Sunday, May 2, 2010

‘n Ope brief aan Emile Joubert

Agtergrond: Lees Emile Joubert se artikel "Op soek na die ware pot" in Sondag 2 Mei 2010 se Rapport tydskrif. Emile skryf dat ons geliefde potjiekos kultuur vinniger uitsterf as Afrikaanse volsinne en goeie Van der Merwe grappe. Hy blameer onder andere die feit dat mense probeer potjies maak wat Jamie Oliver of Nataniël (behoede my) se goedkeuring sal wegdra.

My brief aan Emile

Beste Emile

Alhoewel ek 100% saam met jou stem oor die agteruitgang van potjiekos in ons geliefde land moet ek jou daarop wys dat daar blaam te lê is by die mense wat juis die tradisie moet bewaar, die beoordelaars. Wanneer potjiekos kompetisies gewen word deur potte met kitsbestandele en volksvreemde goeters soos pasta as die hoof bestandeel van die pot, dan is die beoordelaars nie besig om hulle werk te doen nie, of hulle is agter die eerste beste uitheemse bos uit geskop, en gevra om te kom beoordeel, maar elke 2de naweek hoor ek van een of ander kits konkoksie wat 'n potjiekos kompetisie gewen het. Dan is daar die beoordelaars wat kyk na die mooi gedekte tafeltjies, en is daar rooiwyn saam met rooivleis bedien, en witwyn met witvleis, nee regtig, die vorige potjiekos kompetisie wat ek bygewoon het, het die beoordelaar dit as een van sy kriteria genoem, ek was onder die indruk dat die miete al lankal dood is, maar nee, 'n opgeleide shef wat aangestel is as 'n potjiekos kompetisie beoordelaar gebruik dit as die kriteria om 'n potjie te beoordeel!

Dit blyk al hoe meer dat die gedekte tafel en die blomme en die voorgereg (behoed my, voorgereg saam met potjie?) en die moeite wat gedoen is, is die bepalende faktor by beoordeling in plaas van die smaak van die potjie. Alles het begin met die lae teorie, alles moet in lae wees, en so bly, moet tog nie dat daar 'n wortel deurglip en tussen die aartappels beland nie, jy kan maar vergeet van wen, dis doodsonde. Ons oupas en oumas sal in hulle grafte omdraai as hulle moet weet dis die pad wat goue ou boerekos potjie geloop het, alles in mooi lae, bid jou aan.

Die einste laaste potjiekos kompetisie wat ek bygewoon het, het 'n beesstert pot gewen (ten minste regte vleis) maar die vleis was so taai dat hiënas sou sukkel om dit gekou te kry, maar daar was 'n mossel voorgereg (dit was seker die trekkers wat die pad langs die weskus opgevat het se nalatingskap) en 'n verbrande potbrood, ek sou eerlik waar daai brood weggegooi het as ek dit gebak het, maar al die moeite het die beoordelaar so beindruk dat hy dit laat wen het, nou vra ek jou, het die beoordelaar sy Afrikaner plig gedoen, of het hy bloot die potjiekos kompetisie genataniël.

Emile ek voel jou pyn met die biltong en kaas brigade, maar glo my vry, 'n paar van die potjiekos verkragtings het al kompetisies gewen, en al is die droom nog nie verlore nie, is sommige beoordelaars besig om die droom in 'n nagmerrie te verander.

Potjiekos is dood, lank lewe potjiekos.

Lekker eet

Potjie


 

1 comment:

  1. Beste Berry
    Wat 'n wonderlike brief en 'n wonderlike blog! Dis ouens soos jy wat gaan hulp dat die Afrikaanse tafel bly staan. Ek vind graag meer oor jou en jou kosdinge uit. Groete. EMILE

    ReplyDelete