Friday, May 29, 2009

Iets warms vir ontbyt



Nou dat die reёn maak dat jy nie elke saterdag oggend kan gaan golf spleel nie, is daar altyd ander moontlikhede by die huis……


Hierdie shampagne wors is net die ding vir 'n romantiese ontbyt, kry die een daar by jou om haar mooiste ondergoedjies aan te trek, en maak die worsies gaar, jy mag dalk net besluit golf is nie so belangrik nie. Jy sal die worsies die vorige dag moet maak, anders gaan daai een begin ongeduldig word.


Jy benodig die volgende vir 20 worsies:

900g vark boud mince
625g vark rug spek
4 groot eiers
½ bottel pienk shampagne
1 eetlepel strooi suiker
1 teelepel fyn wit peper
¼ teelepel gemaalde gemmer
¼ teelepel gemaalde neut
knippie kaneel
knippie naeltjies
200g swart truffles, gemaal
derms vir 20 worsies

Meng al die bestandele behalwe die truffels en die derms, en laat staan oornag.

Dreineer die mengsel en meng die truffles by, stop die worsies, en maak gaar oor medium hitte.

Bedien die worsies met die ander helfte van die shampagne en nog 'n bottle aan daai een met die mooi onder goedjies, as sy dit nog steeds aan het na die ontbyt het jy erens 'n fout gemaak.


Lekker eet


Potjie

Thursday, May 28, 2009

Karoo Skaap

Ek lees nou die dag 'n blog van 'n eks Suidwester (hy noem homself so, ek weet dis nou Namibier) wat nou in Australie woon, en die man het baie te sê het oor karoo skaap. Wat hy met sy vinnige aangeleerde Ausie arrogansie sê is dat Damara skaap, karoo skaap se gat skop. Ek gaan nou nie in die bakleiery betrokke raak nie, my suster wat daar in Grootfontein in Namibie woon het my ook al so probeer vertel. Die mense in die regte Karoo (waar dit ook al mag wees) het te vertel dat die meeste mense nie weet wat 'n Karoo skaap is nie, 'n skaap uit Colesberg is blykbaar nie karoo skaap nie, dis al Vrystaat skaap, maar Baufort Wes skaap, dis nou blykbaar karoo skaap. Hier in die Wes Kaap vreet die skape gras, nie bossies nie, want dis wat hier in die Boland groei, blykbaar toetaal onaanvaarbaar om te eet as jy weet hoe Karoo skaap smaak. Ek weet nie van Damara of Karoo skape nie, en ek weet nie of my slaghuis se skape uit Calvinia, tel as Karooskaap nie, maar 'n lekker lamstjop oor die kole gebraai bly maar koning, en ek kan jou nou nie vertel van soorte skaap nie, maar wat sy naam ook al is, braai hom so.

Pak die loin tjoppies met hulle been kant na die kole toe, en braai to die bloederigheid daar by die been weg is, sit hulle nou met hulle vetkant na die kole, en braai daai vetjies lekker stadig tot lekker crispy, maar moenie brand nie, gebrande vet is bitter. Nou gooi die tjoppie op sy sy, en braai vinnig aan weeskante, die bloed gaan weg wees by die been, die vet lekker crispy, en die vleis nog lekker pienk en sappig. Om die tjoppie so perfek te braai, moet jy darm tjoppies van so 2cm dik hê.

As jy een van daai is wat dink dat skaap moet gaar wees, dan maak dit seker nie saak wat se skaap dit is nie, jy kan maar gevriesde ingevoerde skaap ook koop, jy gaan dit mons in elk geval opmors.

Hier in die Kaap eet ons Kaapse pap met ons tjops, sommige mense verwys ook daarna as braaibroodjies, en 'n perfekte braai broodjie is 'n storie op sy eie.

Verder noord eet hulle pap en sous saam met enige iets wat hulle braai, dis goed so, maar gelukkig het ons brood in die Kaap.

Lekker eet

Potjie

Wednesday, May 27, 2009

Varswater vis en die Kapenaar



Een naweek besluit ek en my Potchefstoomse meisie om te gaan kamp langs die vaalrivier. Ek moet bieg dat ek gedink het die enigste varswater vis wat eetbaar is, is forel, maar in die tyd wat ek toe in die Transvaal woon, vertel mense my hulle eet karpe en babers en ander lelike gediertes. Toe hulle my vra of ek nou regtig dink 'n kreef lyk meer eetbaar as 'n baber, toe besluit ek, ek sal wel probeer om die gediertes te probeer eet.


Wanneer jy in jou baie vroeё twintigs is, gaan kamp jy nie regtig saam met 'n meisie om vis te vang nie, maar daai Dopper meisies van Potch, neem elke dag so uur of twee om skuldig te voel, oor wat jou gisteraand baie lekker laat voel het, en dan kom jy onder hulle voete uit, netnou sê jy iets wat hulle nog steeds laat skuldig voel vanaand, en dit wil jy nie hê nie.


So het ek toe elke dag twee ure om vis te vang, en in my onkundigheid van varswater visvang, vang ek toe ook 'n paar karpe. Maar ongelukkig is daar toe 'n vreeslike siekte in die water, want die visse is besig om al hulle skibbe te verloor, lyk te aaklik, die visse wat net hier en daar 'n skib het. Gelukkig het ek vleis saam geneem om te braai, want g'n mens kan so siek vis eet nie, maar ek neem darm wel fotos van die siek visse.


