Tuesday, February 23, 2010

‘n Plan met ‘n Potjie

Die naweek gaan ek 'n ding doen wat ek myself belowe het ek sal nooit as te nimmer doen nie, en dit is om aan 'n potjie kos kompetisie deel te neem. Ek is 'n slegte verloorder op die beste van dae, nooit genoeg oefening daarin gekry nie, sê ek altyd. Maar my vriend Werner het my omgepraat om saam met hom aan 'n kompetisie deel te neem, siende dat hy nie veel weet van kook af nie, berus die onus op my om 'n sukses van die storie te maak.

Ek is nie mal oor die idée van 'n kompetisie met kos nie, dis net te veel van 'n persepsie ding, en hoe beoordeel jy 'n vispot teenoor 'n beesstertpot byvoorbeeld, die beoordelaars moet tog 'n voorkeur vir die een of die ander hê, en dan is daar die ding van die kos wat in mooi lae moet lê, of so hoor ek, blykbaar het ek nog altyd bredie in 'n pot gemaak, en nie regtig potjiekos nie, want ek het nog nooit probeer om my kos perfek in lae te laat lê nie, en ek gaan ook nie, as ek wil loer wil ek loer en klaar.


Maar ek het 'n plan, en die plan gaan ek nie nou met julle deel nie, maar die plan behels dat daar nie lae gaan wees nie, ek gaan 'n fop pot maak, dit is eintlik geen pot nie, maar ek beplan om die beoordelaars onkant te vang, eers wanneer hulle saterdagaand in hulle bedjies lê gaan hulle besef dat die wen pot eintlik nie potjiekos was nie, wel dis my plan in elkgeval, en volgende maandag sal ek julle vertel of ek hulle om die bos kon lei of nie.


Lekker eet


Potjie.

1 comment: