Thursday, June 4, 2009

Geblikte Tamatie – Is ‘n wonderlike ding

As daar nou een geblikte ding in jou kas moet wees, dan is dit tamatie, dis nou in elk geval as jy so lief soos ek is vir pasta met 'n tamatie gebasseerde sous, of vir daai Italiaanse vis wat ek nou die dag van geskryf het. En nie sommer net een soort nie, nee daar moet gekapte tamaties in 'n blik wees, en heel geskilde tamaties in 'n blik en dan een van my nuutste gunstellinge Woolies (dis nou Woolworths) se geblikte "Italian whole cherry tomatoes".

As jy 2 blikke tamaties en van Rudi's Sausage Deli se wors in jou huis het, dan het jy 'n pasta sous wat net wag om te gebeur. Gistraand was dit so in my huis, 2 blikke gekapte tamaties, 'n handvol van Rudi's Sausage Deli se Polska Kielbasa in skyfies gesny, so skud olyf olie, een koppie rooiwyn, 10 ontpitte fyn gekapte groen olywe, swart peper, sout en origanum, gooi alles in 'n potjie en kook lekker deur, tot die sous so lekker lyk dat jou tone omkrul, dan kook jy jou gunstelling pasta, en skep die sous daaroor, gooi vir jou nog 'n glas rooiwyn en laat die behaaglikheid oor jou spoel.

Vir julle wat te ver is om by Rudi's te kan koop (hulle is saterdae by die slow food market by Willowbridge en Bosmans crossing in Stellenbosch), ek voel so jammer vir julle, maar probeer maar iemand vind wat kan wors maak, miskien is daar êrens naby 'n verlore Fransman of Italianer, selfs 'n Duitser, wat hiedie volksvreemde worse kan maak, en as daar is, moet dit nie geheim hou nie, vertel vir ons ook.

Lekker eet

Potjie

1 comment:

  1. Daai klink nou baie lekker. Jy sal maar vir my wors moet stuur. :-)

    ReplyDelete