Terug by die werk vertel ek my visserman kolegas van die verskriklike siekte in die vaalrivier, wat maak dat al die visse hulle skibbe verloor, en ek wys hulle die fotos. Die manne begin lag dat die trane loop, en ek verloor die laaste bietjie vertroue in die varsvis vreters, want mens spot nie met siekte nie. Maar die visse is toe geensins siek nie, dis blykbaar spieёl karpe, en hulle lyk so. Ek het nog steeds nie probeer om 'n karp te eet nie, ook nie die soort met 'n klomp skubbe nie, dis maklik genoeg om snoek in die Transvaal te kry. Die meisie van my se pa het beweer, dat die beste vis wat jy kam eet, is varswater baber in varkvet gebak in 'n swartpot, maar ek het sy drink gewoontes gesien, met soveel klipdrif in jou lyf kan jy enige iets eet.


Lekker eet


Potjie.

Tuesday, May 26, 2009

Moenie dat ander mense vir jou vleis koop nie

Ek wil vandag vir julle goeie raad gee, moet nooit as jy wil braai iemand wat jy nie beter as jouself ken, toelaat om vir jou vleis te koop nie, sommige mense het snaakse idees van wat mens kan eet.

Baie jare terug, 'n goeie twintig jaar of so, gaan ons weg vir 'n naweek saam met vriende, en vriende se vriende. Ek woon op daai stadium in die ou Transvaal, en die bestemming was Magoebaskloof, 'n mooi plek, maar met nare herhinneringe.

Ene Piet vertel ons van die slaghuis waar hy die wonderlike vleis koop, en oortuig ons almal om vir hom geld te gee dan gaan hy vir ons vleis koop. Die eerste aand se braai het bestaan uit wors en t-been. Ek kan nie eers onthou of die wors eetbaar was nie, want toe die vleis ten voorskyn kom, kry ek die skok van my lewe. Hoe iemand dit reggekry het om 'n t-been so dun te sny weet nugter, maar ek het al carpaccio gesien wat dukker as dit gesny is. Vir 'n oomblik het ek gedink dis polonie, maar nee, daar sit waaragtig 'n been in die vleis, ek hou die stuk vleis in die lug op, en ek kan die sonsondergang aan die anderkant van die vleis sien. Terwyl ek so staan en wonder of mens nie maar die been moet uitsny, en dan net olyfolie en peper moet oorgooi, en speel dis is carpaccio nie, begin Piet en trawante te braai. Nou kyk, dit vat 'n rukkie om oor die skok van so iets te kom, en na 2 of 3 minute begin ek weer soort van helder te dink, maar o aarde dit was hoopeloos te laat om die vleis te red, as dit enigsins moontlik was om dit te red, want daai 1mm stukkie steak is alreeds moer toe verbrand, en toe hoor ek Piet sê, nog so 10 minute, dan kan die vleis afkom, ek het nou nog 'n merk waar ek my gebrand het toe ek 'n stuk vleis van die vuur af ruk met my kaal hande, maar dit was ook tervergeefs.

Nooit, maar nooit weer het ek myself belowe laat ek toe dat iemand weer vit my vleis koop nie, ek en my vriend Karl is wel voorgespring een naweek toe ons wou braai, en om nou nie vriendskappe te versuur nie, gaan ek my weerhou daarvan om name te noem, maar asseblief, as jy nie kan ordentlik braai nie, moet ook nie die vleis koop nie, want jy weet nie van vleis af nie, en groot asseblief, moet ook nie dat jou vrou vleis koop nie, ons braai nie "minute steaks" nie, om die waarheid te sê, ons koop dit nie eers nie, as jy te suinig is om ordentlike vleis te koop, ek is regtig ok daarmee om my eie vleis te koop, moet nou net nie eerste in die braaibak inspring en my vleis eet en jou budget tjops vir my los nie, dis vieslik verby van jou.

Lekker eet

Potjie.


 

Monday, May 25, 2009

Mossels met fennel kaas sous



Soms, kom die insperasie so skielik op jou af, dat jy iets ongeloofliks skep nog voor jy dit besef. So tyd terug sit ek met heelwat fennel in die huis, en ek maak toe die aand mossels gaar, en ek besluit, as fennel vir vis werk, dan moet dit met mossels ook werk, en maak ek 'n sous.


Neem 'n lekker hand vol fennel. En kap dit fyn op, begin om 'n witsous te maak, maar dunner as wat jy gewoonlik 'n witsous sal maak, en gooi die fennel by, ook sout, suurlemoensap en peper, en dan die kaas, propbeer 'n nie te sterk bloukaas nie, jy wil nie die fennel heeltemal oordonder nie. Kook alles stadig tot kaas gesmelt is.


Stoom jou mossels gaar in die bamboes stomer, pak 'n klomp mossels op 'n bord, en gooi die sous bo-oor, bedien saam met lekker crispy broodjie en eet jou vingers af.


Lekker eet


Potjie

Friday, May 22, 2009

Raak wild met Wild



Hiedie is die tyd van die jaar dat ons manne mons voel dat selfs al jag ons nie moet ons ten minste 'n bok koop by die manne wat wel jag. Dit is nou ongeag die feit dat daar nou nog van laas jaar se wildsvleis in die vrieskas lê. By my huis gebeur dit nie, maar ek hoor van manne wat nog 2 jaar terug se wild kookvleis in hulle vrieskas het. As jy en jou gesin bietjie moeg is vir wildspastei, maak 'n nuwe plan, en hier is vir jou 'n plan of twee.


Hoe jy die vleis van die bene afkook, en of jy spesery voor of na die tyd bysit is jou saak, ek gaan nie met jou stry nie, net een ding, ek weet naeltjie pas by wild volgens tradisie, maar die idee is nie dat dit moet smaak soos naeltjie ekstrak nie, wees spaarsaam daarmee, dit het 'n sterk smaak, hou nog oor vir wanneer jy weer tandpyn het, en probeer bietjie balsamic asyn in plaas van gewone asyn. Een laaste ding voor ons by die planne kom, as jy daai bottel "af" wyn van gisteraand in die vleis gooi, moenie twyfel nie, die vleis gaan net so sleg soos die wyn wees, as die wyn nie vir jou lekker is nie, gooi dit weg of hou dit vir die familie, maar moenie dit in die kos gooi nie.


