Wednesday, November 17, 2010

Hout wat sweet

Soms is dit ongelooflik hoe dom andersins heel inteligente mense kan wees as hulle iets simpels soos hout koop moet doen, en hoe goedgelowig.

Mense vra hout verkopers "Is die hout droog?" dit is soos om vir 'n gebruikte motor verkoopsman te vra of daar iets fout is met die motor wat hy aan jou probeer verkoop, moet liewers nie vra nie, daar gaan waarskynlik vir jou gelieg word, ja van beide die hout en die motor verkoper.

As jy na 'n sak hout kyk wat gesweet is in die binnekant dan is die hout nat, hulle gaan jou vertel dit sweet net omdat dit in die son lê, of soortgelyke nonsense. Kom nou man, iets kan net sweet as daar vog in is, gaan sit 'n stuk yster in 'n plastiek sak buite en kyk of dit môre lyk soos daai sak nat hout, nee niks het gesweet nie, want daar is nie vog in die yster nie, net so gaan 'n sak droë hout nie in die son lê en sweet nie, want dis droog, daar is nie vog in om uit te sweet nie, heel logies né, so volgende keer moet nie by die huis staan en skel op die verkoper nie, skel jouself dat jy so onnosel was om 'n sak vol water te koop.

Moet ook nie die houtverkoper vra of die hout kole maak nie, hy gaan waarskynlik weer vir jou lieg, as jy nie weet watse hout kole maak nie, bel 'n pel, moet net nie daai ou voor jou glo nie, hy mag dalk lieg, en op daai wit stukke bloekom hout gaan jy geen tjop gaar kry nie, nee man dit kos die helfte minder as die ander hout omdat dit vir niks behalwe kaggels goed is nie, doringhout en rooikrans, wingerdstompe en dies meer maak kole, oor mielie stronke kan ek my nie uitlaat nie, maar daai wit houtjies in die R10.00 sak maak vlamme en dan as, dis omtrent dit.

Lekker braai

Potjie


 

Saturday, November 13, 2010

Sit dit in 'n bottel

As die Springbokke 'n man to raserny dryf is dit altyd goed om iets te kry om jou gedagtes weg te kry van van sinnelose reserwes en verbroude tackles, maar wat weet ek van rugby, ek rook liewer mossels, ten minste stel 'n mossel nie sommer 'n man teleur nie, behalwe as daar miskien rooi gety is, maar mossels is so goedkoop jy kan hulle sommer by die groot winkel gaan koop as jy te ver van die see af bly, of as die see bietjie siek voel.
As jy dalk voel dat jou hande moet nou besig raak anders gaan jy dalk die TV stukkend gooi, of onnodig op onskuldige mense skree (refs tel nie as onskuldige mense nie) pak 'n klompie mossels in jou roker, geur met sout en peper en rook tot net gaar.
Laat die mossels heeltemal afkoel, verwyder uit die doppe. Plaas in gesteriliseerde glas bottels en vul met olie (ek gebruik goeie olyfolie) maak seker dat die mossels heeltemal bedek is.
As jy nou nie bang is vir knoffel nie, sit dan maar so huisie of twee knoffel saam met die mossels in die potjie, laat die geure lekker ontwikkel, as jy dalk so week kan wag sal dit goed wees, dit sal ook beteken jou weerstand is heelwat beter as myne.
Lekker eet
Potjie

Sunday, November 7, 2010

Niks waterblommetjies maar baie wyn

Die grootste fout wat jy as "kosmens" kan maak is om aan te neem dat kos vir ander mense net so belangrik as vir jou is, die werklikheid het ek gister weereens besef.


