Sunday, June 12, 2011

'n Broodjie vir ontbyt, brunch of middag ete

Ek het met brood groot geword, meestal winkel brood, sagte wit winkel brood, sondae aande was hulle vuurwarm afgelewer, en die hele dorp het na warm brood geruik.


Pouse kos was broodjies, middag ete was meestal broodjies (ma het gewerk) en ek wou nooit pap eet nie, so ontbyt was brood, toast met marmite, roosterbrood is die mooi afrikaanse woord, maar ons het dit toast genoem, marmite of anchovy toast, en anchovy was fish spread, nie klein vissies in olie nie.

Ek het nou nog nie regtig brood ontgroei nie, daar is deesdae net meer soorte brood in die winkel, en wie kan 'n vars Franse broodjie weerstaan, oopgesny en gebotter, roket blare, dan tamatie, goed gesout en gepeper, dan chedder kaas, en bo-op dit dun gesnyde ham met 'n smeerselkie mosterd, koningskos my ou maat, koningskos.

Nou gaan ek eers vir my 'n broodjie maak.


Lekker eet

Potjie

Thursday, June 9, 2011

Sunday, June 5, 2011

Ingelegte Beet

Die Maklikste Resep ooit



Kook beet in baie water, met sout en 'n bietjie asyn tot sag. Verwyder skille en sit heel in gesteriliseerde bottels, of sny in skywe as jy dit verkies, as jy regtig moet kan jy dit seker rasper ook, maar ek verkies om kleinerige beet te koop en hulle heel te hou.



Kook stroop om die flesse mee te vul, deur een koppie suiker vir elke koppie asyn wat jy gaan gebruik te meng, kook tot die suiker opgelos is. Vul die bottels beet met die suiker/asyn mengsel, maak seker daar is geen lug borrels in die bottels nie, en dat die sous al die beet bedek. Skroef dig toe en bere tot jy dit benodig.



Lekker eet

Potjie

Friday, June 3, 2011

Brandnetel Tee - You must be joking

Ek lees vandag 'n blog oor 100 goed wat elke omnivoor ten minste een keer in sy/haar lewe moet eet, en tweede op die lys is "Nettle Tea". Ek dink so by myself, maar 'n nettle is mons 'n brandnetel, of brandneukel soos ons dit kleintyd genoem het. Nee dink ek, kannie wees nie, g'n normale of abnormale mens sal tee van daai goed maak nie, jy sal jou binngoed toetentaal en al verwoes deur dit bloot te stel aan daai branderige onkruid.



Ek vat toe maar die woordeboek, en wragtig, dis 'n brandnetel, nou vra ek jou met trane in my navy blou oe, waarom maar waarom sal iemand tee wil maak van brandnetels, as jy regtig wil weet waarvoor mense se dis goed gaan na http://www.teabenefits.com/herbal-tea-benefits/nettle-tea-benefits.html, maar as jy dit gaan drink is dit nie op my aanbeveling nie, dit klink vir my na 'n branderige storie op die beste van dae.



Om die ander 99 goed te sien wat omnivore ten minste een keer in hulle lewe moet eet gaan na http://angeliqueca.wordpress.com/2011/05/26/the-omnivore%E2%80%99s-hundred/ as jy weet wat al 100 is buig ek in algehele respek voor jou, as jy al 100 geeet het, wel ek skat dan kan jy nou maar die tydige met die ewige verwissel.



Lekker eet

Potjie

Wednesday, November 17, 2010

Hout wat sweet

Soms is dit ongelooflik hoe dom andersins heel inteligente mense kan wees as hulle iets simpels soos hout koop moet doen, en hoe goedgelowig.

Mense vra hout verkopers "Is die hout droog?" dit is soos om vir 'n gebruikte motor verkoopsman te vra of daar iets fout is met die motor wat hy aan jou probeer verkoop, moet liewers nie vra nie, daar gaan waarskynlik vir jou gelieg word, ja van beide die hout en die motor verkoper.