In plaas van pastei, het ek besluit ek gaan worsrolle (sausagerolls) die jaar bak, dis maklik om op te sny as "snacks" en om werk toe te neem vir middagete.


Weergawe een, sny 'n paar varkworsie oop, en braai die maalvleis tot gaar, meng met van die wildsvleis en sit jou speserye by, sout en peper is vanselfsprekend, onthou die vark het alreeds speserye by, miskien nog bietjie koljander soos die gees jou lei sou Pieter Pieterse gesê het. Lê jou pastei deeg op die tafel uit, smeer appel jellie waar die bo-kant van jou worsrol gaan wees, skep die vleis mengsel bo-op, rol die worsrol toe, smeer met geklitste eier en bak tot goudbruin, jy mag dalk net besluit om nog 'n bok te koop.


Weergawe twee, meng gekapte pepadews met jou wildsvleis, gooi bietjie van die sous by die vleis en braai bietjie, maak worsrol soos bo.


Weergawe drie, vervang die pepadews met songedroogte tamaties, en smeer die deeg met bietjie songedroogte tamatie pesto, maak worsrol, eet jou vingers af.


Weergawe vier, dink jou eie kombinasie uit, maak worsrol J


Jy behoort nou klaar te wees met jou eerste bottel rooiwyn, dis ok om nog een oop te maak, jy het mons darm 'n bietjie in die kos gebruik, of hoe?


Lekker eet


Potjie.

Thursday, May 21, 2009

Italiaanse Vis



As jy een dag voel, jy moet nou 'n slag weer vis eet, maar dit is jou gewete en nie jou lus wat praat nie, probeer dan gerus die volgende.


Stoom jou vis gaar, en asseblief moet nou nie die vis gaan oorgaar maak nie, vis moet net gaar wees, anders kan dit 'n vreeslike droё affêre wees, gebruik 'n wit vis vir die resep, iets soos stokvis, ek gebruik gewoonlik angel.


Nou die lekkerte, die italiaanse sous. Of jy moet nou cherie tamaties afskil of jy kan woolies se geblikte cherie tamaties gebruik, ek ken nie baie mense wat lus is om die klein tamaties af te skil nie, so kom ons gebruik maar die blik, jy kan seker wegkom om nie die tamaties af te skil nie, maar dan gaan jy met 'n klomp tamatie skilletjie in jou kos sit. Gooi blik tamaties in oondbak, voeg by 12 gekapte groen olywe, 6 gekapte swart olywe, 3 huisies gekapte knoffel, 'n handvol gekapte roket blare, 'n teelepel kappertjie saad en 'n bietjie olie, en dan sout en peper na smaak, sprinkel een eetlepel broodkrummels oor alles, bak in oond vir so 45 minute. As jy vars tamaties gaan gebruik moet jy 'n halwe koppie olyfolie gebruik, as jy die blik gebruik net so vinnige skud of twee.


Skep die sous oor die vis, en bedien met lekker vars brood.


Lekker eet


Potjie.

Tuesday, May 19, 2009

Eend mak of wild



My swear Marius, vertel altyd die storie van die man wat vir die kelner gevra het of hulle wilde eend het, waarop die kelner geantwoord het," nee meneer, maar ons het 'm mak een hier agter wat ons bef_ ek meen kwaad kan maak".


Ek neem aan dat wilde eend omtrent so taai soos tarentaal moet wees, want die mak eende wat hulle in die winkel net om die hoek verkoop, wil net nie so sag word soos ek hulle wil he nie, ek kan heel nag braai, maar na 'n uur wil ek hê die eend moet gaar wees in die oond, nou gaar is hy, maar so taai soos skoensole. My beter helfte is versot oor eend, wat my noodsaak om die eend ding reg te kry, so gisteraand het ek besluit tot hierso en nie verder nie, vanaand maak ek vir Donald sag, kom wat wil. In Marlene van der Westhuizen se kookboek delectable kry ek toe 'n resep vir ' gemmer en tiemie eend.


Ek gaan nou nie die hele resep hier oorskryf nie, ek hoor die Marlene vroutjie is 'n moeilike een, en ek wil my nie haar gramskap op die hals haal nie, maar basies werk die ding so. Jy stop die eend met gemmer, tiemie,knoffel, leeks (kan nie onthou wat dit in afrikaans is nie) en wortel, dan sit jy dit op 'n rooster in 'n oondbak, die oondbak vul jy met water, en die eend maak jy styf toe met foil, tot teen die rooster, dan laat jy die eend so 45 min stoom teen so 220 grade C, dan gooi jy die water uit die bak uit (hou die water jy het dit nodig vir die sous) dan bak jy die eend verder teen 200 grade C tot die eend lekker crispy is.


Wanneer jy die water afgegooi het, en die eend is besig om crispy te word, dan skep jy van die vet van die water af en jy bak geskilde ontpitte pere daarin, so 5 minute, een peer per persoon, as jy klaar is maal peper oor die pere en sit eenkant.


In die pan wat jy die pere gebak het, gooi 'n koppie rooiwyn,krap die vulsel uit die eend in die pan in, kook vinnig tot helfte van oorspronklike volume, haal al die soliede stukke uit die sous, gooi 'n koppie hoender aftreksel by, en kook tot dit soos sous lyk wat jou tone van lekkerkry laat omkrul.