My vroulief stel my in kennis dat ons gaan na die waterblommetjie fees toe by Windmeul kelder in die Paarl, as jy altyd onder die indruk was dat dit eintlik Wellington is, dan neem ek jou geensins kwalik nie, ek self voel ook dis nader aan Wellinfton as aan die Paarl, maar kyk maar agter op die bottel, daar staan dit, "Wine of Origin Paarl", wat jy jouself oor kan kwalik neem, is as jy nie 'n bottel of twee van Windmeul kelders se wyne in jou huis het nie, selfs vrot van die Michelangelo stickers is die wyne heel bekostigbaar, sonder om enigings kwaliteit in te boek, maar terug na die waterblommetjie fees. Vroulief stel my in kennis ek moet so 16H00 daar wees, want Andriette tree om 16:30 op, dan kan ons wyn en waterblommetjies proe, die probleem was dat die waterblommetjie gedeelte alreeds om 09H00 begin het, al wat oor was om 16H00 was uitgebrande kole, gelukkig was die fees op die gronde van die kelder, so die wyn was nie 'n probleem nie, die gebrek aan waterblommetjies was blykbaar net vir my 'n issue, maar volgende jaar gaan ek vroeg genoeg om die waterblommetjies ook te proe.

Windmeul kelders is 'n produsente kelder in die Paarl (vrek naby aan Wellington) en behalwe goeie gehalte wyne sal jy ook 'n klomp gasvrye mense met 'n passie vir hulle kelder en wyne vind, besoek hulle gerus, jy sal aangenaam verras wees.


Lekker eet


Potjie

Monday, October 4, 2010

Die pannetjie roker

So paar maande terug het ek geskryf van my roker wat ek laat bou het, groot genoeg om vir my vrou se hele familie gelyktydig te rook, maar eenkeer elke 5 jaar is ons alleen, en as ek dan iets wil rook (soos in kos jou blikskottel) haal ek die rook pannetjie uit, net groot genoeg vir so 4 vark tjoppe, of twee nie te groot forelle, en in die klein rokertjie kan jy wegkom met twee teelepels saagsel vir 'n ligte rooksmaak, so bietjie meer vir 'n swaarder rook smaak.

Sit die saagsels onder in die pannetjie, sit die drip skinkbord bo-oor, dan die roostertjie met die vleis of vis, maak toe die deksel, sit op 'n hitte bron, en daar gaan jy, gemiddeld so 10 minute vir elke 100g vleis, bietjie korter as jy dit nie te gaar wil hê nie.


Lekker rook (kos)


Potjie



Wednesday, September 29, 2010

Ryp en reg om te eet

Terwyl ek so in die middag verkeer sit en sukkel oppad Fruit and Veg toe hoor ek op die radio nuus van 'n man wat in 'n padwoede voorval iemand met 'n sambok geslaan het, net toe ry ek verby 'n straat smous wat sambokke verkoop, en ek dink by myself, ek moet nie so ding koop nie, want so geirriteerd as wat ek nou is kan ek dalk net iemand slaan as ek 'n sambok in my kar het.

By Fruit and Veg loop ek reguit na die "Ripe and ready to eat" avo's toe, tussen vandag en die laaste keer wat ek avos gekoop het, het mense blykbaar begin klipharde groen avo's eet, ek begin toe weer dink aan daai sambok, veral toe die bestuurder my 'n lang slap k_k storie vertel, toe haal ek diep asem, wens weer ek het daai sambok gekoop, en toe gaan koop ek maar 4 ooryp en lankal gereed avos by Checkers net om die hoek.

Om te sien wat ek met daai avo's aangevang het, gaan loer in by What's Cooking.

Lekker eet
Potjie


Tuesday, September 28, 2010

Braai aartappels

Gewoonlik is die oond die eerste ding wat aangesit word as mens braai aartappels maak, maar vir die braai aartappel gaan die oond glad nie aangesit word nie, dit gaan regtig gebraai word.









Kook 'n paar lekker groot aartappel tot net gaar, sny in die helfte deur en laat afkoel en droog af. Spuit olyf olie oor die aartappels (Woolies verkoop so olyf olie spuitjie) en maal Khoisan see sout oor die aartappel en braai dan oor kole, ja soos in regtig braai, tot die aartappel lekker bros is, maar moenie brand nie.

Bedien saam met 'n lekker T-been biefstuk, en 'n glas of twee rooiwyn.

