Thursday, April 16, 2009

Net soos in die res van die lewe, werk ons planne in die kombuis nie altyd uit soos ons dit beplan het nie. Maar moenie dat dit jou onder kry nie, 'n bestandeel kort, kos wat nou gebruik moet word, res van die familie nie lus vir wat jy vanaand wil maak nie, ok, geen probleem, alles onder beheer, solank ons kan kook, het ons 'n lied in die hart.

My beter helfte gee nie gewoonlik te veel aandag aan wat in die kombuis aan gaan nie, of in die kos kas nie. Maar o wee, gisteraand stop sy by die winkel en besluit sy is lus vir pasta rys, en koop toe sommer 'n blikkie sampioene (ag nee man), 'n sakkie tamatie en kruie sous (nee regtig, wie koop sous?), 'n pakkie maalvleis en die pasta rys.

Liefie besluit toe, sy gaan net vinnig 'n draai by haar suster maak (dis nooit vinnig nie) en ek sien toe die gaping, en bied aan om maar die kos te maak terwyl sy weg is, wat dadelik met geen teenkanting aanvaar word nie.

Ok stap 1, maak die bottel Goatshed (daai rooi van Goats Do Roam waarvan ek gister vertel het) oop, en gooi in glas, ruik, bekyk, vat sluk, sug behaaglik, vat nog 'n sluk, kry kop skoon van dag se werk, en begin dink kos.

Kom ons kyk wat ons kan doen aan die saak, twee uie, a! hiers 'n groot groen soet rissie in die yskas, een pakkie swart olywe, sakkie cherry tematies, olyf olie, basil, origanum, sout, paprika en swart peper.

Die plan begin vorm aan neem, vat twee snye wit brood en gooi bietjie melk oor en laat week bietjie. Skil en kap die twee uie en die groen rissie, sit 2/3 van ui en groen rissie by die brood, asook die maalvleis, onpit en gekapte olywe, eier, bietjie paprika, sout en peper, meng en maak klein frikkadelletjies, as dit bietjie nat is en nie lekker bind nie, gooi bietjie broodkrummels by.

In 'n pan of pot wat jy in die oond kan sit, gooi olyf olie, omtrent so 100ml of meer, braai die tamaties tot die skille bars en die sous begin uitloop, gooi die uie en groen rissie wat nie in die frikkadelle gebruik is nie, in die sous en braai tot gaar, gooi daai blikke sampioene in en braai, gooi die pakkie sous wat vroulief gekoop het in die pan en laat alles lekker deurkook, gooi sout. peper, origanum en basil na smaak by, wanneer die sous lekker deurgekook is, sit die frikkadelle in die sous. As die sous te dik of droog lyk, gooi van jou rooiwyn daarin, ek doen dit in elk geval. Sit die pan in 'n voor verhitte oond van 180Grade en bak so 30 minute, tot die frikkadelle gaar is. Kook die pasta rys volgens die aanwysings op die pakkie.

Besluit of jy nog 'n bottel wyn gaan oopmaak. Bel jou vrou by haar suster en se die kos is gaar. Skep die pasta rys in borde, en skep frikkadelle en sous bo oor.

Lekker eet.

No comments:

Post a Comment