Tuesday, April 27, 2010

Die gevare van koolsop

So week terug vra my vrou ek moet weer koolsop maak, sy dink ons moet altwee op die koolsop dieëet gaan. Nou kyk, koolsop kook is een ding, om dag na dag koolsop te eet, en met die gevolge daarvan saam te leef is 'n heel ander ding. Die volgende is die bestandele waaruit die sop bestaan: 6 uie, seldery, kool, paprika, tamaties, eiervrug, zucchini, artisjokke, wortels, pietersielie. Soos jy kan sien is hier 'n paar bestandele wat gas met 'n substansie opbou in die menslike liggaam.


Sop is winterskos, en klaarblyklik is dit die rede hoekom vroulief met die plan nou voor die dag gekom het, maar hierin lê die groot probleem, in die winter slaap mens onder 'n dik duvet, en wat onder daai duvet gebeur word geheim gehou todat hy die volgende oggend opgelug word, en dan tref koolsop jou met 'n slag. Juis hierin lê die geheim van die dieëet, want as daai reuk jou vroegoggend so tussen die oë slaan, dan is jou eetlus vir ten minste 'n dag lank weg, wat natuurlik jou onder die indruk bring dat die sop jou 'n hele dag lank nie laat honger word nie, so die volgende aand is jy weer bereid om koolsop te eet, en dan begin die gas siklus weer van voor af.


As jy belang stel om die hele dieëet onder neus, ek meen oë te neem kan jy die volgende wenwerf besoek: http://www.muhakeme.net/af/lahana-diyeti-t12512.html.

Lekker eet

Potjie


No comments:

Post a Comment