Wednesday, July 29, 2009

Voedsel en Wyn op Melkbos

Dit is al meer as 20 jaar dat ek laas op Malmesbury gewoon het, en daai tyd was Melkbos maar min of meer Malmesbury by die see. Deesdae is daar 'n Golf landgoed en selfs engelse mense op Melkbos, maar sommige goed verander stadig. Ons is Vrydag aand saam met vriende na wat aan ons verkoop is as die Melkbos Voedsel en Wynfees. Daar was sels 'n whisky proe!. Die hele affêre is toe 'n fonds insameling vir Laerskool Van Riebeeck Strand.

Kom ons begin by die whisky proe, 'n klein kaalkop mannetjie het 'n halfuur klas in hoe "ons" ek dink hy het bedoel die Skotte, whisky maak en hoe hy elke aand 'n tot of twee single malt whisky drink. Met die rondkyk tydens hoe "ons" whisky soveel beter as die Kanadese of Amerikaanse weergawe is, kom ek toe agter dat die meeste mense rondom my maar is soos ek die manne van Malmesbury onthou, al is ons nou by Melkbos met sy fênsy Golf Landgoed en al. Toe die wannebe Scot uitkom by hoe ons die ¼ tot whisky wat ons ontvang het moet proe, toe het 9/10 al dit afgesluk, ons het nog 'n ¼ tot van 'n ander single malt wat ek nog nooit van gehoor het gekry om te proe, en toe is ons verlos om te gaan wyn proe. Met die uitstap uit die proe lokaal het ek gehoor, "Dis die meeste kak waarna ek nog moes luister vir die minste drank". Ai, soms is dit tone omkrul lekker as dinge bly soos dit nog altyd was. Net vir die rekord, daar was 'n paar baie "opgevoede" mense wat aan die "Scot" se lippe gehang het en mooi gewag het voor hulle geproe het.


My die wyn en kos lokaal was die platteland op sy aller lekkerste, daar was net 5 wyn stalletjies, maar hoe lekker is 'n wynproe waar jy 'n glas wyn kan koop as jy daarvan hou en dan nog R10,00 betaal vir 'n glas R75,00 per bottel wyn. Die 5 Plase was Mostertsdrift van Koelenhof by Stellenbosch, Riebeeck Cellars, Babylon's Peak net buite Malmesbury, in die Perdeberg streek, Van Loveren en Leopards Leap , maar daar wou hulle hê dat jy moes koop sonder om te proe, miskien was alles uitgeproe terwyl ek whisky geproe het.


Die Mosterdsdrift wyne kom van die plaas Weltevrede en die wynmaker Anna-Mareé was self daar, die enigste plaas waar daar iemand van die plaas was en nie net promosie mense nie. Behalwe hulle Cabernet Sauvignog wat ek geproe het (Die 2005 kry 3 sterre in die Platters Guide van 2009), het hulle my laat proe aan 'n desert wyn met 'n skoot suurlemoen en 'n blokkie ys bedien, heel aangenaam. Vir meer inligting email winemaker@mostertsdrift.co.za of skakel 021 889 5344 of 073 194 9221.

Die Riebeek Cellars stalletjie het baie min van hulle wyne gehad en die rooi wat ek geproe het was baie jonk en miskien sal dit onregverdig wees om 'n uitspraak daaroor te lewer, die 2006 Shiraz het wel 3 ½ sterre gekry in die Platters. Riebeek Cellars kan gemail word by info@riebeekcellars.co.za of skakel 022 448 1213.


Die wyn van die aand vir my was beslis die Babylon's Peak 2006 Babylon. Die wyn het 'n goue medalje gewen by die Swiss Gourmet Festival asook 'n 2007 Winemaker's Choice Award. Die wyn het 3 ½ sterre gekry in die Platters Guide en hulle 2006 Shiraz 4 sterre (2007 3 ½ sterre). My vrou het hulle Chenin Blank (3 ½ sterre) baie geniet. Bo en behalwe die feit dat die wyn heerlik is, moet ek die vroue wat die tafel beman (bevrou?) het 5 sterre gee, hulle het die proe ondervinding 'n fees gemaak, maar wat anders kan jy verwag van vroue uit Malmesbury, pure Swartland gulhartigheid. As 'n boutique keller word die wyn volgens die vroue net op die plaas verkoop, indien julle belangstel email hulle by info@babylonspeak.co.za, of skakel hulle by 022 487 1614 of 082 550 3925.


Van Loveren het min bekendstelling nodig in die Suid-Afrikaanse mark, ek geen van hulle wyne geproe nie, want ek het die meeste daarvan al gedrink en ek kon die versoeking nie weerstaan om 'n glas van die Baylon te koop nie. Ek sou graag van hulle Wolverine Creek Limited Release reeks wou proe, maar dit was ons nie beskore nie. Vir meer inligting email hulle by info@vanloveren.co.za of skakel hulle by 023 615 1505.


Soos reeds genoem, kon ek nie Leopards Leap se wyne proe nie.


Die kos gedeelte van die voedsel en wynfees het bestaan uit die vroue wat kaas van jogurt maak, 'n olyftafel, heerlike brode, biltong, piekels en nog 'n kaas tafel. Ek kan julle ongelukkig nie besonderhede gee van die mense nie, want hulle kaartjies was in my broek se agtersak en is saam met die broek gewas. Een ding wat ek nog nooit voorheen beleef het nie, was die modus operandi by die kaas tafel. Ek proe aan 'n stuk kaas (cheddar met mosterd saad) en besluit ek wil graag een van die kase koop, die volgende oomblik word die kaas wat gedien het as die proe blok, in 'n papiersak gesit, 'n prys van R14.00 word gemaak en nou kan niemand meer van daai kaas koop nie, want dis is die enigste blok van die kaas wat daar was, jammer almal wat nog wou daaraan proe en ook aan die wat aan die parmesaan wou proe, ek het dit ook in 'n papiersak daar weg. Ek kan verder getuig dat die biltong en droё wors asook die piekels van hoogstaande gehalte was, maar hulle kaartjies is nie wasmasjien bestand nie.


Die naweek is die Stellenbosch Voedel en Wyn Fees, ek het 'n vermoede dit gaan iewat anders afloop.


Lekker eet

Potjie.

No comments:

Post a Comment