Thursday, May 28, 2009

Karoo Skaap

Ek lees nou die dag 'n blog van 'n eks Suidwester (hy noem homself so, ek weet dis nou Namibier) wat nou in Australie woon, en die man het baie te sê het oor karoo skaap. Wat hy met sy vinnige aangeleerde Ausie arrogansie sê is dat Damara skaap, karoo skaap se gat skop. Ek gaan nou nie in die bakleiery betrokke raak nie, my suster wat daar in Grootfontein in Namibie woon het my ook al so probeer vertel. Die mense in die regte Karoo (waar dit ook al mag wees) het te vertel dat die meeste mense nie weet wat 'n Karoo skaap is nie, 'n skaap uit Colesberg is blykbaar nie karoo skaap nie, dis al Vrystaat skaap, maar Baufort Wes skaap, dis nou blykbaar karoo skaap. Hier in die Wes Kaap vreet die skape gras, nie bossies nie, want dis wat hier in die Boland groei, blykbaar toetaal onaanvaarbaar om te eet as jy weet hoe Karoo skaap smaak. Ek weet nie van Damara of Karoo skape nie, en ek weet nie of my slaghuis se skape uit Calvinia, tel as Karooskaap nie, maar 'n lekker lamstjop oor die kole gebraai bly maar koning, en ek kan jou nou nie vertel van soorte skaap nie, maar wat sy naam ook al is, braai hom so.

Pak die loin tjoppies met hulle been kant na die kole toe, en braai to die bloederigheid daar by die been weg is, sit hulle nou met hulle vetkant na die kole, en braai daai vetjies lekker stadig tot lekker crispy, maar moenie brand nie, gebrande vet is bitter. Nou gooi die tjoppie op sy sy, en braai vinnig aan weeskante, die bloed gaan weg wees by die been, die vet lekker crispy, en die vleis nog lekker pienk en sappig. Om die tjoppie so perfek te braai, moet jy darm tjoppies van so 2cm dik hê.

As jy een van daai is wat dink dat skaap moet gaar wees, dan maak dit seker nie saak wat se skaap dit is nie, jy kan maar gevriesde ingevoerde skaap ook koop, jy gaan dit mons in elk geval opmors.

Hier in die Kaap eet ons Kaapse pap met ons tjops, sommige mense verwys ook daarna as braaibroodjies, en 'n perfekte braai broodjie is 'n storie op sy eie.

Verder noord eet hulle pap en sous saam met enige iets wat hulle braai, dis goed so, maar gelukkig het ons brood in die Kaap.

Lekker eet

Potjie

No comments:

Post a Comment