Lekker eet
Potjie

Monday, September 20, 2010

Gebraaide Baba Hoenders (Poussin)

Vandag is ons terug by kos, terwyl ek nog een of twee lesers oor het sal ek maar die politiek en ander diep dinge uitlos, en my by kos en wyn bepaal, so gooi vir jouself 'n wyntjie, steek die vuur op en laat ons begin met daai baba hoendertjies, een per person.

Sny die hoendertjies op die borsbeen (dis die kant tenoorgesteld van waar die stuitjie is) in die middel deur, en maak hom lyk soos die hoenders wat hulle in die winkel spatchcock noem.


Vir die klein hoendertjies gebruik ek geen marinade nie, net sout en peper en 'n bietjie suurlemoen sap, en braai maar hoog bo die kole, en logika behoort jou te vertel dat die outjie net die helfte of minder van 'n groot hoender is, so hy gaan helfte of minder tyd vat om gaar te word.

Aangesien die outjies maar min tyd gehad het om mielies te eet, maak ons sommer mielies gaar om saam met hulle te geniet, en aangesien geen braai 'n braai is sonder 'n braaibroodjie nie, braai ons 'n broodjie. En nee, ons gaan nie vanaand stry oor die beste braai broodjie nie, vanaand laat ons die stryery vir die politici en ander goor mense, kom ons maak liewer nog 'n bottel wyn oop en praat oor rugby, wel miskien dan liewer oor braai broodjies, kans vir baklei is minder.

Lekker eet

Potjie

Sunday, September 19, 2010

Wat praat jy?

Na meer as 'n week is ek terug in blogland, om blog vakansie te vat as jy blog genomineer is as een van die 10 bestes in een of ander kategorie hier kort voor die finale is seker nie die manier om jou lesers aan te moedig om vir jou te stem nie, maar as jy niks te sê het nie, dan sê die meeste mans niks nie, ek ken een of twee wat ongelukkig baie te sê het oor goed wat hulle niks van weet nie, maar kom ons los daai gesprek maar vir 'n ander dag.

Ek is al gekritiseer as ek oor ander goed as kos hier skryf, maar die idée was nooit dat die 'n Afrikaanse resepte boek sou wees nie, oor die meeste van my gedagtes oor kos en drank gaan, skryf ek die meeste van die tyd oor kos, maar die blog gaan meer oor dinge wat ons rondom die etenstafel oor praat, my Calvinistiese opvoeding behoort my te verhoed om oor godsdiens of politiek te praat rondom die etenstafel, o ja en oor seks, wel oor seks word eintlik rondom geen tafel gepraat nie, oor godsdiens word gepraat, maar nooit geredeneer nie, wat in die bybel staan is nie oop vir interpetasie nie, jy glo of jy gaan hel toe, so eenvoudig soos dit, ek praat nou van glo woord vir woord, en om eerlik te wees, daar is 'n paar goed wat nogal lekker gestry oor kan word, maar dis hier waar ek nou eers godsdiens langs die tafel gaan laat.


Politiek is 'n ander tameletjie, deesdae kan jy niemand vind wat vir die Nasionale Party gestem het nie, toe ek op skool was, was almal wat nie vir hulle gestem het nie idiote of kommuniste, ek onthou die storm wat dit ontketen het in die familie toe ek die voorganger van die DA die Onafhanklike Party of kanidate ondersteun het, landsverraaier was ek, kommunis, rebel en vele meer, maar nie 'n trotse Afrikaner seun nie, ek het alles verraai wat dierbaar is, en nog sonder 'n das in die kerk ook opgedaag, tot verlorenheid verdoem. Deesdae voel dit vir my as jy die ANC kritiseer dan is jy 'n rasis, dis nou as jy wit is, as jy swart is is jy seker soos in die ou dae 'n landsverraaier, in die land van ons kan jy nie wen as jy nie vir die regerende party stem nie, nie voor of na demokrasie nie.


