Thursday, May 20, 2010

Groentesop met hoender aftreksel

So gereeld gooi ons eenvoudig die karkas van 'n oondgebraaide hoeder weg, maar hoekom nie hoender aftreksel kook nie, Maandag aand het ek twee hoenders in die oond gebraai en Dinsdag aand het ek die karkasse en al die beentjie wat oorgebly het saam met uie, knoffel roosmaryn en wortel saam met water gekook tot 'n lekker aftreksel. Gooi deur 'n sif en hou tot nodig.
Vanaand het ek die yskas gestroop van alle bietjies groente; wortels, aartappels, kool,uie en sommer die bietjie pasta wat oorgebly het, sout en peper en natuurlik Worcestershire souse en 'n opgehoopte teelepel tarragon. Voeg alles by die hoender aftreksel en kook tot sag, en die geure goed gemeng het.

Bedien met croutons

Lekker eet
Potjie

Tuesday, May 18, 2010

Nag Oom Japie – Lekker Rus

Een aand sit ek en Karl en Ooms Japie en Eugene daar by Oom Eugene se braai met sy uitsig op die ys koue waters van die weskus en maak groot planne vir 'n aand waar oom Japie sy beroemde afval pot gaan maak, en ek my haas pot. Dit was drie miskien vier jaar terug, intussen het ons saam kreef gekook en wyn gedrink, maar die potte het nooit gebeur nie, dit sal ook nooit nie, want oom Japie is Maandag oorlede, en ons kans vir saam pot maak is vir ewig verby.

Oom Japie Lings en Oom Eugene Regs.

Ons almal wat oom Japie geken het sal hom met 'n glimlag onthou, en 'n traan knip ondat ons hom mis. Die volgende pot is vir jou oom Japie, lekker rus.


Potjie

Sunday, May 16, 2010

St Helenabaai

Indien julle St Helenabaai op Pasella gemis het laas week, hier is die video, en kyk mooi hoe 'n gebraaide snoek moet lyk.



Lekker eet

Potjie

Friday, May 14, 2010

Biltong en Kaas

'n Tyd gelede het ek 'n brief geskryf na aanleiding van 'n artikel in die tydskrif van die Rapport oor potjiekos. In die artikel word daar onder andere gepraat van 'n biltong en kaas potjie.


Indien jy dalk gedink het dat die skrywer het die kombinasie uitgedink om sy punt te bewys besoek gerus http://networkedblogs.com/3OIB6 , die selfde pot is 'n inskrywing in 'n kompetisie om Suid Afrikaanse kos aan die wereld te vertoon.


Op hierdie noot gaan ek nou afsluit, besluit self wat julle van die pot dink, en voel vry om jou mening te lig.


Lekker eet

Potjie

Tuesday, May 11, 2010

St Helenabaai



So entjie voor jy die dorpie St Helana Baai kry as jy van die Kaapse kant af kom lê Brandhuis aan jou regterkant, dis daar waar tannie Annemarie en oom Eugene Sieber woon, nie 'n huis wat jy maklik verlaat as jy daar ingeloop het nie, nog enetjie is 'n gewilde woord in daai huis, miskien so effens meer gewild by die oom as by die tannie, maar laat ons nou nie hare kloof nie. Woensdag aand 12 Mei 2010 kan julle wat in Suid Afrika woon almal vir Eugene Sieber ontmoed, skakel net in op Passela op SABC2, 'n lekker stuk oor St Helanabaai, en wie anders as onse eie oom Eugene is voor in die koor.


Die volgende stuk is 'n uittreksel uit 'n blog inskrywing van laasjaar, waar oom Eugene my vertel het van sy veldkool.


