Wednesday, May 6, 2009

Onthou Kos



Wat is die kos wat jy onthou van klein tyd, wat jou sommer 'n glimlag laat kry as jy dit sien, en die smaak is op jou lippe net by aanskoue daarvan. Vir my is daar 'n paar dinge. Die eerste een is vetkoek, kerrie mince vetkoek, en dis nie grand kerrie nie, borrie, uie, kerriepoeier sout en peper is al wat ek kan onthou dat my ma ooit daarin gesit het, en natuurlik word mince altyd gedokter met 'n bietjie worcestersous. Die is nie 'n ding wat jou mooi kan eet nie, want die botter lek by die kant van die vetkoek uit, die mince peul langs die kante uit van oordadigheid, en natuurlik word die ding vet-koek genoem met 'n rede, kolestrol vriendelik is hy nie, maar ons eet hom mons darm nie elke aand nie. Moenie appelkoos konfyt as vetkoek se maat weggooi nie, met chedder kaas, 'n groot lekkerte. En maklik om te maak. Die maklikste resep is om brood deeg by die kaffee te koop, knie die uitgeryste deeg af, breek balletjies af van die deeg, maak dit plat, en braai dit in die olie, oor matige hitte tot goudbruin aan elke kant. As jy flukser is kan jy self brooddeeg aanmaak, maar as jy nie een of ander fensie masjien het om jou te help knie nie, gaan jy maar self moet sweet, of anders kan jy vetkoek mix koop, jy gooi net water by, ek kan nie getuig van hoe dit smaak nie, maar die botprood mix werk heel goed.


Die ander ding is 'n javel, nie 'n snackwich of toasted sandwich nie, 'n regte javel, oor die gasplaat gemaak in 'n javel pan. Die vetkoek se kerrie mince is ook javel se maat, maar jy kan enige ding insit, maar daai javels in die sakkies wat mens deesdae in die winkel te koop kry, daai kan ek nie aanbeveel nie, hoe hulle regkry dat die brood rou smaak weet ek nie, want mens gebruik tog gaar brood on javels van te maak, ek dink die bruin ringetjies op daai javels word opgeprint. Ek en vriend Karl het een vakansie daar op die wal van die Olifantsrivier amper ons vrouens lewendig verloor, oor ons vir drie dae lank wou haas javels hê vir ontbyd en middag ete, verstaan nou nog nie hoekom hulle so kwaad geword het nie, die haas was dêm lekker, en daar was haas oor, maak sin om haas javels te eet.


Nog 'n ding wat my na klein tyd laat verlang is pannekoek, sulke lekker besaar pannekoeke, dik van die kaneel suiker, die suiker en kaneel smelt tot 'n stroop binne in, en jy kan die pannekoek stalletjie uitryk as jy by die besaar of kermis se deur inkom, ek kon nog nooit so pannekoek self bak nie, en nee skoonsus Christa, woolies se pannekoeke smaak nie lekkerder nie, nie eers amper so lekker nie, en dis dit.


Die laaste ding, of soort van 2 ding is brood, die eerste ma se tuisgebakte brood, daai korsie met botter en marmite, ek ruik sommer daai brood waar ek nou hier sit en tik, en die 2de ding is ook brood, maar kafee brood, op my tuisdorp het die bakkery altyd sondag aande warm brood by die kafees afgelewer, omtrent net so by die tyd wat die aanddiens van die kerk klaargemaak het, ek kan sweer die hele dorp het sondag aand aan brood geruik, en die hele dorp was by die kafee om te kom brood koop, 2 brode, een wat vanaand so warm opgeёet gaan word, en dan een vir more se broodjies skool toe, al die winkels het deesdae bakkerye, maar ek kry net nie weer daai sondagaand warm brrodjie van my tuisdorp nie.


Ek weet ek het al laaste ding gesê, maar nou onthou ek nog iets, harders, iets wat ons nie meer baie braai nie, mense mons vol nonsens deesdae oor 'n vis grate het. Maar as jy nog nie 'n vars harder wat oor die kole gebraai is, geёet het nie, dan voel ek jammer vir jou my maat, maar miskien is dit beter dat jy nie het nie, want ander gaan jy jou vrou kwalik neem elke keer as sy jou daai gevriesde hake gee, en ek wil nou nie moeilikheid in jou huis veroorsaak nie.


Ek verlang nou so terug dorp toe, vanaand drink ons nie rooiwyn nie, vanaand is daar net een ding, ons vat 'n Swartland Hanepoot, goudgeel lê hy daar in die glas, en stroopsoet, maar versigtig nou, die ou kan jou seermaak, moreoggend voel dit dalk net of iemand jou met die bottel oor die kop geslaan het. Vir ingeval julle gewonder het, ja dit moet Swartland Hanepoot wees,daar uit Malmesbury, want dis daar waar die warm brood op 'n sondag aand gebeur het.


Ek wonder of daar nog warm brood by die kafee afgelewer word sondag aande, is daar iemand wat kan help?


Ns. 1) Mince word ook soms maalvleis genoem, maar my ma het mince gebreik.


2) Vetkoek en potbrood mix is mix, nie mengsel nie, dis iets anders.


3) Javel is javel, as dit nie afrikaans is nie, dan het hy nie 'n afrikaanse naam nie.




Swartland wynkelder maak heelwat meer as net hanepoot, gaan kyk self by http://www.swwines.co.za/.




Lekker eet


Potjie.

4 comments:

  1. My mond water, en ek het nie gedink daar is rerig iets wat my na die "tuisdorp" kan laat verlang na, maar die huis-kos (brood, vetkoek en jafels), basaar pannekoek en Sondagaand se vars wit brood het dit wraggies gedoen! Lekker eet!

    ReplyDelete
  2. Aunty kan nie kook nieMay 7, 2009 at 10:34 AM

    Daardie varsgebakte brood laat my ook sommer terug verlang plaas toe, maar daardie korsie met botter en plaas vye konfyt skop stof in jou marmite broodjie. Stuur tog 'n paar maklike resepies more wat ek onder my 3 tieners se neuse kan druk om te maak vir moedersdag. (Die resepte moet groot asb. in engels wees, want my klomp is 'n bietjie gebaster en praat eindlik net engels)

    ReplyDelete
  3. Ek kan ongelukkig nie vir jou resepte in Engels gee nie, want ek kan nie Engels praat nie

    ReplyDelete
  4. Potjie ek is onseker waar jy bly, maar lyk my jy is ver van die huis. So is ek. Ek bly in Lodon en is n lector in Food tegnology ext. hier. Ek soek my dood na a javel pan. Weet jy waar ek een kan kry? Jou skrywes maar my honger en laat my vrek verlang
    Die juffrou

    ReplyDelete