Wednesday, January 27, 2010

‘n Rekkie vir die braai

Daar is twee goed waarvan my swaer Marius nooit beskuldig sal word nie. Die eerste ding is dat hy sy gaste te vroeg laat eet, en die ander is dat hy hulle honger gaan laat slaap nie, dis nou behalwe die wat moed opgegee het dat hy wel gaan braai. Kyk die man hou van vuurmaak, ek glo nie hy was al ooit in 'n panarie met te min kole hê nie, ons moes al lank wag om koel genoeg kole te he waarop ons vis kon braai, maar te min kole aikona.

Vrouens het hierdie aaklike gewoonte om mans aan te jaag wat vleisbraai, en dis mans wat sleg beplan wat vrouens die idée gegee het dat 'n braai gouer kan gaan. Wanneer vrouens sien dat daar wel gebraai word, is hulle nog soort van gelukkig om laat te eet, maar mans wat nie tot braai kom nie, daaraan het hulle 'n afsku.

Nou sien die geheim lê daarin om vroeg te begin braai, maar 'n verskeidenheid van vleise te hê om te braai, sodat jy 'n verskoning kan hê hoekom jy so lank braai, want geen man wat resepek het vir kos sal vark en skaap en hoender en wors op een rooster braai nie, nee elkeen het individuele aandag nodig. Dan is daar die bak wat eenkant staan, die rekkie (soos in ons rek die braai langer uit) dit is die vleis wat jy opsit as vroulief jou uitvang dat daar niks meer op die kole is nie, maar jy bring nie die kos in nie, wanneer dit gebeur sit jy die vleis in die "rekkie" bakkie op die kole, en dan maak jy klaar, wanneer jy dit tot hier uitgerek het, dan is die ys dun. Swaer Marius het die rekkie metode na hy dit ontwerp het ook vervolmaak.

Nou kyk, as jy nie kan braai nie, moet dan nie die rekkie metode gebruik nie, dit kos fyn beplanning, jy wil nie die mense droë kos gee nie, so as jy so voor jou geestesoog gesien het hoe jy begin met steak, en dan die hoender gebruik vir 'n rekkie, dan is die metode nie vir jou nie, jy gaan verseker die kos opmors, jy laat nie steak in 'n bak vir ure lê na jy dit gebraai het nie, 'n paar minute sê rus is al, jy maak so met steak.

Smeer met olyfolie, maal growwe peper mildelik oor albei kante van die steak en braai oor warm kole tot die gaarheid wat jy dit wil hê, maar na medium kom verbrand. Elkeen kan sy eie vars sout op die steak gooi, die braaier het niks uit te waai met ander se sout gewoontes nie, maar dit geld net vir steak. Daar by die universiteit se Afrikaanse fakulteit noem hulle steak biefstuk, as julle dalk gewonder het.

Ek het nog net die rekkie metode by ander mense aanskou, ekself sal nooit my vrou deur sulke foltering sit nie.

Lekker eet

Potjie



2 comments:

  1. HAHAHA Nou verklap jy al die geheime!!! LOL. Bly jy is weer terug

    ReplyDelete
  2. Nou weet ek ook hoe die storie werk! Maar ek dink ek moet hierdie post wegsteek vir my man - hy't nog nie die rekkie geheim ontdek nie...

    ReplyDelete