"Ou Berra, ek sit nou hier op die stoep en drink 'n rosé'tjie, my pens hang tussen my knieё, want ek het my nou liederlik ooreet. Jy sien, nou die dag stap ek en Annamarie en die kat af see toe, en ek sien sommer hier tussen my huis en die see groei die veldkool en ek begin pluk en ek sê vir Annamarie om 'n sak in die huis te loop haal, en ek pluk 2 sakke vol, en toe loop ek daar by Tannie Betsie verby en gee vir haar een sak veldkool en ek hou vir my een sak. Die volgende oggend sê ek vir Annamarie om vir ons 'n lekker vet stukkie skaap by die slaghuis te koop, want jy het vet skaap nodig vir die veldkool. Toe ek vanaand 5 uur van die werk af kom, toe sny ek vir my 'n lekker klompie uie, en ek braai hulle in die olyf olie, en toe braai ek die vet skaap vleis saam met die uie tot lekker bruin en ek gooi bietjie water op en ek kook die spulletjie, en ou Barra, ek kook hulle nog en ek kook hulle nog. Toe die vleis lekker sag begin word, sit ek 'n paar aartappels by en so rukkie later die veldkool, maar eers het ek die veldkool lekker in soutwater laat lê, as daar dan goggatjies in is, dan klim hulle vinnig uit en jy het lekker skoon veldkool. Ek gooi toe 'n bossie surings by, wat ek vroeёr loop pluk het, ek sny hulle so in 2 of 3 stukke, jy weet mons man, daai surings met die geel blommetjies, ja ek gooi hulle sommer met blommetjies en al in, en ek gooi my speserye by en die spulletjie word 'n bredie soos jy nog nooit geeёt het nie. Ou Barra, om te dink die goed groei hier op my voorstoep en nou vir die eerste keer kook ek hulle self, dis lekkerder as enige iets wat jy in die winkel kan koop en ons mense ken dit nie (op die stadium hoor ek tannie Annamarie daar op die agtergrond maar ek kan nie lekker hoor wat sy sê nie). Annamarie vra nou vir my of ek 'n lemoen wil hê, maar ek sê vir haar, nee jong, ek het nie plek vir enige iets nie, ek sluk maar die volgeit met die rosé af."


Lekker eet


Potjie

Sunday, May 9, 2010

Afval om die winter koue weg te jaag

Dis koud, nat en grys in die Kaap, en ek het uiteindelik besef hoekom ek nie geseën is met 'n familie plaas nie. Boere bid vir reën, maar ek wens die reën weg, ek soek sonskyn, ek wil in 'n kortbroek en t-hemp met kaalvoete rondloop, ja ek hou van winterkos, maar ek eet liewer sop in die somer as wat ek die son nie vir 'n paar dae lank nie sien nie. Ek het groot geword in die koue nat winters van die Kaap, maar waar ek hier sit en tik met 'n lekker glasie port en die gehis van die gas verwarmer in die agtergrond wonder ek alreeds hoe op aarde ek more oggend uit die vere gaan kom.

Afval besig om te kook

Die een positiewe ding van die winter is dat almal skielik my liefde vir bredies en potjies deel, en Saterdag was dit 'n lekker Kerrie skaap afval potjie wat gestalte gekry het, amper lekker genoeg om die Stormers se vertoning van die naweek te vergeet, moet liewer nie dat ek begin praat oor invoer produkte van Fidji nie, sooibrand sal my voorland wees sowaar.


2 skaap pense, 6 skaap pootjies en 3 vark pootjies in 'n pot saam met uie, Kerrie speserye en 'n skoot rooiwyn, kyk so nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is, indien nie gooi bietjie water by, as jy nie so 4 ure tyd het nie, los maar, of verkrag dit in 'n stoompot, maar tyd is al wat 'n skaappens sag kry, stadig prut terwyn jy 'n glasie of twee rooiwyn gebruik. So halfuur voor jy wil eet sny 'n paar aartappels by, en kook vir jou bietjie rys, noord van die Oranje rivier kan julle maar pap maak, dit sal ook werk.

Almal se mae is nou vol


Die winter voel sommer na 'n beter seisoen met so bord afval voor jou.

Lekker eet

Potjie.