Monday, August 3, 2009

Die Maande Sonder die R'e

Die maande sonder die r'e is snoek maande, van Mei tot Augustus is wanneer die groot snoeke uit kom, wanneer die manne wat die snoek langs die pad vashou hulle hande bo hulle koppe moet hou, sodat die koppe nie grondraak nie. As jy een keer 'n winter snoek gebraai het, gaan jy maar neus optrekkerig wees vir die somer se maar snoekies.

Oor snoek braai sal daar soos oor politiek en rugby altyd gestry word, maar ek braai hom soos ek met dit groot geword het, suurlemoen, appelkooskonfyt en knoffel word vir 'n sous gebruik, vooraf word die snoek met sout en peper bestrooi, en die vis word vleiskant onder toe op die kole geplaas, die sous word eers begin gebruik na die vis die eerste keer omgedraai is, en braai die ou asseblief bietjie stadiger as jou steak, die meeste van die braai word op die vel kant gedoen.

Onthou net voor jy begin sout gooi om te kyk of die man daar by die snoek bakkie nie klaar sout opgegooi het nie, as hy het, spoel die sout af, en wees dan versigtig met die sout, anders gaan dit salpeter wees.

Het ek jou hoor vra oor of jy moet tinfoil onder die vis sit? luister nou mooi, ons is besig om vis te braai, nie te bak nie, en dis die laaste keer wat ek oor die nonsens praat.
Lekker eet
Potjie

1 comment:

  1. Indien Ek die week vars snoek langs die pad koop dan nooi Ek Jou dieselfde aand vir snoekbraai.Ek braai die vis met foelie op die velkant. Klaar en uit.Jy kan mos verkeerd bewys word.

    ReplyDelete