As jy na 'n sak hout kyk wat gesweet is in die binnekant dan is die hout nat, hulle gaan jou vertel dit sweet net omdat dit in die son lê, of soortgelyke nonsense. Kom nou man, iets kan net sweet as daar vog in is, gaan sit 'n stuk yster in 'n plastiek sak buite en kyk of dit môre lyk soos daai sak nat hout, nee niks het gesweet nie, want daar is nie vog in die yster nie, net so gaan 'n sak droë hout nie in die son lê en sweet nie, want dis droog, daar is nie vog in om uit te sweet nie, heel logies né, so volgende keer moet nie by die huis staan en skel op die verkoper nie, skel jouself dat jy so onnosel was om 'n sak vol water te koop.

Moet ook nie die houtverkoper vra of die hout kole maak nie, hy gaan waarskynlik weer vir jou lieg, as jy nie weet watse hout kole maak nie, bel 'n pel, moet net nie daai ou voor jou glo nie, hy mag dalk lieg, en op daai wit stukke bloekom hout gaan jy geen tjop gaar kry nie, nee man dit kos die helfte minder as die ander hout omdat dit vir niks behalwe kaggels goed is nie, doringhout en rooikrans, wingerdstompe en dies meer maak kole, oor mielie stronke kan ek my nie uitlaat nie, maar daai wit houtjies in die R10.00 sak maak vlamme en dan as, dis omtrent dit.

Lekker braai

Potjie


 

Saturday, November 13, 2010

Sit dit in 'n bottel

As die Springbokke 'n man to raserny dryf is dit altyd goed om iets te kry om jou gedagtes weg te kry van van sinnelose reserwes en verbroude tackles, maar wat weet ek van rugby, ek rook liewer mossels, ten minste stel 'n mossel nie sommer 'n man teleur nie, behalwe as daar miskien rooi gety is, maar mossels is so goedkoop jy kan hulle sommer by die groot winkel gaan koop as jy te ver van die see af bly, of as die see bietjie siek voel.
As jy dalk voel dat jou hande moet nou besig raak anders gaan jy dalk die TV stukkend gooi, of onnodig op onskuldige mense skree (refs tel nie as onskuldige mense nie) pak 'n klompie mossels in jou roker, geur met sout en peper en rook tot net gaar.
Laat die mossels heeltemal afkoel, verwyder uit die doppe. Plaas in gesteriliseerde glas bottels en vul met olie (ek gebruik goeie olyfolie) maak seker dat die mossels heeltemal bedek is.
As jy nou nie bang is vir knoffel nie, sit dan maar so huisie of twee knoffel saam met die mossels in die potjie, laat die geure lekker ontwikkel, as jy dalk so week kan wag sal dit goed wees, dit sal ook beteken jou weerstand is heelwat beter as myne.
Lekker eet
Potjie

Sunday, November 7, 2010

Niks waterblommetjies maar baie wyn

Die grootste fout wat jy as "kosmens" kan maak is om aan te neem dat kos vir ander mense net so belangrik as vir jou is, die werklikheid het ek gister weereens besef.


My vroulief stel my in kennis dat ons gaan na die waterblommetjie fees toe by Windmeul kelder in die Paarl, as jy altyd onder die indruk was dat dit eintlik Wellington is, dan neem ek jou geensins kwalik nie, ek self voel ook dis nader aan Wellinfton as aan die Paarl, maar kyk maar agter op die bottel, daar staan dit, "Wine of Origin Paarl", wat jy jouself oor kan kwalik neem, is as jy nie 'n bottel of twee van Windmeul kelders se wyne in jou huis het nie, selfs vrot van die Michelangelo stickers is die wyne heel bekostigbaar, sonder om enigings kwaliteit in te boek, maar terug na die waterblommetjie fees. Vroulief stel my in kennis ek moet so 16H00 daar wees, want Andriette tree om 16:30 op, dan kan ons wyn en waterblommetjies proe, die probleem was dat die waterblommetjie gedeelte alreeds om 09H00 begin het, al wat oor was om 16H00 was uitgebrande kole, gelukkig was die fees op die gronde van die kelder, so die wyn was nie 'n probleem nie, die gebrek aan waterblommetjies was blykbaar net vir my 'n issue, maar volgende jaar gaan ek vroeg genoeg om die waterblommetjies ook te proe.

Windmeul kelders is 'n produsente kelder in die Paarl (vrek naby aan Wellington) en behalwe goeie gehalte wyne sal jy ook 'n klomp gasvrye mense met 'n passie vir hulle kelder en wyne vind, besoek hulle gerus, jy sal aangenaam verras wees.


Lekker eet


Potjie