Thursday, May 20, 2010

Groentesop met hoender aftreksel

So gereeld gooi ons eenvoudig die karkas van 'n oondgebraaide hoeder weg, maar hoekom nie hoender aftreksel kook nie, Maandag aand het ek twee hoenders in die oond gebraai en Dinsdag aand het ek die karkasse en al die beentjie wat oorgebly het saam met uie, knoffel roosmaryn en wortel saam met water gekook tot 'n lekker aftreksel. Gooi deur 'n sif en hou tot nodig.
Vanaand het ek die yskas gestroop van alle bietjies groente; wortels, aartappels, kool,uie en sommer die bietjie pasta wat oorgebly het, sout en peper en natuurlik Worcestershire souse en 'n opgehoopte teelepel tarragon. Voeg alles by die hoender aftreksel en kook tot sag, en die geure goed gemeng het.

Bedien met croutons

Lekker eet
Potjie

Tuesday, May 18, 2010

Nag Oom Japie – Lekker Rus

Een aand sit ek en Karl en Ooms Japie en Eugene daar by Oom Eugene se braai met sy uitsig op die ys koue waters van die weskus en maak groot planne vir 'n aand waar oom Japie sy beroemde afval pot gaan maak, en ek my haas pot. Dit was drie miskien vier jaar terug, intussen het ons saam kreef gekook en wyn gedrink, maar die potte het nooit gebeur nie, dit sal ook nooit nie, want oom Japie is Maandag oorlede, en ons kans vir saam pot maak is vir ewig verby.

Oom Japie Lings en Oom Eugene Regs.

Ons almal wat oom Japie geken het sal hom met 'n glimlag onthou, en 'n traan knip ondat ons hom mis. Die volgende pot is vir jou oom Japie, lekker rus.


Potjie

Sunday, May 16, 2010

St Helenabaai

Indien julle St Helenabaai op Pasella gemis het laas week, hier is die video, en kyk mooi hoe 'n gebraaide snoek moet lyk.



Lekker eet

Potjie

Friday, May 14, 2010

Biltong en Kaas

'n Tyd gelede het ek 'n brief geskryf na aanleiding van 'n artikel in die tydskrif van die Rapport oor potjiekos. In die artikel word daar onder andere gepraat van 'n biltong en kaas potjie.


Indien jy dalk gedink het dat die skrywer het die kombinasie uitgedink om sy punt te bewys besoek gerus http://networkedblogs.com/3OIB6 , die selfde pot is 'n inskrywing in 'n kompetisie om Suid Afrikaanse kos aan die wereld te vertoon.


Op hierdie noot gaan ek nou afsluit, besluit self wat julle van die pot dink, en voel vry om jou mening te lig.


Lekker eet

Potjie

Tuesday, May 11, 2010

St Helenabaai



So entjie voor jy die dorpie St Helana Baai kry as jy van die Kaapse kant af kom lê Brandhuis aan jou regterkant, dis daar waar tannie Annemarie en oom Eugene Sieber woon, nie 'n huis wat jy maklik verlaat as jy daar ingeloop het nie, nog enetjie is 'n gewilde woord in daai huis, miskien so effens meer gewild by die oom as by die tannie, maar laat ons nou nie hare kloof nie. Woensdag aand 12 Mei 2010 kan julle wat in Suid Afrika woon almal vir Eugene Sieber ontmoed, skakel net in op Passela op SABC2, 'n lekker stuk oor St Helanabaai, en wie anders as onse eie oom Eugene is voor in die koor.


Die volgende stuk is 'n uittreksel uit 'n blog inskrywing van laasjaar, waar oom Eugene my vertel het van sy veldkool.