Maar miskien moet ek my maar by kos bepaal, ek weet in elk geval meer daarvan as van politiek of godsdiens, wat nogal 'n vreeslike gedagte is, want ek weet maar redelik min van kos ook af, wat ek wel weet is dat eek meer van chefs as politici hou.


Lekker eet


Potjie



Thursday, September 9, 2010

Lei SA of Ly SA

WAARSKUWING: Wat hier volg het niks met kos te maak nie, as jy van die mening is dat godsdiens en politiek nie om die etenstafel hoort nie, is die volgende waarskynlik ook nie 'n gesprek vir rondom die etenstafel nie.


By hiedie tyd het die meeste mense in SA nou al van die Lei SA veldtog gehoor, en miskien is jy van die mening dat dit soos in die film Pay It Forward hierdie groot ding is wat hierdie groot verskil in SA gaan maak, en in die begin het ek ook gedink dis 'n cool idée, maar by die dag raak ek meer geirriteerd met mense wat radio stasies bel met die goedjies wat hulle vandag gedoen het om SA te help "lei", luister nou mooi, die feit dat jy vanoggend by die stopstraat gestop het wat jy elke oggend "skip" maak nie die wêreld 'n beter plek nie, dis wat jy veronderstel is om te doen, om die waarheid te sê, behoort jy al lankal jou lisensie te verloor het omdat jy elke dag die wet oortree, jy is 'n gewoonte misdadiger, gaan bieg by jou sielkundige of priester, ek stel nie belang nie!


So ok, jy het vandag agter iemand gestaan wat 50c te min gehad het vir wat hulle gekoop het, great toe gee jy vir hulle 'n rand en jy wil nie die kleingeld hê nie, raai wat? die meeste mense wat dit enigsins kan bekostig het dit al gedoen, die feit dat jy dink jy het die wêreld 'n beter plek gemaak, en die wêreld daarvan wil vertel is 'n vreesaanjaande gedagte.


Kom ons wees nou bietjie sinies oor die veldtog, jy doen iets goed, of anders as wat jy elke dag doen, dan SMS jy jou goeie daad teen R3.00 of wat ook al aan een of ander nommer, gewoonlik kos 'n SMS kom ons se 60c, waar gaan die ander R2.40 heen? Na die veldtog se spesiale bankrekening om armoede te verlig? Nee? Ek het nie so gedink nie.


As jy moreoggend voel jy moet die wêreld vertel dat jy die ou tannie oorkant die straat gegroet het dink weer, dis die tipe ding wat normale mense doen, as jy voel dis spesiaal het jy 'n probleem, sorteer jou probleme uit, maar asseblief nie op die radio nie, dis erg genoeg om elke oggend wakker te word met die gedagte dat die Sprinbokke deur 'n nar afgerig word, ek sien nie kans vir jou persoonlike probleme ook nie.


Lekker eet


Potjie

Wednesday, September 8, 2010

Die geheim van ‘n goeie roerbraai.

Vir die wat nie weet nie, roerbraai is wat ons stir-fry noem in die soetste taal, en die geheim van 'n goeie roerbraai het ek een Saterdag oggend by 'n Thaiwanese chef geleer, die geheim is gas. Ja gas, jy gaan nooit die hitte uit jou elektriese stoof kry wat jy nodig het om 'n roerbraai gereg te kry soos hulle dit in die Chinese restaurant maak nie, en dan moet jy ook sommer die gas, gas gee, hitte is wat jy soek, en neem daai roer ernstig op, daar moet beweging wees.










Wanneer jy jou vleis gemarineer het, maak seker dat jy die vleis droog kry voor jy dit in die wok sit, anders gaan jy te veel vog hê, en dan gaan die affere begin kook in plaas van braai.

Laaste maar nie die minste nie, kyk maar daar op BBC food of in die Chinese restaurant, die wok het nie 'n plat bodem nie, dis rond onder, (dit behoort jou klaar te sê, dit hoort nie op 'n elektriese stoof nie.) en dis belangrik, want die vorm sorg dat jy kan roer sonder dat alles terug val na die middel van die wok toe, en vergeet maar van die elektriese wok, daai goed wat aan en afsit soos hulle wil ala 'n braaipan is nie wat jy wat jy wil he as jy 'n ordentlike roerbraai gereg wil hê nie.


