Thursday, July 9, 2009

Veldkool

Gisteraand kry ek 'n oproep van my vriend daar in Johannesburg en hy sê my dat ek nou sy pa moet bel, want sy pa het hom nou vertel van 'n ding wat hy gekook het, wat alte heerlik klink. Natuurlik bel ek toe onmiddelik vir oom Eugene daar in St. Helenabaai en dis hoe hy my die storie vertel het.

"Ou Berra, ek sit nou hier op die stoep en drink 'n rosé'tjie, my pens hang tussen my knieё, want ek het my nou liederlik ooreet. Jy sien, nou die dag stap ek en Annamarie en die kat af see toe, en ek sien sommer hier tussen my huis en die see groei die veldkool en ek begin pluk en ek sê vir Annamarie om 'n sak in die huis te loop haal, en ek pluk 2 sakke vol, en toe loop ek daar by Tannie Betsie verby en gee vir haar een sak veldkool en ek hou vir my een sak. Die volgende oggend sê ek vir Annamarie om vir ons 'n lekker vet stukkie skaap by die slaghuis te koop, want jy het vet skaap nodig vir die veldkool. Toe ek vanaand 5 uur van die werk af kom, toe sny ek vir my 'n lekker klompie uie, en ek braai hulle in die olyf olie, en toe braai ek die vet skaap vleis saam met die uie tot lekker bruin en ek gooi bietjie water op en ek kook die spulletjie, en ou Barra, ek kook hulle nog en ek kook hulle nog. Toe die vleis lekker sag begin word, sit ek 'n paar aartappels by en so rukkie later die veldkool, maar eers het ek die veldkool lekker in soutwater laat lê, as daar dan goggatjies in is, dan klim hulle vinnig uit en jy het lekker skoon veldkool. Ek gooi toe 'n bossie surings by, wat ek vroeёr loop pluk het, ek sny hulle so in 2 of 3 stukke, jy weet mons man, daai surings met die geel blommetjies, ja ek gooi hulle sommer met blommetjies en al in, en ek gooi my speserye by en die spulletjie word 'n bredie soos jy nog nooit geeёt het nie. Ou Barra, om te dink die goed groei hier op my voorstoep en nou vir die eerste keer kook ek hulle self, dis lekkerder as enige iets wat jy in die winkel kan koop en ons mense ken dit nie (op die stadium hoor ek tannie Annamarie daar op die agtergrond maar ek kan nie lekker hoor wat sy sê nie). Annamarie vra nou vir my of ek 'n lemoen wil hê, maar ek sê vir haar, nee jong, ek het nie plek vir enige iets nie, ek sluk maar die volgeit met die rosé af."

Ek het vanoggend oorweeg om in siek te bel en St Helanabaai toe te ry om die storie te proe, oom Eugene het gesê daar's nog baie oor en soos met enige bredie gaan hy seker lekkerder vandag wees, die storie het so lekker geklink gisteraand, ek het vir my sommer nog 'n glas rooiwyn gegooi en 'n heildronk gedrink op Oom Eugene, Tannie Annamarie en die kat, en natuurlik op die veldkool.

Lekker eet


Potjie

No comments:

Post a Comment