Monday, June 22, 2009

Van Bele - Bela tot Groot Marico

My vriend daar in Gauteng stuur die ander naweek vir my 'n sms, hy is in Bela-Bela (Warmbad) en is besig om kameelperd, wildebees, eland en gemsbok te braai. 'n Kapenaar sal nie sommer herken hy verlang na die ou Transvaal nie, maar op daai oomblik het ek nogal gewens ek was daar, hier is net springbok, en die wildsvleis in Checkers sê "Game" nou weet ek nie, in die yskas waar die skaap en die vark en die bees en hoender lê, staan nie op die pakkies "Farm animals" nie, nou hoekom daar nie op die wild kan staan of dit springbok of eland of vlakvark is nie, kan ek nie verstaan nie.

Ongeag van die feit dat die meeste wild wat ons hier in die Kaap kry springbok is, is springbok darm nie te versmaai nie, so lekker springbok stykie op warm kole, moet nou nie oorgaar maak nie, daar is geen rede hoekom hy droog gebraai moet word nie, miskien 'n springbok nek potjie, as jy nou nie van 'n geloof is wat nie vark mag eet nie, sit 'n stukkie varkspek in, of 'n skaap vetstertjie as jy het, en dan maak springbok saam met vark darm vir jou 'n heerlike wors.

Ek wonder of die mampoer manne daar in die Groot Marico pampoer gebruik om te kook, ek weet daai manpoer het my warm genoeg gemaak om mee te kook, maar sal 'n wildboudjie gemarineer in perske mampoer nie werk nie?, moet net nie oop vlamme naby die bak bring nie, netnou maak jy hom gaar daar in die marinade bak. Herman Charles Bosman se oom Schalk het niks van sulke wilde gedagtes gesê nie, maar hulle het genoeg ander wilde goed aangevang dat ek dink dit is moontlik dat die mampoer hulle kon aanvuur tot sulke slimmighede. Ek en my Gautengse vriend het ons een saterdag aand vasgeloop in 'n heuning mampoer likeur, of so iets, ek dink ons so beter gedoen het om 'n vlakvark boudjie te doen met daai heuning mampoer, ek weet my kop sou beter gevoel het die volgende dag, maar glo my, daai mampoer het gesorg vir 'n hele paar slim planne.


Ek is bly om te hoor na 4 jaar in die Transvaal het my vriend nie pap saam met die wild gemaak nie, hy sê D'aria se marmite broodjie werk heerlik.


Lekker eet


Potjie

No comments:

Post a Comment