Thursday, April 30, 2009

Verrassing uit die Cederberge

So tydjie terug is ek besig om bietjie Saugvignon Blanc by Checkers vir vroulief aan te skaf, toe my oog 'n bottel genaamd Cape Atlantic vang. Soos ek tevore al gese het ek is nie juis 'n witwyn drinker nie, maar vroulies is baie vol nonsense as dit by haar saugvignon blanc kom, ek drink baie makliker plonk as sy. Uit pure nuuskierigheid gooi ek toe vir my ook 'n glas van die wyn, en tot my verbasing gaan dit heel goed in die rooiwyn keel af, maar die toets kom nog, vroulief moet nog sluk. Vroulief se gesig helder op na die eerste sluk, en ek word aangesĂȘ om die volgende dag 'n klomp van die bottles te gaan koop, want "dis nie 'n R30.00 wyn die nie, en dit sal nie lank die prys bly nie" volgens vroulief.

Ek bekyk toe die bottel van alle kante om te sien wie se wyn dit is, die enigste leidraad op die bottel is die web address, http://www.cederbergwine.com/. Ek kyk in die John Platter boekie, en die naaste is Cedeberg Private Cellars, maar daar is geen woord oor 'n wyn genaamd Cape Atlantic nie. Internet toe, ek kry 'n email address, wat my lei na ene Pieter du Toit. Ek vra hom toe of dit dieselfde as hulle Cederberg Saugvignon Blank is, en binne enkele minute antwoord hy my soos volg.

"More Barry,

Dit is al die wyn (Sauv) wat David dink nie geskik is vir die Cederberg reeks nie. Uit die aard weet jy dat ons nog 'n SAUV maak, nl David Nieuwoudt Ghost Corner Sauvignon Blanc 2008 - lg se druiwe gaan haal hy met 'n koeltrok in ELIM.

Die ironie is nou: Die DN GC het Veritas dubbelgoud gekry saam met die Cederberg se Sauv. Vir die Veritas skryf ons nie die Cape Atlantic in nie, maar ons doen dit wel vir die Wine Mag se Sauv Challenge en toe gaan kry beide die DN GC en die Cape Altantic vier sterre en is die twee onder die top 13 uit 185. Die Cederberg Sauv het drie sterre gekry.

Soveel panele, soveel punte ...

Groete

Pieter"

Terwyl ons toe nou op die wyn topic is, en hy sy email so lekker vinnig beantwoord, toe vra ek hom sommer bietjie uit na 'n paar ander goed, en weereens antwoord hy blitsig met die volgende.

"Barry

In die Platter is ons bloot Cederberg Private Cellar.

Die Cape Atlantic is nie daar in nie, want ons het begin om dit te maak as 'n Weskus-wyn en wou dit aanvanklik nie daardie blootstelling gee nie, maar toe ruk dit positief hand uit - die Ghost Corner is wel daar in. Hier is die pryse op die plaas - van die drie verskillende Sauv's:

Cape Atlantic - R30

Cederberg - R75

DN GC - R120

Die DN GC SAUV is oral uitverkoop - dalk is daar nog daarvan by een van die Caroline's in die stad en dalk nog by die Wijnhuis in Stellenbosch. 'n Uitstaande wyn, maar nie tipies SA Sauv nie - dit gaan ook baie beter drink soos wat dit ouer raak.

Wat rooi aanbetref maak ons drie rooies in die Cederberg reeks:

Cederberger

Cabernet

Shiraz

Die Shiraz noem ek "the tail that wags the dog" - die wyn het elke moontlike prys al geneem wat daar is: Best rooi in SA in 2004 en beste Shiraz in die wereld by Decanter in 2008. Die Cab is die wynmaker se gunsteling en koop versamelaars dit graag en die Cederberger is 'n rooi versnit: Merlot, Pinotage en Shiraz.

'n Wenk: As jy rooi in die somer drink - sit dit vir 'n kort ruk in die yskas - nie so koud soos wit nie. Soos wat dit in jou glas afkoel, beweeg jy deur versillende geure - fantasties. Ek drink deserdae al my rooie omtrent net so. Onthou dat as jy 'n "af" rooi wyn het (betreffend kwaliteit) bedien dit kouer.

Groete

Pieter

... dankie vir die belangstel."


Dankie vir die vinnig antwoord, en die interesante feite Pieter,

Liewe vriende vat my woord hiervoor, pak gerus 'n paar van die botteltjies in as julle weer aan de wyn koop is, spyt sal julle nie wees nie. Maar nou die ander dag toe sien ek die Cape Atlantic label op die rooiwyn rak in die winkel, en ek wonder wat vang die mense nou aan. Met nadere ondersoek blyk dit toe 'n Merlot te wees, en ek sit my volle vertroue in Pieter en die wynmaker David van Cederberg Private Cellers, en koop 'n paar, ongeag die feit dat ek nie gereeld Merlot koop nie, maar spyt was ek glad nie, Ek het alreeds vir Pieter gemail om te hoor of daar 'n lekker storie is oor die Merlot, en in tipiese Pieter styl het hy baie vinnig geantwoord, hy is tans in die stad, maar sal sodra hy terug is op die plaas al my vrae in detail beantwoord. Moet nou nie wag tot Pieter ons antwoord nie, die storie is dat jy maar die Merlot kan koop, en dan laat weet jy sommer hoe jy hom geniet het. Sodra Pieter antwoord, vertel ek julle wat hy sĂȘ, maar net vir die wat my laat weet hoe die merlot smaak.

Lekker drink

Potjie





1 comment:

  1. Aunty kan nie kook nieApril 30, 2009 at 11:54 AM

    Sal beslis die wyne uitprobeer. manlief is ook 'n rooiwyn drinker, maar in die somer hou ek van 'n wit wyntjie. Jou kos maak ons elke dag so honger by die werk, gelukkig is ons ver van die naaste winkel.

    ReplyDelete