Nou het ek eintlik die hele resep gegee, maar ek was so bang iemand mors dit op en dis so lekker, saam met rys of kapokaartappels, of pasta, heerlik, maar dan is alles in die boek van Marlene van der Westhuizen uit 'n ander wêreld, en die stories in die begin van die hoofstukke laat jou saam met haar stap deur die markte van Frankryk, jy voel saam bly en lus vir kook as sy op 'n groot pot afkom, en jy braai saam op Middelvlei. Die vrou kon storie boeke geskryf het, as sy nie kon kook nie, en dis wat enige ordentlike kookboek vir my moet wees, 'n storieboek wat jou saam die kos gaan laat koop, en saam kook, ek soek nie 'n handboek nie, ek soek 'n storie, en in Delectable het ek dit, as dit nie in jou kombuis is nie, kry dit, vandag nog.


Lekker eet


Potjie

Monday, May 18, 2009

Lewer Wors vir ‘n begin

Vir 'n baie lang ruk speel ek al met die gedagte om vir myself wors te maak, maar dis onmoontlik om vleis te koop en dan wors vir dieselfde prys te maak as wat jy dit in die winkel koop. Laat jou wonder wat is als in daai wors, maar laat ek nou nie weer daaroor begin nie.

Vroulief is baie lief vir lewer, ek is nie 'n vreeslike lewer eter nie, maar dit laat my toe dink, wat van lewer wors maak, dan score ek punte by liefie ek ek kan dit ook eet. My eerste probeerslag was volgens vroulief 'n ongekwalifiseerde sukses, ek het ook vir Wayne van Rudi's sausage deli laat proe, en hy en sy vrou het ook gesê dis heerlik, maar ek is hulle beste kliёnt, so ek weet nie of ek veel notisie daarvan kan neem nie.

Hier is hoe ek dit gedoen het. Sny 500g lamslewer in blokkies, sny +- 150g skaap vetstert vet in blokkies, kap een pakkie bacon fyn, rasper een groot ui. Meng lewer en vet, en sprinkel met speserye, ek het koljander, naeltjies, sout, swart peper, paprika en worcestersous gebruik. Maal die lewer en vet deur jou meul, so grof as moontlik, meng, jou ui en bacon by die maalvleis, en stop in derms. Braai oor medium kole, en voel baie trots op jouself dat jy nou wors braai wat jyself gemaak het.

Lekker eet

Potjie

Wednesday, May 13, 2009

Kombuis speelgoed

Vrouens se mans raak nooit groot nie, hulle speelgoed word net duurder, en miskien het hulle 'n punt beet. Die meeste van ons mans hou van gadgets, ek verseker.

Een van my nuutste speelgoed is so dingetjie waarop jy in die kombuis kan "braai", dit het 'n bak onder wat jy met water vul, 'n elektriese element en 'n roosteryjie, en dan kan jy die hitte stel van hoe warm of hoe koud jy die ding wil hê. Ek is die eerste een wat sal sê, dat om te braai moet jy 'n vuur hê, maar ek het nie 'n binnebraai nie, wel 'n onderdak een, maar ek reёn nog steeds nat daar, so nou "braai" ek in die kombuis, ek het nie vuur of kole nie, maar ek kan ten minste die vleis ondraai en maak of ek braai, en dis die meeste pret vir onder R200.00 wat ek lanklaas gehad het.

Ek het gisteraand besluit ek gaan burgers braai op die "braai", 4 ontbeende hoenderborsies geneem, in 'n plastiek sakkie gesit en hulle plat gekap met die vleis hammertjie, hulle bietjie gedoop in olyf olie, en toe lekker cajun spice gegooi, en vinnig gebraai. As jy nou uitspattig voel, dan braai jy bietjie bacon in 'n pan om saam met die hoender burger te geniet, die lekkerste hoender burger die kant van KFC. Die een probleem is net dit gaan so vinnig, toe braai ek maar 'n paar bees burgers ook, nou het ek middag ete.

Ek gaan nou sommer een van daai burgers vir ontbyt neem.

Lekker eet

Potjie.

Tuesday, May 12, 2009

Afrika Kos

Gisteraand lê ek en lees in tydskrif van tradisionele kosse van die swart gedeelte van ons bevolking, en natuurlik speel pap 'n groot rol daarin, nou nie iets wat ek my eersgeboorte reg wat ek nie het nie, sal voor verkoop nie, maar dit laat my toe terug dink aan so 20 jaar terug.

Ek het op die destydse Jan Smuts Lughawe gewerk, en by die mense wat die parkeer konsessie gehad het, het 'n swart vrou gewerk, 'n regta mamma, groot van gestalte en gul van geaardheid. Sy het as 'n sideline kos gekook op 'n twee plaat stofie onder in die basement waar die kantore van die konsessie hours was. Die menu was elke dag dieselfde, Hoender, kool en pap, en as ek reg onthou was die prys so iets soos R2.00. Ek was maar arm daai tyd (nie veel het verander nie) so ek eendag maar my Kaapse nonsens van nie pap eet nie, laat staan, en saam met Herman vir my 'n bord kos by mamma bestel, en daarna het dit 'n gereelde ding geword, dat ek en Herman vir ons 'n bord hoender, kool en pap vir middagete bestel, en as jy die kool so deur die pap werk, en daai hoender aftreksel wat so bo oor die pap gegooi word ook daar deur geroer, dan is dit heel lekker, as jy honger is, en jy kry 'n bord kos vir daai prys, moun jy in elk geval nie maklik nie.

Ek gaan nou nie vanaand pap en kool kook nie, maar ek verlang na die tyd dat ek kon eet vir R2!

