Showing posts with label afrikaans. Show all posts
Showing posts with label afrikaans. Show all posts

Tuesday, April 28, 2009

Verban uit die kombuis

Die lang naweek is verby, dis dinsdag maar dit voel soos maandag, gelukkig is die week net drie dae lank dan kan ons weer verwoed kook en kuier.


Ons is die naweek weg saam met vriende, en hulle het besluit hulle treat ons vir ons die naweek, en ek mag niks doen in die kombuis nie, vir sommige mag dit na hemel klink, maar dit is loutere hel, 'n mens kan net soveel keer vir mense drank ingooi voor dit ook nie meer so lekker is nie, my hande jeuk om 'n pot vas te hou, en 'n mens drink ongelooflik vinnig as jy drink maar nie kook nie.

Die main meal was staek, fillet en ribeye, met Doneel se spesiale sous, terwyl Ricky braai, en ek toekyk sonder om 'n woord te se, geen met raad en daad bystaan nie, net kyk, en aan my rooiwyn teug.

Die special sous begin met witsous maak, dan kaas bysit om dit 'n kaassous te maak, en dan kom vooraf gebraaide sampioene en shrimps by, daar was 'n bygereg van sampioen wat in knoffel botter gebraai is, so ek is nie heeltemal seker of daar knoffel in die sous ook was nie, maar ek glo nie dit kan kwaad doen nie. Dan nog bygereg van gebraaide aartappels en 'n slaai. Nou nie die sous wat jy gereeld vir iemand met hoё kolestrol gaan maak nie, maar ryk en lekker, met die steak nog so rooi in die middel, ai man, moeilik opgestaan van die tafel af. Vir vroulief wat 'n sousmens is, en toevallig haar verjaarsdag op die dag gevier het 'n mooi ronde getal, as ek reg is, 20 0f 30 of so, was dit pure plesier. Dankie Doneel en Ricky.

Vandag verjaar skoonsus Crista ook bekend as soetrissie, baie geluk skoonsus, so gister het ons, ons daar ooreet, en swear Roy het my op my neus laat kyk deur self te braai, moet sê 'n heel goeie job gedoen, en sus Christa het uitgehang met aartappel gereg, pampoentert en sweetcornbake, en te veel om alles te onthou, poeding was daar ook, brownies met roomys, sus dit was nie dat ons nie poeding wou eet nie, ons kon nie meer eet nie, ek het probeer, en dit was heerlik, maar daar is net soveel plek in elke maag.

Nou kan julle dink, die heel naweek moes ek die kookery aanskou, en ek mag nie 'n hand lig nie, behalwe vir 'n sop wat ek vrydag aand gemaak het, en 'n nuwe broodresep, maar dit is more se storie.

Lekker eet

Potjie.

Thursday, April 23, 2009

Winter met die skoonfamilie




Dit is koud en nat, en na die eerste amper wintersdag onthou ek hoekom ek 'n sonskyn kind is, ek voel klaar depressed na 'n paar ure van nie die son sien nie, maar ten minste maak die gedagte van winterskos my smile.

Bredies, en kerries en sop, kos wat die hele huis na kos laat ruik, kos wat 'n weersin aan witwyn het, rooiwyn ja, of port is wat hulle vra. Soos daai kerrie piesang oxtail waarvan my vriend Karl gese het, "mens eet g'n vrugte saam met kos nie" en hom toe so oorhoeks daaraan geeet het, dat hy 3 dae later nog ongemaklik was. Kyk ek voel trots op daai oxtail, maar as jy nou wit weet hoe moet oxtail nou regtig smaak, smeek my skoonsus Dalene om dit vir jou te maak. Sag, sag sit dit net-net nog so om die been vas, een druk met 'n vurk en daai been is silverskoon, so kerrie speserye mengsel wat sy bysit, wat 'n groot lekkerte, soms laat sy haar man toe om dit so ruk in sy potjie te sit vir die laaste bietjie kook, sodat hy kan glo hy het dit gemaak, maar groot 'seblief moenie se ek het so gese nie.

Nou moenie pastei weggooi as winterskos nie, en as skoonsus Crista my vergeef het omdat ek haar soetrissie gedoop het, dan vra ons haar vir haar hoender pastei, glo net woolies hoender is goed genoeg, ek weet nie of die stukkies ham wat daarin is, van Italie of Portugal af ingevoer word nie, maar ek is seker daar is een of ander gehein daaromtrent. Man groot lekkerte, ek beloof jou.

Nou ek hoor skoonsus Marieta kan na al haar jare daar in Durbs se wereld 'n mean kerrie maak, maar dit is hoor se, nog nooit geproe nie, en ek hoor daai skoonsus wat my vrou so vinnig na toe wegraak in die aand, kan ook kook, maar swaer Ferdie het die takie oorgevat, hy't belowe hy gaan vir ons nog 'n resep hier gee, maar ons sal dit eers moet toets, die ou kan nogal 'n mean streep in hom he, en ek wil nie moeilikheid optel nie.