So steek aan daai gas brander, haal uit die soya sous en vis olie, skil uie en sny groenrissies in repe, en roer.


Lekker eet

Potjie

Tuesday, September 7, 2010

So Kaap’s soos snoek

Van Constansia to Mitchelsplein, van Houtbaai tot Kraaifontein en orals tussen in is daar een ding wat een of ander tyd op ons almal se tafel beland, ongeag van taal, geloof of ras, as jy in die Kaap woon gaan jy jou een of ander tyd in 'n snoek vasloop.

Die Maleiers het vir ons smoorsnoek gegee, op die Kaapse vlakte is gebakte snoek gewilder as die hake en chips elders, en dan is daar die snoek braai, om te konfyt of nie te konfyt nie is die groot vraag, as jy my vra gaan snoek en appelkoos konfyt saam soos Piet en Griet, soos Kerrie en rys, soos biltong saam met rugby, julle kry die idée…

Dan is daar natuurlik nog gerookte snoek, eet hom net so, of bak viskoekies, of nog beter wat van 'n gerookte snoek pate. Moenie sout snoek vergeet nie, of snoek biltong, maar sorg dat jy iets te drinke het as jy daaraan gaan peusel, daai sout maak dors.

As jy die vrye mark stelsel in al sy glorie wil sien werk, hou die snoek bote en bakkies dop, baie snoek = goedkoop snoek, min snoek = duur snoek, as die snoek begin skaars word kan jy maar baklei soos jy wil, maar betaal gaan jy betaal, hulle weet daai paar snoeke sal verkoop, maar as die snoek bakkies sulke rye langs die pad staan kan jy maar begin onderhandel oor die prys, en kyk na die kiewe, as dit soos ou bloed lyk is dit hoekal gister se snoek, druk jou vinger in die vleis van die snoek as hy klaar gevlek is, as jou vingermerk soos 'n groot gat daar bly sit, sê hulle maar wat hulle kan doen met daai snoek, hy's pap my ou maat, hoe hy pap gekom het weet ek nie, en niemand is blykbaar seker hieroor nie, maar sleg so pap snoek, dit kan ek jou vertel.

Vir 'n paar idees met gerookte snoek sien my Engelse blog, en onthou om te stem vir die blog as die beste "indigenous language blog"



Lekker eet
Potjie

Monday, September 6, 2010

Die somer kom aangewaai

Dit mag dalk nie so voel in die Kaap nie, maar vandag het die somer sy koms aangekondig, die temperatuur mag dalk nog effens onder 20 wees, die snoek bakkies bring nog groot snoek in, sondag nag het daar selfs 'n paar druppel reen geval, maar wanneer die sedoos, of ook bekend as die suid oos waai soos hy vandag gewaai het is die somer net om die draai.





Wanneer die koue jou dus in die volgende week of twee oorval, kook maar daai bredie of kerrie, dis dalk jou laaste kans, want die suidoos is besig om die somer aan te jaag, nie te ver in die toekoms le daar 30 grade dae, dae vol koue witwyn en visbraai, sonsondergange na ag en rose wyn.


Lekker eet
Potjie

Sunday, September 5, 2010

Dis 'n wok Wilemina dis 'n wok, is dit nie 'n wok nie

As 'n man wil kosmaak vir 'n klomp mense moet jy sorg dat jy die gereedskap het vir die tiepe van ding, braai vir 'n spul mense is maklik, sit nog roosters by, maar Chinese is 'n ander tiepe van ding, jy kan nie 3 of 4 woks gelyktydig bemeester nie, al probeer jy hoe hard, erens gaan die paw-paw die fan strike, so kry nuwe speel goed, 'n groot wok, en sommer 'n gas brander spesiaal vir daai wok

Die ding van so groot wok is dat 'n man bietjie belaglik kan lyk as jy daarin kook vir 4 of 5 mense, maar man moet sy nuwe speelgoed uit toets, so selfs al het ek net 5 eters bymekaar gekry, het ek die soya en gemmer laat meng met die knoffel en chilies.


