Sunday, May 9, 2010

Afval om die winter koue weg te jaag

Dis koud, nat en grys in die Kaap, en ek het uiteindelik besef hoekom ek nie geseën is met 'n familie plaas nie. Boere bid vir reën, maar ek wens die reën weg, ek soek sonskyn, ek wil in 'n kortbroek en t-hemp met kaalvoete rondloop, ja ek hou van winterkos, maar ek eet liewer sop in die somer as wat ek die son nie vir 'n paar dae lank nie sien nie. Ek het groot geword in die koue nat winters van die Kaap, maar waar ek hier sit en tik met 'n lekker glasie port en die gehis van die gas verwarmer in die agtergrond wonder ek alreeds hoe op aarde ek more oggend uit die vere gaan kom.

Afval besig om te kook

Die een positiewe ding van die winter is dat almal skielik my liefde vir bredies en potjies deel, en Saterdag was dit 'n lekker Kerrie skaap afval potjie wat gestalte gekry het, amper lekker genoeg om die Stormers se vertoning van die naweek te vergeet, moet liewer nie dat ek begin praat oor invoer produkte van Fidji nie, sooibrand sal my voorland wees sowaar.


2 skaap pense, 6 skaap pootjies en 3 vark pootjies in 'n pot saam met uie, Kerrie speserye en 'n skoot rooiwyn, kyk so nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is, indien nie gooi bietjie water by, as jy nie so 4 ure tyd het nie, los maar, of verkrag dit in 'n stoompot, maar tyd is al wat 'n skaappens sag kry, stadig prut terwyn jy 'n glasie of twee rooiwyn gebruik. So halfuur voor jy wil eet sny 'n paar aartappels by, en kook vir jou bietjie rys, noord van die Oranje rivier kan julle maar pap maak, dit sal ook werk.

Almal se mae is nou vol


Die winter voel sommer na 'n beter seisoen met so bord afval voor jou.

Lekker eet

Potjie.

No comments:

Post a Comment