Tuesday, January 26, 2010

Harders braai die Weskus manier

Mense sal jou baie goed vertel, jy sal selfs mense kry wat jou vertel om harders op te stop met uie en allerande vreemde goed, moenie sulke mense vertrou nie, hulle sal jou ander leuens ook vertel.

Vir harder braai het jy net 3 nee 4 goed nodig, hout,growwe sout, harders en soetwyn, dis dit, niks meer is nodig nie, so gebraaide harder is so lip lek lekker, dat jy nie eers vriende nodig het om dit mee te deel nie, maar as jy nou wel 'n paar vriende daar rondom die vuur het, sal dit ook nie skade doen nie.


Gooi die harders (verkieslik skoon pens harders, jy hoef nie hulle pensies oop te sny nie) dik van die growwe sout, maak vuur (in die volgorde, moet nou nie begin jaag nie) krap vir jou kole een kan toe, gooi vir jou 'n glas soetwyn, en wag tot die kole genoegsaam afgekoel het vir visbraai. Pak jou harders op 'n toeknyp rooster en braai stadig oor die koel kole. Pieter Pieterse het gesê as jy nou op jou senuwees raak dat die kole nie die vis gaan gaar kry nie, gooi vir jou nog 'n dop om jou senuwees te kalmeer. As jou kole koel genoeg is gaan jy waarskynlik so 20 minute braai, vinniger as dit en jy het gejaag, man jaag nie met Weskus kos nie. Vye konfyt op 'n potbroodjie pas soos Piet op Griet by harders, korrel konfyt werk ook (sommige oningeligdes noem dit druiwe konfyt). As jy die harders klaar geëet het behoort jou mond rondom te blink van die vet, en jou oë te glinster van die lekkerte. Die soetwyn drinkery is omdat ons besig is met ontbyt hier, harders kan ook vir middag en aandete gebraai word, drink dan maar wat jy wil, maar 'n hanepootjie sal dan ook werk


Net om alle onduidelikheid uit die weg te ruim. Bokkems word (gewoonlik) van harders gemaak, hulle word gesout en winddroog gemaak, ander vis kan ook gebruik word, soos steentjie byvoorbeeld, maar harders is wat gewoonlik gebruik word, maar let wel, 'n bokkem is nie 'n klein harder soos sommige mense beweer nie, maak nie saak of hy groot of klein is nie, as hy gesout en gedroog is, is hy 'n bokkem, mense wat jou vertel 'n bokkem is noodwendig 'n klein harder, kan harders met uie stop. En laaste ding, ek het niks teen uie in vis nie, maar los maar die harders, sommige dinge moet immers bly soos dit altyd was, al is dit net ter wille van soetwyn drink saam met harders.


Lekker eet


Potjie



2 comments:

  1. Hhhhhhmmmm klink so lui lekker. Ek het nog nooit harders of bokkems geproe nie. Maar ek sou graag gebraaide harders probeer. Dankie. Nice blog.....:o) xx

    ReplyDelete
  2. Baie dankie vir hierdie resep. Ek het 6 harders by Ch*ckers gekoop. Ons was slegs 2 en dit was heerlik - my Russiese vriend het gese, dis die heerlikse vis in sy lewe!! Ерфтл нщг!!

    ReplyDelete