Lekker eet

Potjie

Thursday, September 2, 2010

Bees Carpaccio

Carpaccio is een van daai geregte wat ons gewoonlik in 'n restaurant bestel maar nooit self maak nie, en hoekom nie, dis eintlik tog net rou vleis, die groot probleem is die dun sny, maar nou die aand hou ek die ten volle geklede naked shef dop, en hy maak toe min of meer so.


Soos met enige vleis, eintlik enige kos, koop die beste kwaliteit wat jy kan kry, vir die bees carpaccio 'n stukkie fillet, met 300g kan jy 'n voorgereg vir 4 mense maak.


Maal growwe swart peper op 'n blad, en dan sout, rol die fillet in die sout en peper mengsel tot dit die hele fillet bedek het.


Maak 'n pan (hierdie teflon pannetjies werk goed) lekker warm, spuit met spray-and-cook en braai die fillet tot lekker bruin in al die kante, haal uit die pan, laat rus vir so 5 minute. Bedek die fillet met "clingwrap" en sit in die frieskas vir so uur om die vleis lekker ferm te kry. Sny die fillet met 'n skerp mes so dun as moontlik, maar dis nie nodig om 'n elektriese snyer te gebruik nie, dit is mons nou eintlik net 'n medium tot rou steak. Pak in 'n bord en sprinkel 'n goeie kwaliteit olyf olie en balsamiese asyn bo oor, maal bietjie swart peper en sout bo oor, bedien met roket blare.


Lekker eet
Potjie.

Wednesday, September 1, 2010

En die wenner is

Robin van Graan




Geluk aan Robin van Graan wat die naweek by die Cascades @ Club Mykonos gewen het.


Potjie

Sunday, August 29, 2010

Alweer biefstuk

Biefstuk oftewel steak is een van daai goed wat elke man dink hy weet hoe om dit die beste te braai of te bak, en die meeste mans is (soos gewoonlik) verkeerd.

Ek gaan nie weer deur die hele oefening gaan nie, maar vir my is daar twee of ala Salemo nee 3 belangrike goed wanneer jy steak braai.

1. Goeie vleis
2. Baie warm pan/kole
3. Moenie oorgaar maak nie

Ekself is nie 'n sous mens nie, ek hou van die smaak van vleis, en dieselfde gaan vir my vir die bygeregte, hou dit eenvoudig, 'n opgekookte aartappel en pampoen, nie iets wat die steak gaan oordonder nie.

Lekker eet

Potjie

Tuesday, August 24, 2010

'n Nuwe gesig vir die Swartland

Die gesig van die Swartland was altyd koring, grasgroen in die winter wat tot goudgeel verander in die somer, en dan na oestyd so half barre stof geel van die koring stoppellande, maar in die laaste paar jare het daar 'n kanarie geel in die Swartland verskyn, lank voor die koring begin ryp word is daar geel blertse tussen die groen koring lande, kanola geel om presies te wees, en miskien is dit gepas nou dat mense meer margarien as botter eet dat kanola so tussen die koring groei.

Daar is natuurlik 'n ander geel in die winter in die Swartland, 'n heelwat ligter geel, ramnas is sy naam, en nie soort van ding wat mens aspris groei nie, ook nie die tiepe ding waarvan jy sal margarien maak nie, vra maar vir enige iemand wat al melk gedrink het waarvan die koeie ramnas geeet het, nie 'n smaak wat mense laat toustaan nie, glo my.



Lekker eet
Potjie

Friday, August 20, 2010

Wednesday, August 18, 2010

My Eet in die Park droom

Die droom van my sal my in 'n 400km radius van Kaapstad neem na plekke soos, Beaufort West, Langebaan, Swellendam en Citrusdal. Die een ding wat die dorpe ingemeen het is dat daar 'n Nasionale Park of Wildernes gebied op hulle voorstoep is, en dis waar my droom begin.


