Sunday, September 19, 2010

Wat praat jy?

Na meer as 'n week is ek terug in blogland, om blog vakansie te vat as jy blog genomineer is as een van die 10 bestes in een of ander kategorie hier kort voor die finale is seker nie die manier om jou lesers aan te moedig om vir jou te stem nie, maar as jy niks te sê het nie, dan sê die meeste mans niks nie, ek ken een of twee wat ongelukkig baie te sê het oor goed wat hulle niks van weet nie, maar kom ons los daai gesprek maar vir 'n ander dag.

Ek is al gekritiseer as ek oor ander goed as kos hier skryf, maar die idée was nooit dat die 'n Afrikaanse resepte boek sou wees nie, oor die meeste van my gedagtes oor kos en drank gaan, skryf ek die meeste van die tyd oor kos, maar die blog gaan meer oor dinge wat ons rondom die etenstafel oor praat, my Calvinistiese opvoeding behoort my te verhoed om oor godsdiens of politiek te praat rondom die etenstafel, o ja en oor seks, wel oor seks word eintlik rondom geen tafel gepraat nie, oor godsdiens word gepraat, maar nooit geredeneer nie, wat in die bybel staan is nie oop vir interpetasie nie, jy glo of jy gaan hel toe, so eenvoudig soos dit, ek praat nou van glo woord vir woord, en om eerlik te wees, daar is 'n paar goed wat nogal lekker gestry oor kan word, maar dis hier waar ek nou eers godsdiens langs die tafel gaan laat.


Politiek is 'n ander tameletjie, deesdae kan jy niemand vind wat vir die Nasionale Party gestem het nie, toe ek op skool was, was almal wat nie vir hulle gestem het nie idiote of kommuniste, ek onthou die storm wat dit ontketen het in die familie toe ek die voorganger van die DA die Onafhanklike Party of kanidate ondersteun het, landsverraaier was ek, kommunis, rebel en vele meer, maar nie 'n trotse Afrikaner seun nie, ek het alles verraai wat dierbaar is, en nog sonder 'n das in die kerk ook opgedaag, tot verlorenheid verdoem. Deesdae voel dit vir my as jy die ANC kritiseer dan is jy 'n rasis, dis nou as jy wit is, as jy swart is is jy seker soos in die ou dae 'n landsverraaier, in die land van ons kan jy nie wen as jy nie vir die regerende party stem nie, nie voor of na demokrasie nie.


Maar miskien moet ek my maar by kos bepaal, ek weet in elk geval meer daarvan as van politiek of godsdiens, wat nogal 'n vreeslike gedagte is, want ek weet maar redelik min van kos ook af, wat ek wel weet is dat eek meer van chefs as politici hou.


Lekker eet


Potjie



No comments:

Post a Comment