"Ou Berra, ek sit nou hier op die stoep en drink 'n rosé'tjie, my pens hang tussen my knieё, want ek het my nou liederlik ooreet. Jy sien, nou die dag stap ek en Annamarie en die kat af see toe, en ek sien sommer hier tussen my huis en die see groei die veldkool en ek begin pluk en ek sê vir Annamarie om 'n sak in die huis te loop haal, en ek pluk 2 sakke vol, en toe loop ek daar by Tannie Betsie verby en gee vir haar een sak veldkool en ek hou vir my een sak. Die volgende oggend sê ek vir Annamarie om vir ons 'n lekker vet stukkie skaap by die slaghuis te koop, want jy het vet skaap nodig vir die veldkool. Toe ek vanaand 5 uur van die werk af kom, toe sny ek vir my 'n lekker klompie uie, en ek braai hulle in die olyf olie, en toe braai ek die vet skaap vleis saam met die uie tot lekker bruin en ek gooi bietjie water op en ek kook die spulletjie, en ou Barra, ek kook hulle nog en ek kook hulle nog. Toe die vleis lekker sag begin word, sit ek 'n paar aartappels by en so rukkie later die veldkool, maar eers het ek die veldkool lekker in soutwater laat lê, as daar dan goggatjies in is, dan klim hulle vinnig uit en jy het lekker skoon veldkool. Ek gooi toe 'n bossie surings by, wat ek vroeёr loop pluk het, ek sny hulle so in 2 of 3 stukke, jy weet mons man, daai surings met die geel blommetjies, ja ek gooi hulle sommer met blommetjies en al in, en ek gooi my speserye by en die spulletjie word 'n bredie soos jy nog nooit geeёt het nie. Ou Barra, om te dink die goed groei hier op my voorstoep en nou vir die eerste keer kook ek hulle self, dis lekkerder as enige iets wat jy in die winkel kan koop en ons mense ken dit nie (op die stadium hoor ek tannie Annamarie daar op die agtergrond maar ek kan nie lekker hoor wat sy sê nie). Annamarie vra nou vir my of ek 'n lemoen wil hê, maar ek sê vir haar, nee jong, ek het nie plek vir enige iets nie, ek sluk maar die volgeit met die rosé af."


Lekker eet


Potjie

Sunday, May 9, 2010

Afval om die winter koue weg te jaag

Dis koud, nat en grys in die Kaap, en ek het uiteindelik besef hoekom ek nie geseën is met 'n familie plaas nie. Boere bid vir reën, maar ek wens die reën weg, ek soek sonskyn, ek wil in 'n kortbroek en t-hemp met kaalvoete rondloop, ja ek hou van winterkos, maar ek eet liewer sop in die somer as wat ek die son nie vir 'n paar dae lank nie sien nie. Ek het groot geword in die koue nat winters van die Kaap, maar waar ek hier sit en tik met 'n lekker glasie port en die gehis van die gas verwarmer in die agtergrond wonder ek alreeds hoe op aarde ek more oggend uit die vere gaan kom.

Afval besig om te kook

Die een positiewe ding van die winter is dat almal skielik my liefde vir bredies en potjies deel, en Saterdag was dit 'n lekker Kerrie skaap afval potjie wat gestalte gekry het, amper lekker genoeg om die Stormers se vertoning van die naweek te vergeet, moet liewer nie dat ek begin praat oor invoer produkte van Fidji nie, sooibrand sal my voorland wees sowaar.


2 skaap pense, 6 skaap pootjies en 3 vark pootjies in 'n pot saam met uie, Kerrie speserye en 'n skoot rooiwyn, kyk so nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is, indien nie gooi bietjie water by, as jy nie so 4 ure tyd het nie, los maar, of verkrag dit in 'n stoompot, maar tyd is al wat 'n skaappens sag kry, stadig prut terwyn jy 'n glasie of twee rooiwyn gebruik. So halfuur voor jy wil eet sny 'n paar aartappels by, en kook vir jou bietjie rys, noord van die Oranje rivier kan julle maar pap maak, dit sal ook werk.

Almal se mae is nou vol


Die winter voel sommer na 'n beter seisoen met so bord afval voor jou.

Lekker eet

Potjie.

Friday, May 7, 2010

Afrikaanse kos in Engels

Ek het nie vandag veel om te sê nie, maar ek het 'n interresante artikel om julle na te verwys, dit begin wel met "The Afrikaners, much maligned and much criticized for the cruel mistakes of some of their ancestors are still alive and thriving and living in the Southern tip of Africa, South America, Patagonia, Mexico and more recently New Zealand, Australia and a few European countries." Maar daarna gee dit wel aandag aan tradisionele Afrikaanse kos, en 'n bietjie geskiedenis oor die Afrikaners.