Vir swaer bokka, ook soms Neels genoem, se kerrie afval kan ek self getuig, hy mag maar, pote en pense is sy ding, dis nou as hy nie besig is met snoek braai nie. Nou my ander swaer genoem Marius of groot broer, hy is die braai man, maar as jy honger is oppad na hom toe, koop maar eerder 'n pie of 'n ding, want gou gaan jy nie eet nie, lekker ja, in oorvloed ja, maar gou, nee my ou maat, nie maklik nie.

Van Lance alias Roy, het julle al gehoor, of hy kan kook die weet ek nie, hy se hy het al gebraai, maar so tussen die boere kry die soutie maar min kans vir braai, selfs by sy eie huis laat hy ons braai, sonder meimering, nou nie dat Marius eintlik toestemming vra of hy mag braai nie, hy braai. Met stokke moet jy hom verdryf, en met kettings vasbind, en dreig dat jy Durbanville Hills gaan afbrand om hom weg te hou van die braai af. (Nee DH behoort nie aan hom nie).

Sjoe, julle, nou is ek bleddie honger, sal maar gou hoor of die porra vroutjie hier op die hoek vandag sop gekook het, laat weet bietjie wat is julle gunsteling winters kos.

Ns. Dankie Dalene vir die colage van die family.

Lekker eet

Potjie.

Wednesday, April 15, 2009

Pasta klink vir my na 'n goeie plan vanaand, so tussen 300 en 350g meel, bietjie sout en drie groot eiers, maak holte in die meel, gooi eiers in, klits die eiers en meng met die meel, lekker stywe droe deeg, onthou die deeg moet deur die pasta masjien gaan, so hy kannie nat wees nie, nou laat hom so rus vir 'n uur in die yskas toegedraai in clingwrap. As die deeg te droog is gooi bietjie water by, maar voeg bietjie vir bietjie by, niks meer as 'n teelepel op 'n slag nie.

Siende dat ons nou 'n uur het om te wag, kom ons maak 'n bottel wyn oop en dink oor die sous, daai bottle Goats do Roam rooi wat ek nou die dag 3 vir R50 gekoop het sal vanaand die ding moet doen. Ok, tamatie sal die basis wees, ek is nie 'n room man nie, nie in kos nie, van daai swaer van my 'n klomp room gegooi het oor die snoek terwyl hy hom braai kon ek nooit weer my so ver kry om room saam met kos te eet nie. Swart olywe, kappertjie saad, anchovies, rissies, swart peper, so skoot of twee van die rooiwyn, en twee blikke gekapte tamaties, alles in 'n pot en kook dit, so uur lank. Wanneer die tamatie sous so lekker donker word, dan gooi ons dit in die voedsel verwerker en maak die sous lekker glad, net soos daar by die Italiaanse restaurant.

Maar terwyl die sous nou so stadig prut, en die bottel rondlopende bokke begin einde se kant toe staan (ons het mons daarvan in die kos gegooi) kom ons begin met die pasta, breek so derde van die deeg af en sit die res terug in die yskas, begin op die grootste verstelling van die pasta masjien en rol 'n klomp keer deur, so 7 tot 10 maal, dan een keer tot by die kleinste of 2de kleinste verstelling, net soos jy daarvan hou, sit die pasta snyer gedeelte op die masjien en sny jou pasta, doen dieselfde met die res van die deeg.

Kook hom nes droe pasta net vinneger, die boks van my masjien se so 3 minute, maar ek sou se meer na 5 se kant toe, op my stoof is hy nog rou na 3 minute.

Dreineer pasta, gooi sous oor, se jy's jammer jy het die kombuis so bemors, en maak nog 'n bottel wyn oop, after all ons het net R50.00 vir drie betaal.

Lekker eet
Die groot vraag, elke dag, wat eet ons, vir party is dit waarna hulle uitsien die heel dag, die oplossing op die vraag, 'n blye vooruitsig om werk agter te laat, voor die potte, of vuur in te skuif en te begin met die hoogtepunt van die dag, om ander gelukkig te maak (en ons self) met kos. As jy een van die is wat uitsien na kosmaak, wat naweek beplan rondom vriende kos en wyn, dan is ons van dieselfde wilde hen se kuikens, as jy elke dag opsien na wat jy gaan maak om te eet, hou verby, jy is nie van my kerk se mense nie, hier eet en drink ons omdat ons wil, nie omdat ons moet nie, ons leef om te eet, eet nie om te leef nie. As jy nog steeds lees, welkom in my wereld.

Potjie