Monday, May 4, 2009

Die laaste maal



Hoeveel maal is daar al vir jou gevra "Wat is jou gunsteling gereg ?", en ek is seker jy het met iets voorendag gekom, miskien iets eksoties, miskien 'n gereg wat jy nog net een keer gehad het, op 'n spesiale plek, saam met spesiale mense, of dalk is jou gunsteling gereg iets wat jy gereeld eet, miskien iets eenvoudigs, 'n gebraaide tjoppie, nie dat dit meer 'n eenvoudige prys het nie.


Ek dink nie ek kan regtig 'n antwoord gee op wat my gunsteling gereg is nie, spesiale etes was daar al baie, 2 van dit was haas, en ek het beide gekook, dieselfde resep(daai een uit die Franse boek), verskillende mense. Die eerste keer was in 'n klein dorpie in die Var region van Provance in Frankryk, saam met my sus Hanellie en swaer Gidius (wat ook so goedgunstig was om my 2 vliegtuig kaartjies te stuur om daar uit te kom, dankie weer eens), twee vriende van hulle van Kanada, Greg en Andrea, en dan ek en nog een, ons los liewer die detail van die nog een vir nou. Die dorpie se naam is Lorgues, en ons het in die laaste straat bo op die bult, net voor die begin van 'n woud gewoon. Vir die van julle wat nie weet hoe dit daar werk nie, dis hoe dit werk. Elke dorpie het 'n markdag, ek dink ons s'n was dinsdag, maar ons was elke dag op 'n dorp met 'n mark, daarvan het ek en sus seker gemaak. Op markdag kom die butcher, en die meubelhandelaar, en die kaas ou, en die groente smous, en die spesery handelaar, en kosmakers en almal wat iets het om te verkoop, die dorp se centre word gesluit, en hier word mark gehou want tot volgende dinsdag is daar net 'n Petit Supermark, omtrent so groot soos 'n halwe moterhuis en 'n bakkery en 'n paar koffie shops en 'n bar in die dorpie. Nou moenie dink jy koop brood of sigarette by die supermark nie, nee my maat, hier werk dinge anders, jy koop brood en dies meer by die bakkery, en sigarette by die Tabaconist, en wyn, dit koop jy orals, net nie by die man met die plastiek kannetjies op die mark nie.


By die supermark koop jy rosé vir rondom 2€, so R20.00 daai tyd, en heerlik man, dis mons rosé wêreld die, rooiwyn nie baie duurder nie, behalwe by die chateau, daar betaal jy serious money vir wyn, maar die supermark was goed vir ons, en selfs 'n paar by die chateau gekoop. By die wors man koop jy sulke klein salami's 3 of 4 vir 10€, gemaak van wilde vark (wild boar) donkie en allerande ander gediertes, moenie dat die donkie jou afsit nie, dis heerlik.


So wat ons gedoen het, was om kos op die mark te koop, en een keer wyn in 'n plastiek kan, opgestok met wyn, 'n paar glase wyn gedrink en 'n broodjie ge eet in die dorpie, dan gaan chill by die huis met 'n bottel of 6 rosé, en dan begin die kook, en so tussendeur kyk ons in die snaakse Franse kookboek wat lekker lyk, en kyk more of ons dit op die mark kan raakloop. Nou hoe kan kos gedeel met great mense in so omgewing nie lekker wees nie, ja ok ek weet daar was die duif, maar selfs daai aand het ons baie lekker gekuier. Erens deur die loop van die aand se kook, wissel ons na rooiwyn, en as alles regtig op is, en slaap is nog nie 'n opsie nie, dan knyp jy Greg se neus met 'n wasgoed pennetjie toe, sodat hy nie kan ruik die wyn in die plastiek kannetjie ruik na niks, en dan skink ons maar van die kannetjie, maar regtig, probeer maar om genoeg wyn in die huis te hê, sodat dit nie nodig is nie.


Die tweede keer was ver van Frankryk af, op die wal van die Olifantsrivier, saam met my vriend Karl en vrou Louisa, en die se kinders, asook Anthony en sy vrou en kinders, en ek en vroulief. In die no 14 swarboompot is die haas geplaas, saam met al sy bestandele, van die lekkerste wyne, vooraf gegaan deur foia gras in so glas potjie, saam gepiekel van Frankryk af, ek het daar die lekkerste Shiraz gedrink, wat vroulief present gekry het, maar nêrens kon ek dit weer vind nie, en nou ook al die naam vergeet, om die grootsheid van die oomblik te behou, moes ons wel skelmpies die bottel rooiwyn wat Anthony oopgemaak het uit gooi, want dit het my amper laat verlang na daai plastiek kannetjie.


Ek het alweer haas gekook, en dit was lekker, maar dis net nie dieselfde as in die boonste twee gevalle nie, die plek, die mense en die oomblik moet reg wees, dis soos kos geniet moet word, want soos hulle se, jy kan goeie wyn saam met slegte geselskap drink, maar nie slegte wyn met goeie geselskap nie.


Maak dit nou dat haas my gunsteling gereg is, as ek weet vanaand is my laaste maaltyd, sal dit haas wees? Nee, die mense in die stories hierbo sal daar wees ja, ander ook, my skoonfamilie wat al lankal my eie familie geword het, my ander sus en swaer van Namibia, en ander vriende sal daar wees, maar my laaste ete sal eenvoudig Suid Afrikaans wees. Galjoen op die kole gebraai, net sout en swartpeper, en 'n braaibroodjie, slaai sal daar nie wees nie, pap ook nie, maar vet galjoene met koppe aan,van die rugkant af oopgevlek, die vet wat so drup op die kole, en die see moet ek kan ruik en hoor, en die gelag van my vriende en familie. Watter wyn sal ons drink? Ons is nou besig on Suid Afrika se nasionale vis te eet, so kom ons bly by iets uniek Suid Afrikaans, pinotage dan, en wie se pinotage sal dit wees, en nou wil ek nie te kenne gee die is die beste pinotage nie,ek weet te min van wyn, maar Beyerskloof sal dit wees, hy is mons darm meneer pinotage is hy nie? Dis in elk geval my paartjie en ek besluit.


Nou het ek my self so lus vir galjoen geskryf dat ek nie my lag kan hou nie, en ek kan nie eers onthou wanneer laas ek 'n galjoen gesien het nie, wat nog van geёet het nie, gelukkig is die Beyerskloof makliker om in die hande te kry.


Om te sien wat hulle alles aanvang op Beyerskloof gaan na http://www.beyerskloof.co.za/ jy kan sommer inskryf as 'n pinotage partner met allerande voordeele. As jy nou baie lus is vir haas en jy kry nerens een nie, en jy woon in die Kaap, email Wilna by die Wild Peacock (food@wildpeacock.co.za) en miskien kan sy jou help, sy het my al gehelp met haas en kwartels en allerande goeters, hulle verskaf eintlik restaurante en deli's maar het my nog altyd probeer help. Hulle het ongelukkig nie 'n website wat ek van weet nie.


Lekker eet en drink.


Potjie

No comments:

Post a Comment