Monday, May 3, 2010

‘n Generasie gaping in Kos

Die ander dag praat ek met iemand skaars 10 jaar jonger as ek oor waterblommetjie bredie, en ons praat oor die byvoeging van suurlemoen en ek noem toe dat die tradisionele ding om by te sit egter suurings is nie suurlemoen nie. Ek kry toe so doffe kyk, "suurings, wats dit?" nou kyk, ek is nie oud genoeg dat ek regtig suurings in die veld gaan pluk het om kos te maak nie, maar as kinders het ons baie suurings geëet, dit het jou kieste op so hoop getrek, vandag is daar suur lekkergoed wurms wat daai werk aan die kinders se kieste doen, maar suurings, aikona, 10 jaar na my en ek beskou my nogself as bloedjonk weet mense nie wat suurings is nie, hoe is dit moontlik.



Toe ek mooi oor die storie dink besef ek toe hoe vinnig goed verander het, as ek met iemand 10 ouer as ek praat, het ons baie dieselfde ondervindings van die lewe, perlemoene waarvan die skulpe amper groot genoeg is om jou gesig in te was het ons uit geduik by Hangklip, groot rooi krewe by Tietiesbaai, en alikreukels op laagwater uitgehaal by Pearly Beach, alles sonder veel moeite, maar deesdae is perlemoen uithaal onwettig, krewe lyk na groterige krewels en alikreukels kry jy miskien op springety, anders moet jy maar vir dit ook duik.


Desembers by Swartvlei het ons strepies en steentjies en kolstertjies in die vlei gevang en dit net daar langs die water gebraai, vandag is daar kleur kaarte vir wat se vis jy veronderstel is om te eet en wat nie, ons nasionale vis die galjoen is taboe, op die rooi lys daai beste van die beste vis vir braai oor die kole, net sout en peper en miskien so blerts suurlemoen om die ergste vet te breek.


Hoe verduidelik jy vir iemand die smaak van 'n vis wat nou net gevang is, of die smaak van suurings by waterblommetjie bredie, my skryf talent laat dit nie toe nie, as ek jou dit nie kan laat proe nie, gaan jy nooit weet hoe dit smaak nie, en my liewe vriend, as jy dit nooit proe nie, het jy nog nooit die Kaap geproe nie.


Lekker eet


Potjie

1 comment:

  1. Ai hoe vat jy my nou 'n paar jaar terug na my ouma se tuin in die OosKaap waar ons surings kon pluk en eet (sy't teenaan 'n berg gebly).

    ReplyDelete