Thursday, February 25, 2010

My hart sing

Vanoggend sing my hart, en dit is nie spesifiek oor kos nie, nee vanoggend op pad werk toe het ek oor die radio gehoor dit reen ordentlik op Sedgefield.

Ek het omtrent al my Desember vakansies gedurende my skooldae by Swartvlei net buite Sedgefield deurgebring. Daar was baie eerstes vir my by Swartvlei, eerste vakansie romanse, eerste vis gevang, eerste skelm bier gedrink, eerste keer (en enigste keer) verbrand toe ons wou vuur maak om alikreukels op gaar te maak.


Alhoewel ek nie daar groot geword het nie voel dit altyd vir my bietjie soos huis, beide my ouers se ouers kom van die George omgewing af, my enigste ouma (pa se ma) wat ek geken het, het in Hoekwil gebly, groot erf met hoenders en groente, ek proe nog die jong worteltjies pas uit die grond wat my oupa ons gevoer het, op ons beurt het ons weer die hoender gevoer, en versigtig die eiers gaan uit haal, 10 keer op 'n dag het ons gaan kyk of daar eiers is.

Ek hoop en bid die reen hou aan sodat George en Sedgefield en al die ander plekkies rondom dit weer die groen oase van my kinderdae sal wees.

Lekker eet
Potjie

No comments:

Post a Comment