Lekker eet

Potjie


 

Monday, May 11, 2009

Dis nou maar wors

Laat ek julle nou vandag iets vertel, as jy ooit by 'n braai kom, en iemand vertel jou jou, hy het hierdie wonderlike wors op 'n special gekoop, vir net R19.99 of so iets, en hy gaan dit vanaand vir jou braai, vat jou dop, jou tjop en jou vrou en kinders en gaan huis toe, want anders gaan jy iets verskrikliks sleg eet, met allerande vreemde goed in boonop. Ter stawing van my punt, die volgende, kyk of jy enige maar enige vleis vir R20,00 kan koop, ek het nog nie gesien nie, so hoe maak hulle wors vir daai prys, gemors my maat, dis wat dit is, nie wors nie. My gevoel sê vir my, die minste wat jy vir wors kan betaal is omtrent so R40.00 per kilo, enige iets minder, dan soek jy moeilikheid. Ek het mense geken wat sulke wors koop, ons is nie meer vriende nie, jy weet nie wat sulke mense alles kan aanvang nie, en kort voor lank is jy saam met hulle in die moeilikheid, so onthou, ek het julle gewaarsku.

Ek koop basies op 4 plekke wors, en nie een van hulle is 'n ketting winkel nie, ek's te bang daai R19.00 wors raak deurmekaar met die ander, ek vertrou in elkgeval nie mense wat sulke wors maak nie. Sonder om enige iemand nou verniet airtime te gee, wil ek julle vandag van Rudi's Sausage deli vertel. Ek het in hulle vasgeloop by die slowfood market by Willowbridge. Die manne maak allerande vreemde worse, net nie R19.00 wors nie, ook nie R40,00 wors nie, maar moenie na pryse kyk nie, gaan proe een saterdag oggend daar, koop gaan jy koop, dit waarborg ek jou, ek gebruik niks anders meer in my pasta as sy italiaanse worsie nie, ek sny sommer die vel af en druk die mince in my tamatiesous, heerlik man, dan het hy nog chorizo, en salami's en koolwors en wors van takbok, en wilde vark (europees, daai goed wat Oblix altyd verober het) en vele meer.

Kyk bietjie regs op die bladsy, hulle persverklaring is daar, as jy meer wil weet van hulle, of email Jacky Furno by helderwarescue@absamail.co.za.

Nog een laaste ding, jy gaan mons nie daai goedkoop wors koop nie, so moet nou in hemelsnaam nie jou wors gaan verbrand nie, ook nie met 'n vurk steek nie, hy moet nog sappig wees, en as jy hom vol gate gaan steek, gaan die sous wegloop, en die een wat sê dat wors goed gaar gemaak moet word, lieg vir jou, en hy koop R19.00 wors.

Lekker eet

Potjie

Friday, May 8, 2009

Oor my dooie lippe

Terwyl ek so deur 'n paar ou kook tydskrifte blaai, vang my oog vir Jamie Oliver by 'n bbq met eiervrug op, en ek dink dadelik aan my swaer Gidius daar in Kanada. Gidius glo vir 'n feit dat eiervrug nie bedoel is vir menslik gebruik nie, en ek sal self nie met absolute sekerheid kan sê hoekom iemand die ding sal wil braai nie. In die Savoy Cabbage Cookbook is daar 'n resep vir eiervrug wat so baie ander goed by het, dat dit nog net die tekstuur van die eiervrug is wat dit veraai, maar dis die tekstuur wat blykbaar my swaer se groot probleem is.

Ek begin toe dink aan goed wat mense nie eet nie, ek self het nie baie moeilikheid nie, maar 'n rou appel eet ek nie, van kleintyd af nie, ook nie sandwichspread nie, die goed lyk en ryk dan soos kots, hoe kan 'n mens dit eet, en een laaste ding, van dit het ek nie geweet tot vroulief dit nou die dag hier aangebring het nie. Hoender viennas, nou kyk 'n vienna op sy beste is vir my sleg, maar die hoender goed is sleg verby, ek raak sommer lus vir 'n appel!

My vriend Karl sê uit respek vir die manlike geslag eet hy nie 'n ding se testikels nie, dis blykbaar 'n groot lekkerte, maar ek gaan met die een by Karl staan, dis net nie reg om dit te eet nie.

My sus Lynn se oudste dogter Alta, eet nie uie en mushrooms nie, nou mushrooms kan ek miskien verstaan, ek is mal daaroor, maar dit is 'n swam wat in beesmis gegroei word, die uie ding kan ek nie verstaan nie, want 'n bredie kan jy nie kook sonder uie nie, sop ook nie, en hoe gaan jy nou 'n braaibroodjie maak sonder uie, dis soos dans sonder musiek man.

My vriend Johan eet nie toast nie, hy sê mens toast net ou brood, en hy eet nie ou brood nie, maar jy kan jou nie veel aan hom steur nie, hy eet ook nie advokado nie, en met kaas sukkel hy ook, gelukkig hou hy van braai, anders weet nie wat sou van ons vriendskap geword het nie.

Ek raak nou skoon senuagtig van dink aan alles wat mense nie eet nie, ek gaan nou 'n paar skaap nek tjops uithaal om te ontvries vir more, ek dink 'n boontjie bredie is net die ding vir 'n vrydag aand.

Geniet julle naweek, ons gesêls weer maandag

Lekker eet

Potjie


 

Thursday, May 7, 2009

Ferdie se Sprinbok Fillet

Gisteraand nooi swaer Ferdie vir my oor vir 'n vinnige braaitjie, die ou het saterdag bietjie gaan rondloop, en by die worsman hom vasgeloop in 'n Takbok Tolouse en een of ander Sweedse aartappel en nog iets wors, maar dit is sy skalkse glimlag wat my laat vermoed hy voer iets anders in die mou. Soos gewoonlik was ek toe reg, nie dat vroulief dink ek is gewoonlik reg nie, maar sy is nie nou hier nie, so ek gaan daarby hou.

