Thursday, April 23, 2009

Winter met die skoonfamilie




Dit is koud en nat, en na die eerste amper wintersdag onthou ek hoekom ek 'n sonskyn kind is, ek voel klaar depressed na 'n paar ure van nie die son sien nie, maar ten minste maak die gedagte van winterskos my smile.

Bredies, en kerries en sop, kos wat die hele huis na kos laat ruik, kos wat 'n weersin aan witwyn het, rooiwyn ja, of port is wat hulle vra. Soos daai kerrie piesang oxtail waarvan my vriend Karl gese het, "mens eet g'n vrugte saam met kos nie" en hom toe so oorhoeks daaraan geeet het, dat hy 3 dae later nog ongemaklik was. Kyk ek voel trots op daai oxtail, maar as jy nou wit weet hoe moet oxtail nou regtig smaak, smeek my skoonsus Dalene om dit vir jou te maak. Sag, sag sit dit net-net nog so om die been vas, een druk met 'n vurk en daai been is silverskoon, so kerrie speserye mengsel wat sy bysit, wat 'n groot lekkerte, soms laat sy haar man toe om dit so ruk in sy potjie te sit vir die laaste bietjie kook, sodat hy kan glo hy het dit gemaak, maar groot 'seblief moenie se ek het so gese nie.

Nou moenie pastei weggooi as winterskos nie, en as skoonsus Crista my vergeef het omdat ek haar soetrissie gedoop het, dan vra ons haar vir haar hoender pastei, glo net woolies hoender is goed genoeg, ek weet nie of die stukkies ham wat daarin is, van Italie of Portugal af ingevoer word nie, maar ek is seker daar is een of ander gehein daaromtrent. Man groot lekkerte, ek beloof jou.

Nou ek hoor skoonsus Marieta kan na al haar jare daar in Durbs se wereld 'n mean kerrie maak, maar dit is hoor se, nog nooit geproe nie, en ek hoor daai skoonsus wat my vrou so vinnig na toe wegraak in die aand, kan ook kook, maar swaer Ferdie het die takie oorgevat, hy't belowe hy gaan vir ons nog 'n resep hier gee, maar ons sal dit eers moet toets, die ou kan nogal 'n mean streep in hom he, en ek wil nie moeilikheid optel nie.

Vir swaer bokka, ook soms Neels genoem, se kerrie afval kan ek self getuig, hy mag maar, pote en pense is sy ding, dis nou as hy nie besig is met snoek braai nie. Nou my ander swaer genoem Marius of groot broer, hy is die braai man, maar as jy honger is oppad na hom toe, koop maar eerder 'n pie of 'n ding, want gou gaan jy nie eet nie, lekker ja, in oorvloed ja, maar gou, nee my ou maat, nie maklik nie.

Van Lance alias Roy, het julle al gehoor, of hy kan kook die weet ek nie, hy se hy het al gebraai, maar so tussen die boere kry die soutie maar min kans vir braai, selfs by sy eie huis laat hy ons braai, sonder meimering, nou nie dat Marius eintlik toestemming vra of hy mag braai nie, hy braai. Met stokke moet jy hom verdryf, en met kettings vasbind, en dreig dat jy Durbanville Hills gaan afbrand om hom weg te hou van die braai af. (Nee DH behoort nie aan hom nie).

Sjoe, julle, nou is ek bleddie honger, sal maar gou hoor of die porra vroutjie hier op die hoek vandag sop gekook het, laat weet bietjie wat is julle gunsteling winters kos.

Ns. Dankie Dalene vir die colage van die family.

Lekker eet

Potjie.

No comments:

Post a Comment