Wednesday, March 31, 2010

Hot Cross Buns

Nou die dag lees ek 'n resep vir hot cross buns op 'n food blog op news24 (http://blogs.food24.com/iky200306/hot-cross-buns) en ek besluit om in die gees van paasfees my hand te waag aan Hot Cross Buns bak.

Halfpad deur die resep besef ek, ek het nie mixed spice nie, wel ek besef eintlik ek het nog nooit mixed spice gehad nie, ek weet nie eers hoe ruik dit nie, maar all en mixed klink vir my naby genoeg toe gebruik ek maar die all spice, moet dit net nie verwar met jou oupa se Old Spice nie. So tyd terug het ek vanilla custard gemaak en toe die vanilla peule in suiker gedruk, ek het nie geweet wat om met die suiker te maak nie, so toe gebruik ek dit maar in die hot cross buns.

Iky200306 die girl van die blog waarop ek die resep gekry het is (soos ek) nie groot op spesifieke mates nie, haar mates gaan soos volg "enough water to make a thick(ish) paste" so my paste was nie thick(ish) genoeg nie, wat beteken dat ek geeindig het met Not Cross Buns, in plaas van Hot Cross Buns, en ek sal ook bietjie moet werk aan my glasiering. Maar die smaak is heel ok.

Lekker eet
Potjie

Tuesday, March 30, 2010

Kobus se Gat en 'n woeste oester

Ok, so ek is 'n dag laat met die Langebaan Lagoonfees, maar in die ou dae sou ek eers die fotos moes laat ontwikkel het, so moenie te veel moan nie, net vir die rekord, die feit dat ek eers op Dinsdag skryf het niks te doen met die hoeveelheid wyn wat gedrink is gedurende die fees nie.

Die verblydenste aspek van die kos stalletjies op die fees was die verskeidenheid van stalletjies, en hoe Suid-Afrikaans dit was, bo en behalwe die gewone kerrie en rys en boerewors rolls was daar ook afval, roosterkoek, kudu burgers, rolls, sosaties en oesters (met tequila en red bull!) asook swarmas en natuurlik biltong en wyn, die een ding wat ek nerens gesien het nie was jafels, ek was juis so lus vir 'n haas javel, maar nou ja, nie juis die tiepe ding wat jy sommer so raakloop nie.
So sonder om te veel nonsens verder te praat, hier is 'n foto oorsig van die kos gedeelte van die fees.













Lekker eet
Potjie

Friday, March 26, 2010

Daar’s ‘n woeste oester op Langebaan

Goeinaand uit 'n effens nat Langebaan by die Lagoonfees, maar ons word warm gehou deur oesters en tequila.

Die fotos en stories volg maandag

Lekker eet

Potjie

Ferdie braai in die kombuis

Gisteraand het swaer Ferdie besluit dis tyd om sy ander binne braai weer af te stof. Dit is een van die braaitjies wat 'n elektriese element het, en 'n bak onder waarin water gegooi word om te keer dat die vet spat, nou as jy my vorige definisies van braai neem dan is die nie regtig 'n braai nie, maar ek gaan nie net streng wees op swaer Ferdie nie, ek het self een van die braaitjies en dit het my lus vir braai al baie gevoed as die Kaapse winter my keer om buite te braai.


Ferdie het vir ons vark (gerookte) tjops en "rashers" asook hoender sosaties, borsies en kaaswors gebraai, selfs 'n broodjie het hy gebraai op die binne braai, alles terwyl Taldulkar die boulers straf en ons dit bal vir bal kan volg.
Dankie swaer, soos julle aan my bord kan sien was alles uit die boonste gestoeltes soos oubaas sou se.

Lekker eet
Potjie

Thursday, March 25, 2010

Net 'n vinnige braaitjie

Sommer net 'n vinnige braaitjie so in die middel van die week, wat is daar nou om meer te se.

Lekker eet
Potjie

Wednesday, March 24, 2010

Skaapkop in die oond

Elke jaar moet jy ten minste een ding doen wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie, so die naweek het ek besluit dis sulke tyd, wat sal ek doen? uit 'n vliegtuig spring, Mount Everest aandurf, skaapkop gaarmaak, ja dit klink na 'n goeie plan, beter as die ander twee in elk geval, so maandag was dit sulke tyd.


