Wednesday, August 17, 2011

Springbok Blad met Anchovy en Olywe

Ons het groot geword met die idée dat die belangrikste spesery in wildsvleis naeltjies is, om die wildgeit glo weg te vat, 'n mens sou dink dat die hele idée van wildsvleis eet is om die wild te proe, daarom kook ek my springbok met anchovy om juis die smaak uit te bring, en dan natuurlik rooiwyn, en net omdat olywe en rooiwyn so lekker saamgaan sommer 'n handvol olywe ook.

Ek verkies die blad van 'n springbok bo die boud, maar die resep sal net so goed werk vir 'n boud as vir 'n blad.



Jy benodig:

1 springbokblad
3 tot 4 Anchovy fillette
250g repies spek
2 koppies rooiwyn
1 pakkie ontpitte swart olywe
Handvol tiemie
250g sampioene sommer vir die lekker
8 tot 10 klein uitjies
Sout
Swart peper


Metode:

Strooi sout en swart peper oor die blad, plaas in 'n oondvaste bak (jou braaibak sal lekker werk) smeer die fyngekapte anchovy oor die blad, neem die repies spek en bedek die blad. Gooi twee koppies rooiwyn in die braaibak, gooi die tiemie by (bind die tiemie met 'n tou aan mekaar vas, dan kan jy dit maklik uit haal aan die einde en jy hoef nie te sukkel om al die klein blaartjies van die takkies af te haal nie.) Gooi die olywe ook in die bak. Plaas in 'n 160°C voorverhitte oond, na 'n uur gooi die uitjies by, an na nog 'n halfuur gooi die sampioene by. Na twee ure behoort die vleis so sag te wees dat jy die been met jou hand uit die vleis kan trek, indien nie, laat nog 'n rukkie in die oond bak.

Haal die repies spek van die blad af en sny in stukkies, die vleis behoort vanself op te breek en die sous wat oorgebly het op slurp, meng die spek met die vleis en die olywe, sit voor met rys of kapok aartappels en soet patats, en soos altyd 'n glas of twee lekker rooiwyn.

Lekker eet
Potjie.

To read this post in English go to http://blogs.food24.com/potjie


3 comments:

  1. Ek stem saam!! Hoekom die moeite doen om wildsvleis te eet en dan eers die wild uit te haal? Hierdie klink heerlik!!

    ReplyDelete
  2. Oooooh Barry - dit klink heerlik. Ek moet nou Springbok Blad in my hande kry ... yummmmy xxx

    ReplyDelete
  3. Twee ure teen 160 is heeltemal te min tyd.

    ReplyDelete