Friday, May 8, 2009

Oor my dooie lippe

Terwyl ek so deur 'n paar ou kook tydskrifte blaai, vang my oog vir Jamie Oliver by 'n bbq met eiervrug op, en ek dink dadelik aan my swaer Gidius daar in Kanada. Gidius glo vir 'n feit dat eiervrug nie bedoel is vir menslik gebruik nie, en ek sal self nie met absolute sekerheid kan sê hoekom iemand die ding sal wil braai nie. In die Savoy Cabbage Cookbook is daar 'n resep vir eiervrug wat so baie ander goed by het, dat dit nog net die tekstuur van die eiervrug is wat dit veraai, maar dis die tekstuur wat blykbaar my swaer se groot probleem is.

Ek begin toe dink aan goed wat mense nie eet nie, ek self het nie baie moeilikheid nie, maar 'n rou appel eet ek nie, van kleintyd af nie, ook nie sandwichspread nie, die goed lyk en ryk dan soos kots, hoe kan 'n mens dit eet, en een laaste ding, van dit het ek nie geweet tot vroulief dit nou die dag hier aangebring het nie. Hoender viennas, nou kyk 'n vienna op sy beste is vir my sleg, maar die hoender goed is sleg verby, ek raak sommer lus vir 'n appel!

My vriend Karl sê uit respek vir die manlike geslag eet hy nie 'n ding se testikels nie, dis blykbaar 'n groot lekkerte, maar ek gaan met die een by Karl staan, dis net nie reg om dit te eet nie.

My sus Lynn se oudste dogter Alta, eet nie uie en mushrooms nie, nou mushrooms kan ek miskien verstaan, ek is mal daaroor, maar dit is 'n swam wat in beesmis gegroei word, die uie ding kan ek nie verstaan nie, want 'n bredie kan jy nie kook sonder uie nie, sop ook nie, en hoe gaan jy nou 'n braaibroodjie maak sonder uie, dis soos dans sonder musiek man.

My vriend Johan eet nie toast nie, hy sê mens toast net ou brood, en hy eet nie ou brood nie, maar jy kan jou nie veel aan hom steur nie, hy eet ook nie advokado nie, en met kaas sukkel hy ook, gelukkig hou hy van braai, anders weet nie wat sou van ons vriendskap geword het nie.

Ek raak nou skoon senuagtig van dink aan alles wat mense nie eet nie, ek gaan nou 'n paar skaap nek tjops uithaal om te ontvries vir more, ek dink 'n boontjie bredie is net die ding vir 'n vrydag aand.

Geniet julle naweek, ons gesêls weer maandag

Lekker eet

Potjie


 

No comments:

Post a Comment