Veel van 'n resep kan ek nie gee nie, dis 'n goed skoongemaakte skaapkop, sout, peper en tinfoil in 'n vooraf verhitte oond so 180˚ vir ten minste 3 ure, loer en voel of die wang vleise sag voel, bak nog as dit nie sag is nie, wanneer die ou dan sag is, haal hom uit, kap hom in die helfte en val weg met jou knipmes. As ek moet verduidelik hoe hy smaak sal ek sê die meeste smaak soos 'n lekker vet skaap rib, die oë soos murg, die tong soos tong en die harsings soos harsings.

Dit is nie die soort van ding wat jou hart spesialis jou sal aanbeveel om te eet nie, dis 'n ryk en vetterige affere, maar lekker as jy die skaap wat jou so aanstaar kan verduur.


Aan alle skaapkop guldes, as ek nie met genoeg respek gepraat het van die skaapkop nie, vra ek by voorbaat onverskoning, ek weet julle manne en vroue vat 'n skaapkop ernstig op.

Daar is net een ding wat my pla, van ons die skaap koppe geëet het, stap my vrou al agter my aan, ek wonder wat aangaan.

Lekker eet

Potjie

Monday, March 22, 2010

Oesters en 'n mini bloody Mary

Dis seker nie nodig vir my om dit te se nie, maar sorg dat wanneer jy oesters koop dat dit vars ruik, maak seker die oester is nog lewendig, as dit aan enige iets anders as see ruik dan is dit nie.


Maak die oester oop en los van die skulpie. Maak 'n "shot" glasie half vol met vodka, vul met tamatie sap, maal swart peper bo-oor, en dan 'n paar skutte Tabasco en Worcestersous.

Suig die oester uit die skulpie, kou om die smaak regtig te geniet, vat 'n sluk van die bloody mary.
Versigtig nou met hoeveel jy eet, dis die natuur se Viagra die, of so gaan die storie in elk geval.

Lekker eet
Potjie

Thursday, March 18, 2010

Lamsrib langs die vuur

Sondag middag laat maak ek 'n vuurtjie vir so vinnige braaitjie, en terwyl die vuur lekker brand sit ek 'n lams ribbetjie langs die vuur (vertikaal) neer, so af en toe draai ek die outjie om, maar vir die meeste van die tyd pla ek hom nie te veel nie.

Nie veel speserye wat so ribbetjie vra nie, sout en peper en dalk so skoot suurlemoen sap vir die vetterigheid.
Man is dit nou 'n groot lekkerte, en niks vlamme wat aanmekaar opskiet om die vleis pikswart te brand nie, en die vet wat so afloop marineer sommer heeltyd die vleis, sag my ou maat sag is die vleis van so ribbetjie.

Lekker eet
Potjie

Wednesday, March 17, 2010

Chinese hoender roerbraai

Die hoender is nie regtig van China af nie, dit was sommer 'n Suid Afrikaanse hoendertjie, maar die geurmiddels wat ek gebruik is wat tradisioneel in Chinese of Oosterse kook kuns gebruik work, dis hoekom ek dit Chinese hoender en nie Kaapse hoender noem nie.

Neem 'n paar hoenderborsies sonder vel en sny op in hapgroote blokkies, marineer vir so uur in 'n mensel van ligte soya sous, donker (die gewone) soya sous en oester sous. Maak olie lekker warm in 'n wok oor 'n gas vlam (jou elektriese stoof gaan nie lekker werk nie, hy's nie warm genoeg nie) gooi fyngekapte knoffel en gemmer in die pan, dan die hoender en roerbraai, voeg so bietjie droe sherry by, wanneer amper gaar verwyder die hoender.



In dieselfde wok roerbraai wortels, murgpampoentjies en sampioene (begin met die wortels, hulle vat langer), geur die groente met dieselfde geurmiddels as wat jy die hoender mee gemarineer het, wanneer die spulletjie te droog word, voeg 'n bietjie sherry by, wanneer die groente amper gaar is, voeg rys noedels en die amper gaar hoender by, roerbraai tot alles gaar is, sit fyngekapte koljander blare by 30 sekondes voor die einde.

