Tuesday, May 19, 2009

Eend mak of wild



My swear Marius, vertel altyd die storie van die man wat vir die kelner gevra het of hulle wilde eend het, waarop die kelner geantwoord het," nee meneer, maar ons het 'm mak een hier agter wat ons bef_ ek meen kwaad kan maak".


Ek neem aan dat wilde eend omtrent so taai soos tarentaal moet wees, want die mak eende wat hulle in die winkel net om die hoek verkoop, wil net nie so sag word soos ek hulle wil he nie, ek kan heel nag braai, maar na 'n uur wil ek hê die eend moet gaar wees in die oond, nou gaar is hy, maar so taai soos skoensole. My beter helfte is versot oor eend, wat my noodsaak om die eend ding reg te kry, so gisteraand het ek besluit tot hierso en nie verder nie, vanaand maak ek vir Donald sag, kom wat wil. In Marlene van der Westhuizen se kookboek delectable kry ek toe 'n resep vir ' gemmer en tiemie eend.


Ek gaan nou nie die hele resep hier oorskryf nie, ek hoor die Marlene vroutjie is 'n moeilike een, en ek wil my nie haar gramskap op die hals haal nie, maar basies werk die ding so. Jy stop die eend met gemmer, tiemie,knoffel, leeks (kan nie onthou wat dit in afrikaans is nie) en wortel, dan sit jy dit op 'n rooster in 'n oondbak, die oondbak vul jy met water, en die eend maak jy styf toe met foil, tot teen die rooster, dan laat jy die eend so 45 min stoom teen so 220 grade C, dan gooi jy die water uit die bak uit (hou die water jy het dit nodig vir die sous) dan bak jy die eend verder teen 200 grade C tot die eend lekker crispy is.


Wanneer jy die water afgegooi het, en die eend is besig om crispy te word, dan skep jy van die vet van die water af en jy bak geskilde ontpitte pere daarin, so 5 minute, een peer per persoon, as jy klaar is maal peper oor die pere en sit eenkant.


In die pan wat jy die pere gebak het, gooi 'n koppie rooiwyn,krap die vulsel uit die eend in die pan in, kook vinnig tot helfte van oorspronklike volume, haal al die soliede stukke uit die sous, gooi 'n koppie hoender aftreksel by, en kook tot dit soos sous lyk wat jou tone van lekkerkry laat omkrul.


Nou het ek eintlik die hele resep gegee, maar ek was so bang iemand mors dit op en dis so lekker, saam met rys of kapokaartappels, of pasta, heerlik, maar dan is alles in die boek van Marlene van der Westhuizen uit 'n ander wêreld, en die stories in die begin van die hoofstukke laat jou saam met haar stap deur die markte van Frankryk, jy voel saam bly en lus vir kook as sy op 'n groot pot afkom, en jy braai saam op Middelvlei. Die vrou kon storie boeke geskryf het, as sy nie kon kook nie, en dis wat enige ordentlike kookboek vir my moet wees, 'n storieboek wat jou saam die kos gaan laat koop, en saam kook, ek soek nie 'n handboek nie, ek soek 'n storie, en in Delectable het ek dit, as dit nie in jou kombuis is nie, kry dit, vandag nog.


Lekker eet


Potjie

No comments:

Post a Comment