Wat ek wil doen is om my gas stovie te pak en die Nasionale parke en wildernes gebiede besoek, en in elk een van hulle iets te kook van die omgewing, vis in Langebaan, miskien iets rook met rooibos in Citrusdal, skaap of springbok in Beaufort West, en bontebok met braamberries in Swellendam, julle kry die idée, MNET, SABC, enige iemand wat belangstel?

Lekker eet

Potjie

Tuesday, August 17, 2010

Om te droom

"My heart is afraid that it will have to suffer," the boy told the alchemist one night as they looked up at the moonless sky." Tell your heart that the fear of suffering is worse than the suffering itself. And that no heart has ever suffered when it goes in search of its dreams."

Die boonste aanhaling kom uit The Alchemist van Paulo Coelho, een van my gunsteling nie-kook boeke, en hoekom ek vanaand daaraan dink weet ek nie regtig nie, maar nou laat ek dit weer lees het ek aan drome begin dink, die meeste van my drome het met kos te doen.

Ek sal vandag julle 'n skrefie geen in een van my drome.

Die droom speel af in 'n klein dorpie, met huise ouer as die Kasteel in Kaapstad, olyf en suurlemoen bome, lavender en papawers en rose rooier as wat jy kan dink. Dan is daar die mark, met tafels vol kase en salami, haas en hoender lê styf teen kalkoene en eende, klein roos knoppies en 'n reenboog van peper korrels verlei jou om te koop, groente en vrugte wat net sowel 'n blomme rangskikking kon wees vra vir maaltye by groot tafels vol lag en wyn, ja dis in die land waar brood nog by die bakkery gekoop word, sigarette by die tabaconist en wyn orals, waar winkels in die middag sluit, en kos 'n godsdiens is, waar ek nie die taal verstaan nie, maar die mense wel, dis die Franse platteland, en dis 'n droom.

More deel ek 'n ander droom, miskien

Lekker eet

Potjie



Sunday, August 15, 2010

Sy’s verslaaf aan Tom en Jerry, maar cheer vir die kat

My vriend Karl, die een met die skewe blessie is verslaaf aan rolprente met interresante titels, ek is mal oor interresante "one liners", nie die komedie tiepe een lyners nie, maar daai een sin wat buite konteks miskien geen betekenis het nie, maar binne konteks die hele storie maak, sinne wat jou jare later nog bybly, lank na jy die storie vergeet het. Die titel hierbo kom uit vandag (15 Augustus) se Rapport, My Tyd, in die Voorsmaak rubriek met die title Dis kos vir 'n Leeu deur bib big joe.


Die resep wat hiemee saamgaan is een vir macaroni en kaas, iets wat ek laas op skool geëet het, en myself belowe het ek sal nooit weer eet nie, in so mate dat ek enige pasta koop, maar nie macaroni nie. In alle respek aan my ma, maar daai droë macaroni en witsous met skywe tamatie en chedder bo-op was nie iets wat ek noodwendig weer wil eet nie, maar ek moet bieg dat die resep van big big joe klink heel eetbaar, wel miskien bietjie meer as eetbaar, miskien selfs vrek lekker as jy my vra.

Lekker eet
Potjie

Wednesday, August 11, 2010

Met die maan gepla

Om darm iets van kos in die stuk te gooi sal ek maar begin met die woorde van die tema lied van 'n ou TV reeks, as ek reg onthou het Mynie Grove dit gesing, die naam kan ek egter nie onthou nie, maar dit gaan iets soos "Kaspaas lavaas, toe ons nog klein was, was die maan van kaas"

Toe my vrou vanaand roep om die maan te kom kyk (jammer die foto is nie te great nie, die maan is erens in die middle bo) toe dink ek aan my pa, hy het altyd gesê as jy na die sekel maan kyk en dit lê op sy rug, dan skep die maan, so dit beteken dis besig om laagwater te raak, as die maan se sekel vorentoe lê, dan gooi die maan die water terug, so dis besig om hoog water te word.