Lekker eet
Potjie

Monday, March 15, 2010

‘n Broodjie in die yster potjie

Soos belowe vertel ek heel eerste vir julle van die broodjie in my nuwe gietyster broodpannetjies, nie regtig veel om te vertel nie, broodbak is nou nie juis brein chirugie nie, maar 'n vars broodjie smaak darm altyd lekker.

Twee heerlike wit broodjies was die eerste geskenke van die nuwe brood potjies of pannetjies, of wat hulle ook al is. Broodbak is nou maar net een van daai dinge waar gramme en liters nie werk nie, jy moet voel daai deeg is reg, nie te droog nie, maar lekker elasties, en dan vir die rys,dan afknie, dan in die pannetjies om weer te rys en dan oond of vuur toe, meer van 'n kuns as 'n wetenskap so broodbakkery, nou nie dat dit so groot kuns is nie, maar vir my werk dit nie om alles mooi af te meet nie, ek moet kan voel die deeg is nou reg, as dit vandag 'n halwe koppie meel meer as gister vat, dan is dit nou maar so, maar reg moet hy voel, ander gaan dit flop, dis nou maar 'n feit soos 'n koei.

Lekker eet
Potjie

Friday, March 12, 2010

Wat maak julle met die vis?

Vanaand gaan ek 'n lekker hottentots vis oor die kole braai, net sout, peper en 'n bietjie suurlemoensap na die tyd, niks meer nie, na galjoen my gunsteling vis so hottie. Natuurlik mag jy nie meer erken dat jy galjoen eet nie, op die rooi lys van sassi die nasionale vis van ons, maar as iemand met 'n dooie galjoen voor my deur opdaag......... tot dan sal ek maar kyk wanneer die vis winkel 'n lekker groot hottie het.

Gistraand toe sien ek sulke lekker groot hottentots visse my die Fruit and Veg by Willowbridge, en ek dink ek sal maar my enetjie daar by die huis aanvul met nog 'n paar, maar kan julle glo wat het hulle met die vis aangevang.

Hulle het die visse van die maagkant af oopgesny om die derms uit te haal, ag nee man, niemand gaan tog 'n hottie opstop nie, hy word van die rugkant af gevlek, kop ook in die helfte deur, dan word hy so gebraai, ek het die verminkte vis toe maar daar gelos, wat maak ek nou met 'n hottie met 'n gat in die maag, elke man het darm sy standaarde.

Lekker eet
Potjie

Thursday, March 11, 2010

Die roker

Na 'n paar keer se rook in die nuwe roker het ek hom nou mooi uitgefigure, ja dit neem 'n bietjie langer om te rook as die kleintjie wat ek gehad het, maar ek het heelwat meer beheer, ek kan afhangend van waar ek die vleis sit, beheer hoeveel dit gerook moet word.
Tot nou toe het ek al Engelvis (ja ek het toe uitgeving Angel Fish word direk vertaal en Engelvis genoem), snoek en hoender op eikehout saagsels gerook, sowel as 'n varkpens wat ek bacon van gemaak het, asook hoender wat ek met rooibos gerook het.
Die rooibos gerookte hoender was 'n baie aangename verrassing, die rooibos gee 'n baie defnitiewe smaak aan die hoender, maar dit smaak nie aan tee nie.
Hier is 'n paar kiekies van die gerookte goete.

Snoek
Engelvis

Hoender op eikehout gerook


Hoender op rooibos gerook

Lekker eet
Potjie

Wednesday, March 10, 2010

Sommer net

Vandag het ek nie veel te se nie, behalwe was jou waatlemoen.

Lekker eet
Potjie

Tuesday, March 9, 2010

Is dit 'n pot, nee dis 'n broodpan, of is dit?

Goeie more hier uit 'n baie warm en nat Kaapstad, ja ek weet gewoonlik gaan die twee nie saam hier in die moederstad nie, maar vandag loop ons met kortmou hemde in die reen, en ek is nie 'n reen mens nie, maar die reentjie word met ope arms verwelkom na die laaste paar dae se hitte


Ek het 'n nuwe speelding gekry, maar nog nie met dit gespeel nie, 'n gietyster broodpan, ek kan nie wag om 'n broodjie te bak in hom nie, en julle sal natuurlik die eerstes wees wat weet daarvan, tot dan.

