Tuesday, May 5, 2009

Dit is Kersfees, in Mei

Almal van ons is seker al 'n paar keer in ons lewe gevra, "dink jy dit is kersfees?". Die sê ding, is blykbaar bietjie uitgebry deur die tieners van vandag, en waneer iets lekker is, word dit bloot, "dit is kersfees", en alhoewel dit seker sin maak was ek bietjie confuse toe skoonsus Dalene se tiener dogter Jana-Mari sondag aankondig "dit is kersfees", nie dat sy ver verkeerd was nie, want die kos wat daar voorgesit was, sou kersfees trots laat voel het. Almal moes iets bring, en vae riglyne is gegee, jy doen vleis, of hoender of groente ens.

So tydjie terug het ek gesê dat ek al gehoor het van Marieta se Durbs kerrie, maar nog nooit geproe het nie, sondag was dit sulke tyd, my skoon oorhoeks geёet. Sus Francis het hoenderpastei gemaak, en Crista sal moet ligloop as sy die hoender pastei koninging wil bly. Dalene het beef olives en gebraaide aartappels gedoen, en skaapboud en iemand het 'n gegeurde rys gedoen, Christa se befaamde pampoentert was daar, en ons het vark vrikkadelle met kersie tamaties en origanum, en bees vrikkadelle met tamatie en roosmaryn gebring, en om nie uitgesluit te voel nie het Marius wors gebraai. Daar mag nog kos gewees het, want dit was te veel om te onthou, wat nog van opeet, maar ons het probeer, glo my. Al die kos was uit die boeke, maar skoonsus Marieta het my met soveel passie vertel oor hoe sy die kerrie laat gebeur dat vandag aan haar opgedra word.

Skoonsus Marieta het my verduidelik dat die kerrie soos volg aanmekaar gesit moet word, en ek hoop ek onthou nou reg. Twee groot uie geskil en in ringe gesny word in die olie gebraai, dan word skaapskenkels saam met die uie gebraai, dan die speserye, koljander ,lourier blare, sout, casia, sterk Rajah kerrie poeier, borrie, 'n paar skeppe knoffel en gemmer mengsel. Die speserye word alles by die vleis gevoeg, en verder gebraai, as alles lekker gemeng het, dan gooi jy 5 groot tamaties wat fyn gekap is by, die gaan die sous maak, geen water word bygevoeg nie, die hitte word verminder sodat die pot net prut. As die vleis so ¾ reg is, word aartappels bygevoeg, en as die aartappels ½ reg is, dan word koljander blare bo-op gesit, en dan wag jy tot die aartappels sag is, sit die pot af, en laat dit ten minste 15 minute rus, langer is nog beter, as jy kan uithou kan jy vir more ook wag, maar ek twyfel of jy soveel selfbeheersing gaan he. Om die salsa te maak wat by die gaan, kap jy uie en tamaties fyn, met 'n bietjie cillies by, en rasper wortels daarby. Ek sit nie hoeveelhede by die speserye nie, want ek weet nie hoe sterk jy van jou kerrie hou nie, begin met 2-3 teelepels kerrie poeier en proe as die sousie begin vorm, jy kan bysit, maar wegvat is iewat van 'n probleem. O Ja, Marieta se jy mag nie tamatie puree gebruik nie, net vars tamaties, as jy ander goed begin bysit dan gaan jy na Kaapse kerrie toe, die hierbo is Durbs se kerrie, soos sy dit daar leer kook het.

Vir my maatjies daar in die buiteland wat nie meer kan onthou wat koljander (coriander in engels) is nie, hulle mag dit dalk dhania of cilantro noem daar by julle.

Hier in die Kaap kook ons dit bietjie anders, appelkoos konfyt kry ook 'n lê plekkie in die pot, en baie van ons is lief om kokonut melk in te sit, maar dis maar Thai's ek dink, en by die kerrie sit ons kokonut en piesang voor, maar ons sal 'n ander dag by daai resep gaan kuier, skoonsus Dalene kan dalk help, ek weet sy kan.

Lekker eet

Potjie.

No comments:

Post a Comment