad te maak, my vrou verkies dit meer "chunky".

Heerlik saam met spaggeti, en moenie 'n lekker broodjie vergeet om die sous wat oorbly mee op te vee nie.

Lekker eet

Potjie

Tuesday, January 19, 2010

Is dit ‘n skorsie of ‘n waatlemoen


Van bietjie lui wees vir werk kuier ek rond op food24 se website en kom af op 'n blog van 'n girl (http://blogs.food24.com/Kitchengirl) wat ook blog oor kos en haar groente tuin, maar wat my toe opval is die sin "The gems (which we thought were watermelons :-) tar har) are deeeeliocious and there are millions", met 'n foto daarby.

Ek gaan lees toe bietjie van haar vorige blog inskrywings, en by ten minste twee geleendhede verwys sy na haar waatlemoene, met fotos van haar skorsies daarby, en mense maak opmerkings oor haar pragtige groente tuin, en haar groen vingers, maar niemand sê vir haar dis bleddie skorsies nie, en gaan kyk maar self, van kleins af lyk daai skorsie soos 'n skorsie, en nie soos 'n waatlemoen nie.

Wat my egter die meeste pla is, hoe op dees aarde het hulle die goed geplant, mens weet tog gewoonlik of jy skorsies of waatlemoene geplant het, so hoe eindig jy op om te dink jou skorsies gaan waatlemoene raak?

Ek moet bieg dat ek lekker jaloers is dat sy plek het vir so 'n groente tuin, en nie die verskil tussen 'n skorsie en 'n waatlemoen ken nie!

Die girl blog in engels maar ek het 'n idée dat daar erens 'n goeie skoot Afrikaans is, dalk is dit die soutie invloed wat haar kop so deurmekaar maak, girl as jy dalk ooit hier lees, ek kon dit net nie weerstaan om soos ons in goeie Afrikaans te sê, jou af te rip nie.

Net vir ingeval daar iemand is wat nie weet nie, die foto bo lings is die skorsie, die een regs onder die waatlemoen, skorsies het ook soms wit spikkels op hulle, let wel spikkels nie strepe.

Lekker eet
Potjie.

Monday, January 18, 2010

Gekrummelde Vark Tjops

Terwyl ek nou die dag so skryf van die vark pens, kry ek 'n lus vir vark oor my lyf, en ek besluit op die daad om vark gaar te maak vir aand ete, maar so in die middel van die week kan 'n pens bietjie lank vat, so ek besluit op gekrummelde vark tjops.

Jy kan seker enige broodkrummels gebruik, maar ek verkies om my eie te maak, sny die korsie gedeelte van 'n effens ouerige brood af, en verwerk in jou voedsel verwerker, glo my jy sal nie spyt wees vir die bietjie ekstra moeite nie.

Al wat jy nou nog nodig het is

Vark loin Tjops

Sout

Peper

Origanum

Meel

Geklitste Eier

Olie

Sit die vark tjops tussen 2 lae clingwrap en slaan plat met 'n gladde vleishammer of koekroller.

Geur die vark tjops met sout,peper en origanum, doop in meel en skud oortollige meel af, doop in die geklitste eier, en dan in die vars broodkrummels, plaas vir so 30 minute in die yskas.

Bak die gekrummelde tjops in lekker warm olie, en bedien saam met groente van jou keuse.

Lekker eet

Potjie


 

Friday, January 15, 2010

Vark Pens – Ook genoem Pork Belly



Daar op die walle van die Olifanfsrivier gebeur dit toe dat vriend Karl 'n "Pork-Belly" by Oom Jan se slaghuis raakloop, en toe besluit hy moet gebraai word so op die laaste aand van 2009. Vriend Karl se slagter (nie oom Jan nie, die een in Johannesburg) het blykbaar te vertel dat 'n mens nie regtig iets soos 'n vark rib kry nie, maar dat alles eintlik "Pork Belly" is, nou kyk ek lyk tans of ek net pens en niks ribbes is nie, maar ek glo rib is rib, en pens is pens, en volgens my soektog op die wereld wye web is ek nie te ver verkeerd nie, van pork belly sê hulle soos volg.


"The belly is the boneless side of the underside of the pork carcass after the loin, fat back and spareribs have been removed. This skinless product is on-trend "HOT" in the fine dining category. The belly weighs approximately 10 lbs. Single ribbed bellies leave all of the great lean that is normally on a sparerib. A big flavor in a small bite."


Maak nou nie saak wat pens is, en wat rib is nie, maar daai "belly" wat daar op die walle gebraai is tot die vet "crackling" raak, maar die vleis nog lekker sappig is het my laat wens die nuwe jaar moet nog lank wegbly. My beskeie bydrae was 'n bierbroodjie met sweetcorn, ook bekend as roomsoort soet mielies. Paulo het die Italiaanse vlag laat wapper met 'n Caprise Slaai, en nog 'n mengelslaai wat tuis so wees in die blaaie van 'n fensie kookboek, maar daai pens my ou maat, dis hy wat my mond nou nog laat water, en daai botteltjie Cederberger wat Paulo oopgemaak het was darm self nie te versmaai nie.