Lekker eet

Potjie

Monday, March 8, 2010

Net nog 'n braai

Daar het nie veel aangegan in my huis op die koskook front die naweek nie, met die kwik wat hier in die hoe dertigs bly het ek maar vleis gebraai, julle weet mons, tjoppie, wors, hoender vlerkies, braai broodjies en versierings soos aartappel slaai en groen slaai.



Lekker eet
Potjie

Friday, March 5, 2010

Braai jou rib langs die vuur

Wat kan dan nou beter wees as 'n braai na 'n snikhete dag soos gister hier in die Kaap. Maak 'n vuur en neem 'n glasie wyn terwyl die son in die weste verdwyn.

Kry vir jou 'n makefter waarin jy jou rooster op sy sy kan sit langs die vuur, op die manier gaan die vet nie in die vuur drup en aanmekaar vlamme maak nie, en jy kan terwyl die vuur brand die rib lekker langs die vuur braai, sodoende kan jy heelaand langs die vuur sit, maar nogtans kom die vleis gaar.


As jy dalk 'n vark pens (belly) daar het, sprinkle bietjie mosterd poeier oor hom, an dan 'n goeie skoot growwe sout en swart peper, plaas hom in die rooster, sit die rooster in die makefter wat die rooster langs die vuur gaan staan maak, en geniet jou wyntjie.

Hoe lank? Nee my maat, ek weet mons nou nie hoe warm jou vuur is nie, jy sal maar self moet besluit wanneer die outjie gaar is, maar een stukkie raad wat ek jou wel sal gee is, laat die velkant meeste van die tyd na die vuur wys, lekker krispie word die outjie, soos die Engelse sê, crackling.


Lekker eet

Potjie

Thursday, March 4, 2010

Aartappel suurdeeg brood

Ek wou nog altyd probeer om 'n aartappel suurdeeg broodjie te bak, maar my geduld laat my gewoonlik in die steek, want jy moet eers die aartappel suurdeeg maak, en dit gaan nie minder as 6 ure, of selfs oornag neem nie.

Maar laas naweek het ek dit gedoem. Donderdag aand het ek die aartappel suurdeeg gemaak deur twee medium aartappels te kook tot sag, haal dit uit die water maar moenie die water weggooi nie. Mash die aartappel baie fyn, druk deur 'n sif om seker te maak dit is fyn genoeg, gooi die water terug by die mash, voeg 'n bietjie sout en twee of drie teelepels suiker by en meng goed, gooi dan een pakkie kits suurdeeg by, gooi alles in 'n fles, en bere in 'n warm plek, die konkoksie moet lekker borrel en skuim dan weet jy dis reg.


Gebruik die mengsel as 'n gedeelte van jou water wanneer jy jou brood deeg aan maak. Verder maak jy nes vir 'n gewone wit brood, die brood sal wel anders ruik as 'n gewone suurdeeg brood, dis die aartappel gis wat daar praat.


Wanneer jy die broodjie met lekker dik botter op geniet sal jy weet die bietjie meer moeite was die moeite werd.


Lekker eet
Potjie

Wednesday, March 3, 2010

Rook met rooibos

Soos met enige nuwe speelding, speel ek nou meet met my nuwe roker as met my ander speelgoed, en gisteraand het ek hoender borsies oor rooibos mulch gerook, die eindproduk was heerlik, lees van die slaai wat ek daarvan gemaak het op What's Cooking, my Engelse blog.

Die Roker
Maar hier wil ek praat van die rook proses. Toe ek besluit ek wil probeer om iets oor rooibos te rook was my eerste gedagte dat ek 'n klomp tee sal moet koop, want ek hou nie soveel tee in my huis aan as wat dit gaan vat om hoenderborsies in die groot roker van my gaar te kry nie. die gedagte het egter vir my na 'n klomp geld mors geklink, toe onthou ek van die rooibos mulch wat ek by die kwekery gesien het.

