Tuesday, June 9, 2009

Ons eet soos ons Lewe

As ek dink aan hoe die meeste mense kos maak, en hoe die meeste mense lewe, dan is daar 'n baie groot ooreenkoms. Hoe kook jy in die aand, kook jy iets wat regtig lekker is, nie ok nie, and nie iets wat jou huisgesin mee gaan tevrede wees nie, maar iets regtig lekkers, of kook jy omdat julle moet eet. Ek kan ook vir jou vra, is jy gelukkig? Regtig gelukkig, nie tevrede nie, maar gelukkig. Ek sal raai dat die meeste mense kook omdat hulle moet eet, en op die beste is hulle tevrede; en baie is heelwat minder as tevrede.

Die meeste van ons se lewens bevat dieselfde elemente, nie in dieselfde hoeveelhede nie, maar elke element is daar in mindere of meerdere mate. Camellia Panjabi verduidelik in haar "50 Great Curries of India" dat omtrent elke Indiese gereg dieselfde speserye bevat, maar in watter volg orde dit ingesit word, en teen watter hitte en met hoeveel vloeistof bepaal die uiteindelike smaak van die dis. Dit is presies soos ons lewens, watter elemente gee ons die meeste prioriteit, watter element is daar as ons in die warm water is, watter een gee ons laaste en ook die minste aandag aan, al hierdie speserye van die lewe bepaal uiteindelik hoe gelukkig ons lewens gaan wees, of nie gaan wees nie.

Ons het een Sondag middag by 'n familie ete vir almal gevra, wat sal die laaste dis wees, wat jy in jou lewe op aarde wil eet. Soos ek tevore al gesê het, my laaste dis is eenvoudig, dit moet gebraaide galjoen wees, maar nie een enkele persoon rondom daai tafel het iets regtig eksoties gekies nie, ek het dieselfde vraag op die facebook groep gevra, en dieselfde resultate, die meeste mense wil iets eenvoudig en smaakvol he. Die meeste van ons jaag na iets groots, iets wat altyd net so buite ons bereik bly, maar as ons aan ons laaste maaltyd op aarde dink dan is dit skielik iets eenvoudig, amper aards as ek dit so kan stel. Hoekom sal dit so anders as die res van ons lewens wees, is die waarheid nie opgesluit in die antwoord wat ons gee, as ons ons laaste maaltyd kies nie, dat dit die eenvoudige dinge in die lewe is, wat ons op die einde gelukkig maak.

Die ou mense het altyd gesê dat alles met 'n te voor aan, behalwe tevrede is sleg, vandag sê ek, van alles met 'n te voor aan, is tevrede die heel slegste, wees gelukkig, en gooi tevrede weg, verban dit uit die woordeboek vir ewig, kook om lekker te kook, lag uit jou maag uit, drink champagne net omdat jy lewe, en wys die mense rondom jou jy is lief vir hulle, en moenie toelaat dat enige iemand jou ongelukkig maak nie.

Lekker eet

Potjie

No comments:

Post a Comment