Dammit, maar nou is ek honger.


Lekker eet


Potjie





Thursday, January 14, 2010

Eersgeboorte reg vir Prawns

Daar in die bybelse tyd het Esau sy eersgeboorte reg vir 'n pot lensie sop verkoop, my vrou het nie 'n eersgeboorte reg nie, maar as sy een gehad het sou sy dit nie vir enige sop verkoop het nie, maar vir prawns sou sy dit baie sterk oorweeg het.

As jy dalk voel jy wil vir die een in jou lewe 'n lekkerte voorsit wat al haar weerstand sal verkrummel dan kan jy gerus soos volg maak, kry die volgende gereed.

4 huisie fyn gekapte vars knoffel

2 eetlepels gerasperde vars gemmer

½ teelepel fyn naeltjies

1 eetlepel chillie poeier

250g Botter

Verhit die botter in 'n lekker groot pan, plaas al die ander bestandele by en braai tot die geur die hele kombuis vul, voeg 800g prawns in die pan, en braai tot die prawns na rooi verkleur, sit voor met rys en die lekkerste wyn wat jy in jou huis het.

Lekker eet

Potjie

Tuesday, January 12, 2010

Om dem brode

Broodbak is seker van die eenvoudigste goed wat daar is, meel,water,sout en suurdeeg en dis dit, daar het jy 'n brood. Tog bak min mense nog brood, met die koms van broodmakers het mense weer begin broodbak, maar soos met die meeste gadgets gebruik mense dit gewoonlik net vir 'n maand of twee.

Die Desember vakansie het ek weer 'n paar brode gebak, niks fensie nie, net goeie outydse witbrood, 'n bierbroodjie hier en daar, selfs 'n bruin broodjie vir die gesondes onder ons.

My gunsteling bly gewone witbrood, en dis so eenvoudig soos dit. Een kg witbrood meel, twee pakkies kits suurdeeg, 5ml sout en 500ml lou warm water. Meng alles, en knie die deeg om die beurt met jou kneukels en die palm van jou hande, knie tot die deeg nie meer aan jou hande vas sit nie, maak toe en laat rys in 'n warm plek tot 2 tot 3 maal die grote van die oorspronklike stuk deeg. Knie die deeg af, sit in broodpanne of swart potjie en laat weer rys, bak vir +/- 1 uur teen 180 grade celcius. Dis dit niks meer is nodig vir 'n heerlike tuisgebakte broodjie nie.

Nou kom jou groot probleem, wat om op die brood te sit, as jy dalk daar by Lutzville se kelder verby ry, gaan kry vir jou 'n paar potjies van hulle druiwe konfyt, allerande soorte het hulle, pinotage en cabernet ens, strate beter as hulle wyn as jy my vra, dan kan jy natuurlik 'n stukkie verouderde chedder bo op plaas, konings kos my ou maat.

Lekker eet

Potjie

Ontbeende Koedoe rib

Die koedoe rib het 'n hele tydjie in my vrieskas gelê en wag vir vriend Karl, so groot was die afwagting toe ons uit eindelik daar op die wal van die Olifantsrivier die kans gekry het om die outjie gaar te maak.

Hy is gesout en gepeper en toe vinnig net vir daai aanvanklike braai smaak oor die kole gebraai, en toe saam met rooiwyn, tamatie en uie en 'n knippie chillie en twee piesiangs in die 3 been pot gesit, en toe gesimmer.


Toe die bok rib nou mooi sag gekook is, en die sous in die drie been pot so lekker taai sous geword het, toe sit ons hom terug op die kole, en smeer daai taai sous bo-oor hom, en toe maak ons nog 'n bottle rooiwyn oop, as ek nou reg onthou was daar groente ook, ai! Hoe lus ek nou vir 'n stukkie van daai koedoerib, miskien 'n koedoerib javel, of wat praat ek nou my ou maat.


Lekker eet


Potjie.

Monday, January 11, 2010

Voorspoedige Nuwejaar

2010 is alreeds twee weke oud, ek is terug by die werk en ek wens ek was nie. Ek proe nog Lutzville se kerrie tjops, en daai ontbeende koedoe rib, my keel verstaan nie hoekom daar nog nie 'n koue bier in hom afgegooi is nie, en dis al lank na middag.

Die jaar gaan ek my bes probeer om nie so sleg te wees soos die afgelope drie maande nie, en meer gereeld skryf, 'n paar lekker dinge het gebeur op die rooster so oor die vakansie, oor Lutzville se wyn kan ek ongelukkig nie gaande gaan nie, alhoewel hulle mense in die proe lokaal waarskynlik die vriendelikste in die land is.

Aan die hele de Villiers familie wat hulle broer (en ons swaer) aan die dood afgestaan het, my innige simpatie, ek weet dat niks wat ek kan se of doen dit kan beter maak nie, maar ek dink aan elk een van julle.

Tot volgende keer wat ek julle vertel van daai koedoe rib,
lekker eet

Potjie