Rooibos gerookte hoender borsies

Ek bel toe die kwekery en vra of daar enige iets anders as rooibos in die mulch is, maar hulle verseker my dis 100% organies en niks ander as die takkies en afval van rooibos nie, so toe koop ek 'n sakkie daarvan vir R16.00, en daar rook ons met rooibos.

Die Slaai

Die rook ruik heel anders as wanneer jy met eikehout rook, en die kos smaak ook anders, ek dink baie mense wat nie juis van gerookte kos hou nie, mag dalk hiervan hou, die smaak is veel ligter, en dit gee vir my meer van 'n speseryerige smaak aan die hoender as die eikehout.


Ek moet se dat die nuwe groter roker van my vat heelwat langer, en meer saagsels as die kleintjie wat ek gehad het, en natuurlik neem dit langer om warm te word, maar dit alles gee my meer speeltyd.

Chillies



Wat het die bakkie chillies met die storie te doen? Heeltemal niks, maar dit so mooi gelyk gisteraand, toe neem ek dit maar af.

Lekker eet
Potjie

Tuesday, March 2, 2010

Die Roker word ingewy

Vrydagaand het ek vir die eerste keer die nuwe roker gebruik, 'n snoekie (dit was regtig 'n snoekie, met die klem op die ie) en 'n Angel Fish, ek besef nou net ek weet nie wat 'n Angel Fish se Afrikaanse naam is nie.




Gerookte Angel Fish

Voor ons by die rook kom, die snoekie was baie maer, en ek weet nie hoe lank hy al by Checkers was nie, maar van nou af luister ek nie meer na my vrou nie, sy haat dit ek moet goed langs die pad koop, maar my snoek gaan ek defnitief aanhou langs die pad koop, die snoeke het nog hulle koppe aan, so ek kan sien hoe vars hulle is, of nie is nie.

Die roker is nogal groot, so dit rook bietjie langer as wat ek aan gewoond was met my kleiner roker, maar dit was heerlik, jammer ek kon nie die vingers van die snoek af weghou voor ek dit afgeneem het nie.

Gerookte Snoek


Lekker eet


Potjie

Monday, March 1, 2010

Die beter verloor potjie

Die Beoordelaar


Wel, toe kon ek nie die beoordelaar om die bos lei nie, let op die enkelvoud, ja daar was net een, en ek het geweet toe hy begin ek is in die moeilikheid. Dames en Here ek kyk na die hoeveelheid moeite wat gedoen is, is alles hier voorberei, is alles vars produkte, het jy rooi wyn met rooi vleis bedien en wit wyn met hoender of vis, dames en here ons is terug in die middel eeue, ok daai was dalk my verbeelding.

Oor die ander potjies gaan ek my nie uitlaat nie, ek wil nie beskuldig word van suur druiwe nie, en julle wil nie lees van verbrande potbrood, taai vleis ens nie, die wenner het volgens die beoordeelaar die meeste moeite gedoen, 'n voorgereg van mosselpot, 'n potbrood gebak en beesstert pot vir hoofgereg, ek het nie soveel moeite gedoen nie.




My plan was om 'n Morokaanse gereg te maak en dit dan as 'n pot te verkoop, ek het heelskenkel gebruik, wat oornag gemarineer is in:
1 koppie vars koljander blare fyn gekap
1 koppie vars mint fyn gekap
1 koppie olyf olie
1/4 koppie fyn gekapte vars gemmer
8 huisie knoffel fyn gekap
4 teelepels cumin
2 teelepels swart peper
16 cardamon pots
1 1/2 teelepels allspice
1 1/4 teeleepel sout
1 1/2 teelepel borrie
1 teelepel droe koljander




Al wat later bykom is patats, rooi uie, rooi pepers, en hoender aftreksel, en die spulletjie word dan op cous-cous bedien, nie 'n tradisionele pot nie, maar bleddie lekker, die vleis was perfek sag, en die speserye mengsel het Marokko so kilo of wat nader aan Suid afrika gebring, maar die beoordelaar was nie om die bos gelei nie, dis nie 'n pot nie, en my patats kom uit sakkies klaar geskil, wag laat ek stop, voor die druiwe suur word.






Dankie aan die Lord Montague Pub, in Montague Gardens wat die kompetisie geborg het, dit was 'n great event.

Lekker eet
Potjie