Friday, May 22, 2009

Raak wild met Wild



Hiedie is die tyd van die jaar dat ons manne mons voel dat selfs al jag ons nie moet ons ten minste 'n bok koop by die manne wat wel jag. Dit is nou ongeag die feit dat daar nou nog van laas jaar se wildsvleis in die vrieskas lê. By my huis gebeur dit nie, maar ek hoor van manne wat nog 2 jaar terug se wild kookvleis in hulle vrieskas het. As jy en jou gesin bietjie moeg is vir wildspastei, maak 'n nuwe plan, en hier is vir jou 'n plan of twee.


Hoe jy die vleis van die bene afkook, en of jy spesery voor of na die tyd bysit is jou saak, ek gaan nie met jou stry nie, net een ding, ek weet naeltjie pas by wild volgens tradisie, maar die idee is nie dat dit moet smaak soos naeltjie ekstrak nie, wees spaarsaam daarmee, dit het 'n sterk smaak, hou nog oor vir wanneer jy weer tandpyn het, en probeer bietjie balsamic asyn in plaas van gewone asyn. Een laaste ding voor ons by die planne kom, as jy daai bottel "af" wyn van gisteraand in die vleis gooi, moenie twyfel nie, die vleis gaan net so sleg soos die wyn wees, as die wyn nie vir jou lekker is nie, gooi dit weg of hou dit vir die familie, maar moenie dit in die kos gooi nie.


In plaas van pastei, het ek besluit ek gaan worsrolle (sausagerolls) die jaar bak, dis maklik om op te sny as "snacks" en om werk toe te neem vir middagete.


Weergawe een, sny 'n paar varkworsie oop, en braai die maalvleis tot gaar, meng met van die wildsvleis en sit jou speserye by, sout en peper is vanselfsprekend, onthou die vark het alreeds speserye by, miskien nog bietjie koljander soos die gees jou lei sou Pieter Pieterse gesê het. Lê jou pastei deeg op die tafel uit, smeer appel jellie waar die bo-kant van jou worsrol gaan wees, skep die vleis mengsel bo-op, rol die worsrol toe, smeer met geklitste eier en bak tot goudbruin, jy mag dalk net besluit om nog 'n bok te koop.


Weergawe twee, meng gekapte pepadews met jou wildsvleis, gooi bietjie van die sous by die vleis en braai bietjie, maak worsrol soos bo.


Weergawe drie, vervang die pepadews met songedroogte tamaties, en smeer die deeg met bietjie songedroogte tamatie pesto, maak worsrol, eet jou vingers af.


Weergawe vier, dink jou eie kombinasie uit, maak worsrol J


Jy behoort nou klaar te wees met jou eerste bottel rooiwyn, dis ok om nog een oop te maak, jy het mons darm 'n bietjie in die kos gebruik, of hoe?


Lekker eet


Potjie.

No comments:

Post a Comment