Tuesday, May 26, 2009

Moenie dat ander mense vir jou vleis koop nie

Ek wil vandag vir julle goeie raad gee, moet nooit as jy wil braai iemand wat jy nie beter as jouself ken, toelaat om vir jou vleis te koop nie, sommige mense het snaakse idees van wat mens kan eet.

Baie jare terug, 'n goeie twintig jaar of so, gaan ons weg vir 'n naweek saam met vriende, en vriende se vriende. Ek woon op daai stadium in die ou Transvaal, en die bestemming was Magoebaskloof, 'n mooi plek, maar met nare herhinneringe.

Ene Piet vertel ons van die slaghuis waar hy die wonderlike vleis koop, en oortuig ons almal om vir hom geld te gee dan gaan hy vir ons vleis koop. Die eerste aand se braai het bestaan uit wors en t-been. Ek kan nie eers onthou of die wors eetbaar was nie, want toe die vleis ten voorskyn kom, kry ek die skok van my lewe. Hoe iemand dit reggekry het om 'n t-been so dun te sny weet nugter, maar ek het al carpaccio gesien wat dukker as dit gesny is. Vir 'n oomblik het ek gedink dis polonie, maar nee, daar sit waaragtig 'n been in die vleis, ek hou die stuk vleis in die lug op, en ek kan die sonsondergang aan die anderkant van die vleis sien. Terwyl ek so staan en wonder of mens nie maar die been moet uitsny, en dan net olyfolie en peper moet oorgooi, en speel dis is carpaccio nie, begin Piet en trawante te braai. Nou kyk, dit vat 'n rukkie om oor die skok van so iets te kom, en na 2 of 3 minute begin ek weer soort van helder te dink, maar o aarde dit was hoopeloos te laat om die vleis te red, as dit enigsins moontlik was om dit te red, want daai 1mm stukkie steak is alreeds moer toe verbrand, en toe hoor ek Piet sê, nog so 10 minute, dan kan die vleis afkom, ek het nou nog 'n merk waar ek my gebrand het toe ek 'n stuk vleis van die vuur af ruk met my kaal hande, maar dit was ook tervergeefs.

Nooit, maar nooit weer het ek myself belowe laat ek toe dat iemand weer vit my vleis koop nie, ek en my vriend Karl is wel voorgespring een naweek toe ons wou braai, en om nou nie vriendskappe te versuur nie, gaan ek my weerhou daarvan om name te noem, maar asseblief, as jy nie kan ordentlik braai nie, moet ook nie die vleis koop nie, want jy weet nie van vleis af nie, en groot asseblief, moet ook nie dat jou vrou vleis koop nie, ons braai nie "minute steaks" nie, om die waarheid te sê, ons koop dit nie eers nie, as jy te suinig is om ordentlike vleis te koop, ek is regtig ok daarmee om my eie vleis te koop, moet nou net nie eerste in die braaibak inspring en my vleis eet en jou budget tjops vir my los nie, dis vieslik verby van jou.

Lekker eet

Potjie.


 

No comments:

Post a Comment