Ferdie het 'n springbog fillet geneem, hom oopgesny en gestop met knoffel en cheddar kaas, en hom toegerol in bacon, en onthou nou, soos Pieter Pietersen gesê het, spek en bacon mag van dieselfde vark af kom maar dit is nie dieselfde ding nie, bacon is bacon, spek is daai wit vark vet wat jy by die volstruis sit, dat dit nie so erg droog is nie. Swaer braai toe die affere tog te lekker, daai bacon se vetjie trek so lekker in die springbok in (die outjie het blykbaar al twee dae in olyfolie en suurlemoensag gelê) en hy is nog so pienkerig binne. Dankie swaer, dis mons nou hoe 'n mens klein saterdag aand moet deurbring, en daai Riebeeck Kelder Merlot/Shiraz was self nie sleg nie, en vir die bykos Francis se room aartappels en groenslaai, heerlik man heerlik.

Ek sien gister in die koerant die nuwe sprinbok trui gaan jou oor die R800,00 uit die sak uit jaag, dis 2 springbokke met kleingeld verstaan ek van die manne wat jag, ek dink ek gaan maar die 2 bokke vat en my ou springbok trui hou, net nou vreet daai sprinbok die protea op die trui op.

Lekker eet

Potjie.


Wednesday, May 6, 2009

Onthou Kos



Wat is die kos wat jy onthou van klein tyd, wat jou sommer 'n glimlag laat kry as jy dit sien, en die smaak is op jou lippe net by aanskoue daarvan. Vir my is daar 'n paar dinge. Die eerste een is vetkoek, kerrie mince vetkoek, en dis nie grand kerrie nie, borrie, uie, kerriepoeier sout en peper is al wat ek kan onthou dat my ma ooit daarin gesit het, en natuurlik word mince altyd gedokter met 'n bietjie worcestersous. Die is nie 'n ding wat jou mooi kan eet nie, want die botter lek by die kant van die vetkoek uit, die mince peul langs die kante uit van oordadigheid, en natuurlik word die ding vet-koek genoem met 'n rede, kolestrol vriendelik is hy nie, maar ons eet hom mons darm nie elke aand nie. Moenie appelkoos konfyt as vetkoek se maat weggooi nie, met chedder kaas, 'n groot lekkerte. En maklik om te maak. Die maklikste resep is om brood deeg by die kaffee te koop, knie die uitgeryste deeg af, breek balletjies af van die deeg, maak dit plat, en braai dit in die olie, oor matige hitte tot goudbruin aan elke kant. As jy flukser is kan jy self brooddeeg aanmaak, maar as jy nie een of ander fensie masjien het om jou te help knie nie, gaan jy maar self moet sweet, of anders kan jy vetkoek mix koop, jy gooi net water by, ek kan nie getuig van hoe dit smaak nie, maar die botprood mix werk heel goed.


Die ander ding is 'n javel, nie 'n snackwich of toasted sandwich nie, 'n regte javel, oor die gasplaat gemaak in 'n javel pan. Die vetkoek se kerrie mince is ook javel se maat, maar jy kan enige ding insit, maar daai javels in die sakkies wat mens deesdae in die winkel te koop kry, daai kan ek nie aanbeveel nie, hoe hulle regkry dat die brood rou smaak weet ek nie, want mens gebruik tog gaar brood on javels van te maak, ek dink die bruin ringetjies op daai javels word opgeprint. Ek en vriend Karl het een vakansie daar op die wal van die Olifantsrivier amper ons vrouens lewendig verloor, oor ons vir drie dae lank wou haas javels hê vir ontbyd en middag ete, verstaan nou nog nie hoekom hulle so kwaad geword het nie, die haas was dêm lekker, en daar was haas oor, maak sin om haas javels te eet.


Nog 'n ding wat my na klein tyd laat verlang is pannekoek, sulke lekker besaar pannekoeke, dik van die kaneel suiker, die suiker en kaneel smelt tot 'n stroop binne in, en jy kan die pannekoek stalletjie uitryk as jy by die besaar of kermis se deur inkom, ek kon nog nooit so pannekoek self bak nie, en nee skoonsus Christa, woolies se pannekoeke smaak nie lekkerder nie, nie eers amper so lekker nie, en dis dit.


Die laaste ding, of soort van 2 ding is brood, die eerste ma se tuisgebakte brood, daai korsie met botter en marmite, ek ruik sommer daai brood waar ek nou hier sit en tik, en die 2de ding is ook brood, maar kafee brood, op my tuisdorp het die bakkery altyd sondag aande warm brood by die kafees afgelewer, omtrent net so by die tyd wat die aanddiens van die kerk klaargemaak het, ek kan sweer die hele dorp het sondag aand aan brood geruik, en die hele dorp was by die kafee om te kom brood koop, 2 brode, een wat vanaand so warm opgeёet gaan word, en dan een vir more se broodjies skool toe, al die winkels het deesdae bakkerye, maar ek kry net nie weer daai sondagaand warm brrodjie van my tuisdorp nie.


Ek weet ek het al laaste ding gesê, maar nou onthou ek nog iets, harders, iets wat ons nie meer baie braai nie, mense mons vol nonsens deesdae oor 'n vis grate het. Maar as jy nog nie 'n vars harder wat oor die kole gebraai is, geёet het nie, dan voel ek jammer vir jou my maat, maar miskien is dit beter dat jy nie het nie, want ander gaan jy jou vrou kwalik neem elke keer as sy jou daai gevriesde hake gee, en ek wil nou nie moeilikheid in jou huis veroorsaak nie.


Ek verlang nou so terug dorp toe, vanaand drink ons nie rooiwyn nie, vanaand is daar net een ding, ons vat 'n Swartland Hanepoot, goudgeel lê hy daar in die glas, en stroopsoet, maar versigtig nou, die ou kan jou seermaak, moreoggend voel dit dalk net of iemand jou met die bottel oor die kop geslaan het. Vir ingeval julle gewonder het, ja dit moet Swartland Hanepoot wees,daar uit Malmesbury, want dis daar waar die warm brood op 'n sondag aand gebeur het.


