Wednesday, July 22, 2009

Hiert, hoe brand so rissie

My gryse ou moeder het haar hande vir ons kinders deurgewerk en as alleen ouer het sy vir ons alles binne haar vermoё gegee. Na haar kinders is huis skoonmaak haar groot liefde, en dit help nie julle vra my hoe dit werk nie, maar dis hoe dit is. Haar kos was altyd heerlik, regte huis kos, potgebraaide hoender en en vleis, groenboontjies en wortels kry bietjie aartappel by en word fyn gedruk, vetkoek en pampoenkoekies en alles waarmee ons in Afrikaner huise groot geword het, maar kos maak was, en is vir haar iets wat gedoen moet word, omdat jy moet eet, dis nie 'n liefde of regtig 'n plesier nie, sy sal liewer stryk as kook. Haar speserye kas bestaan uit sout en peper en dalk nog twee of drie ander speserye, chillie vars of gedroog was nie iets wat jy in ons huis sou aantref nie en tog is ek van kleins af lief vir sterk kos, alhoewel dit nie die in-ding was in ons huis nie.

Toe ek dus vir myself moet begin kosmaak, moes ek vinnig leer van speserye en hoe sterk wat is. So stap ek eendag in Checkers rond en sien die pakkie groen rissies (regte rissies soos in chillies) en ek koop dit en besluit om 'n kerrie aanmekaar te slaan. In my onkunde vat ek so halwe hand vol rissies en kap dit in stukke en gooi dit, pitte en al in 'n potjie kerrie vir een persoon. Glo my vry, dit was warm, soos in moers warm, toe ek die vurk na my mond toe bring om die eerste hap te vat, toe begin my mond kwyl voor die vurk by my mond is, en dis die reine waarheid. My mond was aan die brand, maar daai tyd was ek hoopeloos te arm om 'n pot kos weg te gooi, ek het dit geёet en saam daarmee het ek alles wat ek in die huis gehad het op gedrink, heel eerste die melk natuurlik.

Die kerrie het 'n tweede keer weer gebrand, sodat ek gewens het ek het toilet papier in die yskas gesit, as jy nou weet wat ek bedoel.

Vir die prys van 'n pakkie rissies en bekbrand het ek dus my eerste kookles gehad, een van 'n hele paar wat ek oor daai volgende paar maande sou hê, so sonder enige leermeesters, behalwe my eie kopstamp.

Lekker eet


Potjie

No comments:

Post a Comment