Besoek gerus http://www.justfoodnow.com/2009/10/29/the-birth-of-afrikaans-food/ dit is heel interesant.

Geniet julle naweek

Lekker eet

Potjie

Wednesday, May 5, 2010

‘n Inkol om jou bly te maak.

Dit is nie baie dat ek oor wyn skryf nie, maar soms kom 'n wyn oor jou pad wat jy vir almal oor wil vertel.



Die Cloof Inkspot 2007 Vin Noir is so 'n wyn, 'n wyn vir onder R50.00 wat John Platter 4 sterre gegee het. Die wyn is 'n versnit van 58% Pinotage, 34% Shiraz, 6% Cinsaut en 2% Cabernet Sauvignon, wat vir 15 maande in Franse eikehout vate verouder is. Die wyn met 'n 14% alkhol inhoud word van bos wingerde (bush vines) tipies van die Swartland gemaak. Dis die tegniese aspek, die belangrike aspek is die smaak, en glo nou vir my, gaan kry maar vir jou enetjie, jy sal teruggaan vir nog, ek het.


Die wyn gaan heerlik met die lewer en bees burgers wat ek vandag van op my Engelse blog geskryf het.


Besoek http://www.cloof.co.za/ vir meer inligting.


Lekker eet


Potjie

Tuesday, May 4, 2010

Dis net ‘n potjie

Hoeveel van julle het nog een van die potjies, nee dis nie 'n Best Duty of Falkirk nie, dis 'n Defy drie been pot, so potjie kort 'n pot wat Emile Joubert sal trots maak. Vleis, vars groente en vars kruie en dis dit, niks uitheemse konkoksies nie, dis net soos dit gisteraand by my huis gebeur het.


Die eenvoud van die pot was doelbewus, want in skaamte moet ek erken dat na ek mooi gedink het oor Emile se Artikel in Sondag se Rapport, het ook ek begin struikel en pot sonde gepleeg deur weg te beweeg van dit wat 'n pot is, eenvoudige vars bestandele, daarom het my pot gisteraand slegs bestandele gehad wat ek vars uit my groente rak kon haal, en al daai stukkies lamsvleis vat man nie kan braai nie maar moet kook.

Ek het aartappels, patats en wortels gevind, saam met vars roosmaryn en sout en peper en 'n skeut rooiwyn het die lamsvleis 'n pot geword soos ons oumas en oupas dit geniet het, al wat ek kan sê is, dankie Emile.

Lekker eet
Potjie

Monday, May 3, 2010

‘n Generasie gaping in Kos

Die ander dag praat ek met iemand skaars 10 jaar jonger as ek oor waterblommetjie bredie, en ons praat oor die byvoeging van suurlemoen en ek noem toe dat die tradisionele ding om by te sit egter suurings is nie suurlemoen nie. Ek kry toe so doffe kyk, "suurings, wats dit?" nou kyk, ek is nie oud genoeg dat ek regtig suurings in die veld gaan pluk het om kos te maak nie, maar as kinders het ons baie suurings geëet, dit het jou kieste op so hoop getrek, vandag is daar suur lekkergoed wurms wat daai werk aan die kinders se kieste doen, maar suurings, aikona, 10 jaar na my en ek beskou my nogself as bloedjonk weet mense nie wat suurings is nie, hoe is dit moontlik.



Toe ek mooi oor die storie dink besef ek toe hoe vinnig goed verander het, as ek met iemand 10 ouer as ek praat, het ons baie dieselfde ondervindings van die lewe, perlemoene waarvan die skulpe amper groot genoeg is om jou gesig in te was het ons uit geduik by Hangklip, groot rooi krewe by Tietiesbaai, en alikreukels op laagwater uitgehaal by Pearly Beach, alles sonder veel moeite, maar deesdae is perlemoen uithaal onwettig, krewe lyk na groterige krewels en alikreukels kry jy miskien op springety, anders moet jy maar vir dit ook duik.


