Monday, June 1, 2009

Die Braaibroodjie



As daar nou een ding is wat 'n hewige debat kan veroorsaak rondom 'n braaivleis vuur is dit braaibroodjies. Dit is veronderstel om 'n eenvoudige ding te wees, maar o wee, die gemoedere kan opvlam, mens kan sweer dit het met politiek of godsdiens te doen, maar vir sommige is dit baie meer belangrik as dit.


Ek het groot geword met 'n braai broodjie wat bestaan uit twee snye wit brood, botter of margerine, tamatie en uie, en natuurlik sout en peper. Erens het kaas by gekom, en dit op sy eie kan 'n groot argument word. My ou maat Karl sweer hy is die braai broodjie koning, en ek weet hy gebruik cheddar, daar is nou die gourmet manne en vroue wat mozzerella opsit, daai goed hoort op pizza's en pasta, nie op 'n braai broodjie nie as jy my vra.


'n Ander gewoonte wat kop uit gesteek het, is om chutney op die brood te smeer, met nog steeds die kaas,tamatie en uie, glad nie sleg nie, nou kort ons nog net 'n pattie dan het ons 'n hamburger!. Chutney word dan ook vervang met chillie sous, as julle so aangaan dan word die tamatie seker een van die dae vervang met tamatiesous.


Die belangrikste bestandeel is die brood, en die vraag is wat se wit brood om te gebruik, en let op, ek sê, wat se WIT brood, waar julle aan julle nonsens kom om braai broodjies te maak met bruin brood weet nugter. Stoney glo dat net 'n "dumpy" wit brood sal werk, as jy nou regtig 'n goeie braai broodjie wil maak, as ek reg onthou gebruik Karl daai "toaster" broodjie, miskien kan hy sy stem laat hoor.


As ek nou nie vir Steyn hier tussen die braai brood manne noem nie, sal hy baie ongelukkig voel want nes Karl glo hy, dat hy die braai broodjie koning is, ek dink ek gaan hom en Karl Desember 'n braai broodjie "braai-out" laat hou, dan kan ons sien wie kan praat en wie kan braai. Vriend Steyn is een van die straigt en narrow (veral straight as julle nou weet wat ek bedoel) hy sal nie souse op sy broodjies gooi nie.


Die laaste maar die belangrikste is dat die goed binne in die broodjie moet gaar wees, sonder dat jy die brood verbrand het, daarom braai jy hom laaste, as die kole nog baie warm is, braai die bleddie brood dan hoёr, moet nou net nie so min kole oor hê, dat jy dit in die oond moet toast nie, dan is dit toast, nie braai broodjies nie, en broodjies waarvan jy die swart moet afkrap, is verbrand, gooi weg en probeer weer.


Laaste ding, net omdat jy dit op die vuur gaar gemaak het, maak nie van 'n appelkoos konfyt broodjie 'n braai broodjie nie, sorry swaer Gidius, maar ten minste het die Bulle die super 14 gewen, al ken julle nie van wat 'n regte braai broodjie is nie, en die is nie 'n uitnodiging om aanmerkings oor die Stormers te maak nie, ons weet presies hoe treurig hulle is.


'n Ordentlike braai broodjie bevat dus die volgende:


2 Snye ordentlike wit brood


Tamatie en Uie


Cheddar Kaas


Botter


Sout en peper


En om mee af te sluit, ek het 'n engelse meisie gehad wat die botter op die buite kant van die brood gesmeer het, die bleddie ding gaan nie getoast word nie, die botter kom aan die binnekant, en dis dit.


Lekker eet


Potjie

No comments:

Post a Comment