Wednesday, April 22, 2009

T-Bone op verkiesingsdag

Ek het gedink dit sal gepas wees om ‘n T-Been, om nou mooi Afrikaans te praat, op verkiesings dag te eet, want staan ons nie vandag meer as ooit tevore voor ‘n t-pad in die sonnige land van ons se toekoms nie. 1994 sal sekerlik onthou word as die jaar waarop ons demokrasie gebore is, waar die wereld gewag het om te sien of die pot (ek wou se swart potjie, maar dit sou nie reg wees nie) gaan oorkook, en dit het nie, in baie se oё, was dit ‘n wonderwerk.

Vandag staan ons nie by die t-been van oorlog of nie, maar wel of die demokrasie gaan hou, gaan ons land brand of te rou wees, of gaan ons dit dit perfek regkry, daai vetjie so effens geskroei en die vleisie nog so pienk en sappig in die binnekant. Politiek en godsdiens is nie etenstafel gesprekke nie, of so se hulle, ek weet nie, ons moet tog op een of ander tyd besluit oor watter spice ons in die kos gaan gebruik.

Net so seker as wat mens nie steak sonder swart peper (jammer maar regtig, wie eet nou wit peper op steak) kan eet nie, net so seker is Zuma more ons volgende prez, die vraag is wat gaan ons nog bysit, sout is na elk se smaak, en wat jy bysit gaan die steak maak of breek, te min en die peper gaan oordonder, te veel sout en jou bloeddruk gaan dit nie hou nie. Vandag was daar baie spice van om te kies, ek hoop julle het reg gekies, wat reg ook al is, ek dink as jy vanaand kan gaan slaap met ‘n skoon gewete oor waar jy jou kruisie getrek het, dan het jy reg gekies, hoopenlik het ons genoeg verskillende smake dat daar iets te ete is vir elk van ons.

Nou dat die maklike vrae uit die weg geruim is, die moeilike een, gaan ons vuurmaak vir die t-bones, of gaan ons die swart riffel plaat wit warm maak, en dit daarop braai, julle slim manne en vroue sal hier moet help besluit. Ek gaan solank ‘n bottel wyn oopmaak.

Lekker eet
Potjie

2 comments:

  1. Ek kan vir 2 weke nie kos maak nie. My donnerse stemduim lyk soos n vrot kol op alles wat ek voorbery. Ek het nou al 4 keer probeer om die ding af te sny, maar gelukkig gestop sodra ek bloed trek.

    Vat daai steak en slaat hom sonder respek 6 keer teen die toonbank in die kombuis (Moeie eers skoonmaak waar jy hom gaan slaan nie - dit gee meer smaak) en dan vryf jy hom lekker in met wat vir jou lekker is voordat jy hom met respek en vir net een glasie wyn op baie warm rooikrans kole braai.

    Hou sommer op om potte en panne vuil te maak.

    lekker eet ou maat...

    ReplyDelete