Desembers by Swartvlei het ons strepies en steentjies en kolstertjies in die vlei gevang en dit net daar langs die water gebraai, vandag is daar kleur kaarte vir wat se vis jy veronderstel is om te eet en wat nie, ons nasionale vis die galjoen is taboe, op die rooi lys daai beste van die beste vis vir braai oor die kole, net sout en peper en miskien so blerts suurlemoen om die ergste vet te breek.


Hoe verduidelik jy vir iemand die smaak van 'n vis wat nou net gevang is, of die smaak van suurings by waterblommetjie bredie, my skryf talent laat dit nie toe nie, as ek jou dit nie kan laat proe nie, gaan jy nooit weet hoe dit smaak nie, en my liewe vriend, as jy dit nooit proe nie, het jy nog nooit die Kaap geproe nie.


Lekker eet


Potjie

Sunday, May 2, 2010

‘n Ope brief aan Emile Joubert

Agtergrond: Lees Emile Joubert se artikel "Op soek na die ware pot" in Sondag 2 Mei 2010 se Rapport tydskrif. Emile skryf dat ons geliefde potjiekos kultuur vinniger uitsterf as Afrikaanse volsinne en goeie Van der Merwe grappe. Hy blameer onder andere die feit dat mense probeer potjies maak wat Jamie Oliver of Nataniël (behoede my) se goedkeuring sal wegdra.

My brief aan Emile

Beste Emile

Alhoewel ek 100% saam met jou stem oor die agteruitgang van potjiekos in ons geliefde land moet ek jou daarop wys dat daar blaam te lê is by die mense wat juis die tradisie moet bewaar, die beoordelaars. Wanneer potjiekos kompetisies gewen word deur potte met kitsbestandele en volksvreemde goeters soos pasta as die hoof bestandeel van die pot, dan is die beoordelaars nie besig om hulle werk te doen nie, of hulle is agter die eerste beste uitheemse bos uit geskop, en gevra om te kom beoordeel, maar elke 2de naweek hoor ek van een of ander kits konkoksie wat 'n potjiekos kompetisie gewen het. Dan is daar die beoordelaars wat kyk na die mooi gedekte tafeltjies, en is daar rooiwyn saam met rooivleis bedien, en witwyn met witvleis, nee regtig, die vorige potjiekos kompetisie wat ek bygewoon het, het die beoordelaar dit as een van sy kriteria genoem, ek was onder die indruk dat die miete al lankal dood is, maar nee, 'n opgeleide shef wat aangestel is as 'n potjiekos kompetisie beoordelaar gebruik dit as die kriteria om 'n potjie te beoordeel!

Dit blyk al hoe meer dat die gedekte tafel en die blomme en die voorgereg (behoed my, voorgereg saam met potjie?) en die moeite wat gedoen is, is die bepalende faktor by beoordeling in plaas van die smaak van die potjie. Alles het begin met die lae teorie, alles moet in lae wees, en so bly, moet tog nie dat daar 'n wortel deurglip en tussen die aartappels beland nie, jy kan maar vergeet van wen, dis doodsonde. Ons oupas en oumas sal in hulle grafte omdraai as hulle moet weet dis die pad wat goue ou boerekos potjie geloop het, alles in mooi lae, bid jou aan.

Die einste laaste potjiekos kompetisie wat ek bygewoon het, het 'n beesstert pot gewen (ten minste regte vleis) maar die vleis was so taai dat hiënas sou sukkel om dit gekou te kry, maar daar was 'n mossel voorgereg (dit was seker die trekkers wat die pad langs die weskus opgevat het se nalatingskap) en 'n verbrande potbrood, ek sou eerlik waar daai brood weggegooi het as ek dit gebak het, maar al die moeite het die beoordelaar so beindruk dat hy dit laat wen het, nou vra ek jou, het die beoordelaar sy Afrikaner plig gedoen, of het hy bloot die potjiekos kompetisie genataniël.

Emile ek voel jou pyn met die biltong en kaas brigade, maar glo my vry, 'n paar van die potjiekos verkragtings het al kompetisies gewen, en al is die droom nog nie verlore nie, is sommige beoordelaars besig om die droom in 'n nagmerrie te verander.

Potjiekos is dood, lank lewe potjiekos.

Lekker eet

Potjie