Ek wonder of daar nog warm brood by die kafee afgelewer word sondag aande, is daar iemand wat kan help?


Ns. 1) Mince word ook soms maalvleis genoem, maar my ma het mince gebreik.


2) Vetkoek en potbrood mix is mix, nie mengsel nie, dis iets anders.


3) Javel is javel, as dit nie afrikaans is nie, dan het hy nie 'n afrikaanse naam nie.




Swartland wynkelder maak heelwat meer as net hanepoot, gaan kyk self by http://www.swwines.co.za/.




Lekker eet


Potjie.

Tuesday, May 5, 2009

Dit is Kersfees, in Mei

Almal van ons is seker al 'n paar keer in ons lewe gevra, "dink jy dit is kersfees?". Die sê ding, is blykbaar bietjie uitgebry deur die tieners van vandag, en waneer iets lekker is, word dit bloot, "dit is kersfees", en alhoewel dit seker sin maak was ek bietjie confuse toe skoonsus Dalene se tiener dogter Jana-Mari sondag aankondig "dit is kersfees", nie dat sy ver verkeerd was nie, want die kos wat daar voorgesit was, sou kersfees trots laat voel het. Almal moes iets bring, en vae riglyne is gegee, jy doen vleis, of hoender of groente ens.

So tydjie terug het ek gesê dat ek al gehoor het van Marieta se Durbs kerrie, maar nog nooit geproe het nie, sondag was dit sulke tyd, my skoon oorhoeks geёet. Sus Francis het hoenderpastei gemaak, en Crista sal moet ligloop as sy die hoender pastei koninging wil bly. Dalene het beef olives en gebraaide aartappels gedoen, en skaapboud en iemand het 'n gegeurde rys gedoen, Christa se befaamde pampoentert was daar, en ons het vark vrikkadelle met kersie tamaties en origanum, en bees vrikkadelle met tamatie en roosmaryn gebring, en om nie uitgesluit te voel nie het Marius wors gebraai. Daar mag nog kos gewees het, want dit was te veel om te onthou, wat nog van opeet, maar ons het probeer, glo my. Al die kos was uit die boeke, maar skoonsus Marieta het my met soveel passie vertel oor hoe sy die kerrie laat gebeur dat vandag aan haar opgedra word.

Skoonsus Marieta het my verduidelik dat die kerrie soos volg aanmekaar gesit moet word, en ek hoop ek onthou nou reg. Twee groot uie geskil en in ringe gesny word in die olie gebraai, dan word skaapskenkels saam met die uie gebraai, dan die speserye, koljander ,lourier blare, sout, casia, sterk Rajah kerrie poeier, borrie, 'n paar skeppe knoffel en gemmer mengsel. Die speserye word alles by die vleis gevoeg, en verder gebraai, as alles lekker gemeng het, dan gooi jy 5 groot tamaties wat fyn gekap is by, die gaan die sous maak, geen water word bygevoeg nie, die hitte word verminder sodat die pot net prut. As die vleis so ¾ reg is, word aartappels bygevoeg, en as die aartappels ½ reg is, dan word koljander blare bo-op gesit, en dan wag jy tot die aartappels sag is, sit die pot af, en laat dit ten minste 15 minute rus, langer is nog beter, as jy kan uithou kan jy vir more ook wag, maar ek twyfel of jy soveel selfbeheersing gaan he. Om die salsa te maak wat by die gaan, kap jy uie en tamaties fyn, met 'n bietjie cillies by, en rasper wortels daarby. Ek sit nie hoeveelhede by die speserye nie, want ek weet nie hoe sterk jy van jou kerrie hou nie, begin met 2-3 teelepels kerrie poeier en proe as die sousie begin vorm, jy kan bysit, maar wegvat is iewat van 'n probleem. O Ja, Marieta se jy mag nie tamatie puree gebruik nie, net vars tamaties, as jy ander goed begin bysit dan gaan jy na Kaapse kerrie toe, die hierbo is Durbs se kerrie, soos sy dit daar leer kook het.

Vir my maatjies daar in die buiteland wat nie meer kan onthou wat koljander (coriander in engels) is nie, hulle mag dit dalk dhania of cilantro noem daar by julle.

Hier in die Kaap kook ons dit bietjie anders, appelkoos konfyt kry ook 'n lê plekkie in die pot, en baie van ons is lief om kokonut melk in te sit, maar dis maar Thai's ek dink, en by die kerrie sit ons kokonut en piesang voor, maar ons sal 'n ander dag by daai resep gaan kuier, skoonsus Dalene kan dalk help, ek weet sy kan.

Lekker eet

Potjie.

Monday, May 4, 2009

Die laaste maal



Hoeveel maal is daar al vir jou gevra "Wat is jou gunsteling gereg ?", en ek is seker jy het met iets voorendag gekom, miskien iets eksoties, miskien 'n gereg wat jy nog net een keer gehad het, op 'n spesiale plek, saam met spesiale mense, of dalk is jou gunsteling gereg iets wat jy gereeld eet, miskien iets eenvoudigs, 'n gebraaide tjoppie, nie dat dit meer 'n eenvoudige prys het nie.


