Showing posts with label Skaap. Show all posts
Showing posts with label Skaap. Show all posts

Sunday, May 9, 2010

Afval om die winter koue weg te jaag

Dis koud, nat en grys in die Kaap, en ek het uiteindelik besef hoekom ek nie geseën is met 'n familie plaas nie. Boere bid vir reën, maar ek wens die reën weg, ek soek sonskyn, ek wil in 'n kortbroek en t-hemp met kaalvoete rondloop, ja ek hou van winterkos, maar ek eet liewer sop in die somer as wat ek die son nie vir 'n paar dae lank nie sien nie. Ek het groot geword in die koue nat winters van die Kaap, maar waar ek hier sit en tik met 'n lekker glasie port en die gehis van die gas verwarmer in die agtergrond wonder ek alreeds hoe op aarde ek more oggend uit die vere gaan kom.

Afval besig om te kook

Die een positiewe ding van die winter is dat almal skielik my liefde vir bredies en potjies deel, en Saterdag was dit 'n lekker Kerrie skaap afval potjie wat gestalte gekry het, amper lekker genoeg om die Stormers se vertoning van die naweek te vergeet, moet liewer nie dat ek begin praat oor invoer produkte van Fidji nie, sooibrand sal my voorland wees sowaar.


2 skaap pense, 6 skaap pootjies en 3 vark pootjies in 'n pot saam met uie, Kerrie speserye en 'n skoot rooiwyn, kyk so nou en dan of daar nog genoeg vloeistof in die pot is, indien nie gooi bietjie water by, as jy nie so 4 ure tyd het nie, los maar, of verkrag dit in 'n stoompot, maar tyd is al wat 'n skaappens sag kry, stadig prut terwyn jy 'n glasie of twee rooiwyn gebruik. So halfuur voor jy wil eet sny 'n paar aartappels by, en kook vir jou bietjie rys, noord van die Oranje rivier kan julle maar pap maak, dit sal ook werk.

Almal se mae is nou vol


Die winter voel sommer na 'n beter seisoen met so bord afval voor jou.

Lekker eet

Potjie.

Friday, April 17, 2009

Die koedoe steak is in die olyf olie en suurlrmoen sap, so die groot besluit is hier. Wat vir hoofgereg of dalk ‘n paar kleiner geregte wat na mekaar bedien word. Skaap stertjies, maar dis ‘n ding wat jy hande voor moet gebruik, en daai een skoonsuster van my eet nie eers ‘n toebroodjie met haar hande nie, so dit gaan nie werk nie. Skaapboud, nee lamsboud, ja lamsboud, met ‘n moroccan rub, olyf olie en mint, met peppers en bietjie groente en couscous. Nou dit klink na ‘n plan.

Nou so gepraat van Morocco, daars ‘n peper genaamd long pepper, man ‘n lekker peper, maar half van ‘n ontmoontlikheid om in die hande te kry as jy nie pel het wat daar gaan kuier nie, so 'seblief as een van julle daar gaan kuier, bring saam, sakke en sakke vol.

Ek kan aangaan en aangaan oor Morrokaanse kos, en as die lamsboudjie suksesvol is, sal ek die volledige resep Maandag vir julle gee, maar my ou maat, ‘n tagine is ‘n ding wat jy selfs ‘n tarentaal in kan sag kry, as jy nie een het in jou kombuis het nie, koop een, vandag nog, skaapskenkel of nek, beesvleis, hoender of vis, hulle werk in die ding van die Morakane, en tussen my en jou, vark ook, jy gaan net nie ‘n resep kry vir daai een nie, Moslem land daai, vir vark moet jy maar dat jou gevoel jou lei.

En as julle dalk wonder of daai ribbetjie gisteraand gebeur het, ja hy het, met growwe sout, peper en rosemary, vet lekker uitgebraai, met ‘n lekker skep kerrie boontjies en beet, heerlik man, heerlik.

Lekker eet

Potjie