Ek dink die foto is op die draai van die gety geneem, want dit skep nog nie, en dit gooi ook nog nie.

Lekker eet
Potjie

‘n Dilemma van epidermiese proporsie

My vroulief het my gisteraand ingelig dat sy van Donderdag af saam met die helfte van haar familie by Weighless aansluit, en dat ek behoort ook, maar op die minste moet ek nou die lae vet, lae kilojule kos kook.

Nou bid jou aan ek skryf hier oor slaai en gestoomde vis, die mense sal mons dink die aliens het my kon vang en met iemand anders omgeruil wat min of meer soos ek lyk.

Nou hoe moet ek nou maak, as ek nie die kos gaan kook nie gaan my vrou tyd nodig he in die kombuis, en ons kombuis is te klein vir twee, en ek is boonop ook nie lus om in die spaarkamer te slaap nie, en ek gaan dan op die einde die enigste vettie wees, wel miskien nie die enigste een nie maar nogtans.


Enige voorstelle is baie welkom, ook die naam van 'n goeie slaappil, die krisis gee my slapelose nagte.


Lekker (di)eet

Potjie

Wednesday, August 4, 2010

Volstruis lewer pate

As man nou 'n ding soos 'n volstruis lewer raakloop kan jy net sowel verbeel die wêreld is jou oester en wild gaan, gryp 'n koppie room kaas of dubbel room (dis seker wat mens double cream in die soetste taal noem) kap 'n ui fyn, kap dan sommer bietjie tiemie by, en terwyl jy nou besig is kap sommer 'n knoffel huisie of twee ook fyn.


Skink nou vir jou 'n glas wyn en bedink die ding goed deur, miskien onthou jy van daai bottel Verlaque Balsamic Reduction (Fresh Raspberries) in die kas, dan haal jy hom ook sommer uit.


Vat daai yster pan van jou en gooi bietjie olyf olie in, braai die uie en knoffel tot sag, voeg die volstruis lewer by (so 350g) en braai tot bruin, voeg tiemie by en geur met sout en peper. Gooi bietjie van die balsamic reduction oor en braai tot gaar.


Laat lewer bietjie asfkoel, gooi in voedselverwerker, voeg room of roomkaas by en verwerk tot fyn, gooi in klein bakkies en sit in yskas vir ten minste 24 uur, as jy dit kan hou.


Lekker eet


Potjie

Tuesday, August 3, 2010

Maklikste Chinese ooit

Koop springrolls en chilie sous by Chinese winkel, braai in diep olie tot goud bruin, en impress almal met jou tuisgemaakte springrolls.




Moet vir niemand vertel nie.



Lekker eet

Potjie

Sunday, August 1, 2010

Uit die veld (geslaan)

In die laaste jare het suurlemoensap en skil surings vervang in waterblommetjie bredie, en ek was altyd onder die indruk dat dit maar ons gewone luiheid is wat hierna gelei het.

Maar 'n tyd gelede lees ek 'n resep vir waterblommetjie bredie, en die skrywer van die artikel noem toe dat hy/sy nie meer surings in die hande kan kry nie, en ek begin toe wonder of surings aan die uitsterf is.





Toe ek dus die naweek tussen Stellenbosh en Malmesbury orals geel blommetjies langs die pad opmerk stop ek net daar en gaan kyk na die blomme wat teen 120km/h kompleet soos surings lyk, en tot my blydskap vind ek toe uit dat surings g'n aan die uitsterf is nie, mense is net bloot lui om in die veld te gaan stap en dit te pluk.


Waterblommetjie tyd is ook suring tyd in die Kaap, so stop jou motor, gaan stap in die veld en pluk surings, en maak waterblommetjie bredie soos jou ouma dit gemaak het, en vir so proesel van kleintyd eet sommer 'n handvol daar in die veld.


Lekker eet
Potjie

Wednesday, July 28, 2010