Ek dink nie ek kan regtig 'n antwoord gee op wat my gunsteling gereg is nie, spesiale etes was daar al baie, 2 van dit was haas, en ek het beide gekook, dieselfde resep(daai een uit die Franse boek), verskillende mense. Die eerste keer was in 'n klein dorpie in die Var region van Provance in Frankryk, saam met my sus Hanellie en swaer Gidius (wat ook so goedgunstig was om my 2 vliegtuig kaartjies te stuur om daar uit te kom, dankie weer eens), twee vriende van hulle van Kanada, Greg en Andrea, en dan ek en nog een, ons los liewer die detail van die nog een vir nou. Die dorpie se naam is Lorgues, en ons het in die laaste straat bo op die bult, net voor die begin van 'n woud gewoon. Vir die van julle wat nie weet hoe dit daar werk nie, dis hoe dit werk. Elke dorpie het 'n markdag, ek dink ons s'n was dinsdag, maar ons was elke dag op 'n dorp met 'n mark, daarvan het ek en sus seker gemaak. Op markdag kom die butcher, en die meubelhandelaar, en die kaas ou, en die groente smous, en die spesery handelaar, en kosmakers en almal wat iets het om te verkoop, die dorp se centre word gesluit, en hier word mark gehou want tot volgende dinsdag is daar net 'n Petit Supermark, omtrent so groot soos 'n halwe moterhuis en 'n bakkery en 'n paar koffie shops en 'n bar in die dorpie. Nou moenie dink jy koop brood of sigarette by die supermark nie, nee my maat, hier werk dinge anders, jy koop brood en dies meer by die bakkery, en sigarette by die Tabaconist, en wyn, dit koop jy orals, net nie by die man met die plastiek kannetjies op die mark nie.


By die supermark koop jy rosé vir rondom 2€, so R20.00 daai tyd, en heerlik man, dis mons rosé wêreld die, rooiwyn nie baie duurder nie, behalwe by die chateau, daar betaal jy serious money vir wyn, maar die supermark was goed vir ons, en selfs 'n paar by die chateau gekoop. By die wors man koop jy sulke klein salami's 3 of 4 vir 10€, gemaak van wilde vark (wild boar) donkie en allerande ander gediertes, moenie dat die donkie jou afsit nie, dis heerlik.


So wat ons gedoen het, was om kos op die mark te koop, en een keer wyn in 'n plastiek kan, opgestok met wyn, 'n paar glase wyn gedrink en 'n broodjie ge eet in die dorpie, dan gaan chill by die huis met 'n bottel of 6 rosé, en dan begin die kook, en so tussendeur kyk ons in die snaakse Franse kookboek wat lekker lyk, en kyk more of ons dit op die mark kan raakloop. Nou hoe kan kos gedeel met great mense in so omgewing nie lekker wees nie, ja ok ek weet daar was die duif, maar selfs daai aand het ons baie lekker gekuier. Erens deur die loop van die aand se kook, wissel ons na rooiwyn, en as alles regtig op is, en slaap is nog nie 'n opsie nie, dan knyp jy Greg se neus met 'n wasgoed pennetjie toe, sodat hy nie kan ruik die wyn in die plastiek kannetjie ruik na niks, en dan skink ons maar van die kannetjie, maar regtig, probeer maar om genoeg wyn in die huis te hê, sodat dit nie nodig is nie.


Die tweede keer was ver van Frankryk af, op die wal van die Olifantsrivier, saam met my vriend Karl en vrou Louisa, en die se kinders, asook Anthony en sy vrou en kinders, en ek en vroulief. In die no 14 swarboompot is die haas geplaas, saam met al sy bestandele, van die lekkerste wyne, vooraf gegaan deur foia gras in so glas potjie, saam gepiekel van Frankryk af, ek het daar die lekkerste Shiraz gedrink, wat vroulief present gekry het, maar nêrens kon ek dit weer vind nie, en nou ook al die naam vergeet, om die grootsheid van die oomblik te behou, moes ons wel skelmpies die bottel rooiwyn wat Anthony oopgemaak het uit gooi, want dit het my amper laat verlang na daai plastiek kannetjie.


Ek het alweer haas gekook, en dit was lekker, maar dis net nie dieselfde as in die boonste twee gevalle nie, die plek, die mense en die oomblik moet reg wees, dis soos kos geniet moet word, want soos hulle se, jy kan goeie wyn saam met slegte geselskap drink, maar nie slegte wyn met goeie geselskap nie.


Maak dit nou dat haas my gunsteling gereg is, as ek weet vanaand is my laaste maaltyd, sal dit haas wees? Nee, die mense in die stories hierbo sal daar wees ja, ander ook, my skoonfamilie wat al lankal my eie familie geword het, my ander sus en swaer van Namibia, en ander vriende sal daar wees, maar my laaste ete sal eenvoudig Suid Afrikaans wees. Galjoen op die kole gebraai, net sout en swartpeper, en 'n braaibroodjie, slaai sal daar nie wees nie, pap ook nie, maar vet galjoene met koppe aan,van die rugkant af oopgevlek, die vet wat so drup op die kole, en die see moet ek kan ruik en hoor, en die gelag van my vriende en familie. Watter wyn sal ons drink? Ons is nou besig on Suid Afrika se nasionale vis te eet, so kom ons bly by iets uniek Suid Afrikaans, pinotage dan, en wie se pinotage sal dit wees, en nou wil ek nie te kenne gee die is die beste pinotage nie,ek weet te min van wyn, maar Beyerskloof sal dit wees, hy is mons darm meneer pinotage is hy nie? Dis in elk geval my paartjie en ek besluit.


Nou het ek my self so lus vir galjoen geskryf dat ek nie my lag kan hou nie, en ek kan nie eers onthou wanneer laas ek 'n galjoen gesien het nie, wat nog van geёet het nie, gelukkig is die Beyerskloof makliker om in die hande te kry.


Om te sien wat hulle alles aanvang op Beyerskloof gaan na http://www.beyerskloof.co.za/ jy kan sommer inskryf as 'n pinotage partner met allerande voordeele. As jy nou baie lus is vir haas en jy kry nerens een nie, en jy woon in die Kaap, email Wilna by die Wild Peacock (food@wildpeacock.co.za) en miskien kan sy jou help, sy het my al gehelp met haas en kwartels en allerande goeters, hulle verskaf eintlik restaurante en deli's maar het my nog altyd probeer help. Hulle het ongelukkig nie 'n website wat ek van weet nie.


Lekker eet en drink.


Potjie